Nog ‘n tandemuis storie

Ek vang bietjie op met die blogs en kom toe af op Izak en KaprĂȘ se tandmuis stories.

My kinders is nou bietjie groter, maar toe hulle nog tande gewissel het moes ons ook net bontstaan met die geldjies onder die kussing. Een oggend moes ek toe bieg dat die tandemuis nie gisteraand sy draaie gekry het nie en nie die tand kom haal het nie. So ewe vra die kinders toe hoekom ek van die tandemuis praat terwyl hulle maatjies se tandjies deur die tooth fairy gehaal word. So ‘n vraag moes ek seker verwag het, maar was nietemin ‘n bietjie uitgevang. Die beste verklaring waarmee ek in die skielikgeid vorendag kon kom was dat die tooth fairy helpers nodig het om haar kasteel van tandjies te bou, en dat sy die “franchise” vir Afrikaanse kinders se tandjies vir die tandmuis gegee het. Nou ja, my twee is nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie en dit was nie lank voor hulle die waarheid uitgevind het nie.

‘n Rukkie later wil hulle my dringend spreek. Dis baie ernstig. Hulle wil net hoor of Kersvader regtig bestaan…

Advertisements