Om lig te reis

Daardie prentjie is nog baie helder in my kop. Die een van ‘n standerd sessie wat op ‘n bus klim in die Kaap vir die lang reis terug Oshakati toe. Dis nou ek, met my klein tassie waarin alles gepak is vir 2 weke skoolvakansie. Ek was van kleins af behep met “lig reis”. Wou alles in my sak kan dra. Verbeel jou my innerlike konsternasie wanneer my goedbedoelende ouma vorendag kom met ‘n kissie Kaapse druiwe vir die mense doer ver in die noorde. ‘n Mens moet polite wees met jou “ouma in loco parentis”. En die mense by die huis mis al die lekkernye van die Boland. En tog. Die verantwoordelikheid in ‘n woeste siedende warm skoolbus, ‘n 24 uur reis tot in Windhoek, dan nog 800 km verder tot in Owamboland. Die verantwoordelikheid tog. Dalk is dit die rede.

Of was dit boeke geskryf deur PJ Schoeman en sy tydgenote, oor seuns wat in ossewaens gaan kamp het, wat alles met hulle saamgeneem het vir ‘n jagtog, en gelewe het van dit wat hulle kon kry langs die pad. Of boeke oor Boesmans wat met pyl-en-boog en veldkennis in die Kalahari oorleef. Selfgenoegsaam. Onafhanklik.

Miskien het die idee van vry wees iets daarmee te doen. Om te kan reis met net die nodigste om mee klaar te kom. Om voorbereid te wees op enige gebeurlikhede, maar nie swaar te dra nie. Dan is dit dalk hoekom staptoere in wildernisgebiede soos die Sederberge of die Visrivier Canyon vir my as kind so aantreklik was. Dis hoekom ons twee in die vroeë 90s Europa kom verken het met slegs ‘n rugsak elk. Daardie wete dat jy op enige vervoermiddel kan klim, of selfs stap as dit moet, en jy’t alles byderhand om groot avonture te beleef. En hoekom ons met die kleinste moontlike campervan Europa platgery het later jare.

Dan skop die lewe in en die bagasie begin ophoop. Fisies – gaan kyk maar in my stoorkamers, en solder, en al die moontlike kaste waar jy aan kan dink. Orals waar jy ‘n deur of ‘n luik oopruk sit die bewyse van oënskynlike mislukking. Die goeters wat jou pootjie en terughou in die lewe. Tekens miskien ook van geestelike bagasie wat ‘n mens maar onwillekeurig optel in die proses.

Ek geniet dit nog steeds om ‘n Easyjet vlug te boek na ‘n jaarlikse Europese konferensie, en met slegs ‘n klein rugsakkie op die vliegtuig te klim, waarin alles is wat mens nodig het vir 5 dae, insluitende ‘n tuxedo.

En net so oor ‘n week terug lyk dit of die winter net so effentjies terugstaan en ‘n snuifie van ‘n lentebriesie deurlaat. Toe my goeie vriend Andrew my bel om te vra of ek wil uitkamp hoef hy nie twee keer te nooi nie. Hy is nog ‘n voorbeeld van iemand wat lig reis. Met sy motorfiets ry hy Europa plat vir weke op ‘n slag. In daardie enkele kissie agterop is alles wat hy nodig het.

Laataand in Februarie sit ons iewers in die Sussex heuwels om ‘n vuur. Andrew lees voor uit ‘n boek getiteld “A Shed Of One’s Own: Midlife Without the Crisis”, deur Marcus Berkmann.

‘n Skreeusnaakse boek eintlik, wat ‘n mens se soeke na onafhanklikheid so raak beskrywe. Ek vermoed elke man wat hier lees sal verstaan hoekom daar so ‘n intense behoefte in ‘n mens is om iewers ‘n plekkie van jou eie te hê, ‘n spreekwoordelike, of selfs fisiese buitekamertjie / wendyhouse / shed waar jy die botoon voer, en niemand toegelaat word sonder om die korrekte wagwoord te uiter nie. Ek vermoed meeste vroue sal saam met mev Gidi hard probeer om hierdie obsessie te begryp, en dit selfs regkry, maar ek twyfel of daar baie is wat heelhartig daarmee sal wil saamstem. Maar die allerlaaste ding wat ek hier wil doen is om ‘n debat te begin tussen XX en XY. Ek wonder maar net.

Nou moet jy my reg verstaan. Ek is nie ‘n kluisenaar nie. Die idee om op reis te gaan is fantasties, maar selfs in die vreemdste plekke soek ek altyd na kontak, al is dit hoé oppervlakkig, met my medemens. Maar as jy in my rugsak krap, kry jy heel moontlik die nuutste model afgesnyde tandeborsel.

Nou lyk dit my die (vroeë) middeljarigheid het niks gedoen om die obsessie van my jeug te temper nie.