Anderkant Cuito

Ek het die grensoorlog vrygespring. As ‘n 10-jarige kind was ek darem so ‘n paar kilometer oor die grens van Angola tot in Santa Clara. Ons het einde 1975 Oshakati toe getrek, en ek het daar op die skoolbanke gesit in standerd 5. Daarna is ek kosskool toe in die Boland vir my hoërskooljare. My pa was eers vise-hoof en later hoof by Eluva skool vir blindes en dowes naby Ondangwa. Mettertyd moes hulle ook die deure oopmaak vir kinders met liggaamlike gestremdhede. Dis was oor die algemeen nie weens polio of serebrale gestremdhede nie, maar amputees veroorsaak deur teen-personeelmyne; slagoffers van die grensoorlog.

Die kanonne het geraas in Oshakati, maar dit was vir ons kinders ‘n avontuur.

Van my skoolmaats is na matriek grens toe. ‘n Groot klomp van julle wat hier lees was op die grens of in Angola. Party van ons maats is oorlede of gewond. Ek het diensplig uitgestel om veeartsenykunde te gaan studeer en toe ons uiteindelik in Junie 1988 opgeroep is Potchefstoom toe om by die SA Geneeskundige Dienste aan te sluit was die grensoorlog in sy finale fase. Op daardie stadium het ek nie geweet van Cuito Cuanavale nie. Ons is meestal uitgestuur om siviele poste te vul, en so het ek op Mmabatho beland by die Unibo School of Agriculture. Toe ons uitklaar in Mei 1990 is ek Engeland toe.

Hier en daar kom ek tydgenote teë wat in Angola geveg het. Dit is vir hulle moeilik om daaroor te praat.

Intussen word dit Augustus 2011, en ek gaan Suid-Afrika toe om op my spore terug te loop. Ons hou ‘n klasreünie op Malmesbury en ek doen sommer by ‘n klomp ander plekke aan wat vormend in my lewe was, praat met ‘n paar mense wat nou betrokke was by die grensoorlog. En so heeltemal terloops gee my suster my ‘n boek oor die grensoorlog: “Anderkant Cuito” deur LJ Bothma. Ek het die boek op die vliegtuig begin lees en so pas voltooi.

Dis die eerste boek wat ek lees oor gebeure in Angola tydens die oorlog waar soveel van my tydgenote betrokke was:

‘n Groepie oudsoldate gaan op ‘n toer om sommige van die plekke te besoek waar hulle tydens die Grensoorlog gedien het.

Soos hulle terugstap op hulle spore soek hulle die waarheid, reik hulle uit na eermalige vyande, en konfronteer hulle eie nagmerries en spoke. ‘n Baie interessante konteks word ook aan hierdie reisverhaal gegee. Die skrywer gaan haal naamlik die geskiedenis sover terug as die Dorslandtrekkers, die Boereoorlog en die Rebellie van 1914. Hy bespreek die moord op die Owambo-koning, Mandume ya Ndemufayo deur Suid-Afrikaanse magte tydens die Eerste Wêreldoorlog, en verduidelik hoekom ons pogings om die steun van die plaaslike bevolking te wen so onsuksesvol was.

Die reisigers ry vanaf De Wildt in Suid-Afrika via Botswana tot by Windhoek, dan noordwaarts tot in Angola. Die verste doelwit is die brug by Cuito, en ek haal aan vanaf die agterblad: “Die reis lei na die veelbesproke Cuito Cuanavale: Wie het gewen? Anders as destyds, word die brug by Cuito hierdie keer oorgesteek. Anderkant Cuito is waarheid, bevryding en verligting. Maar die pad lê gesaai met wrakke en geraamtes…”

Aan die een kant is dit ‘n baie persoonlike reisverhaal, wat veral van waarde gaan wees vir oudsoldate van bogenoemde en in ‘n sekere sin ook ander militêre konflikte. Maar wat het dit te doen met iemand soos ek, wat dalk al op van hierdie plekke was, maar nooit by die oorlog betrokke was nie? Ek verstaan te minste nog die militêre spreektaal en slang, want ek het daarmee grootgeword, maar wat van vandag se kinders wat nooit diensplig gedoen het nie?

Tog kom ek tot die gevolgtrekking dat hierdie boek geskryf is vir almal. Dit is moontlik om die vertelling en redenasie te volg sonder om elke detail te begryp. Daar word dikwels na gebeure en persone verwys waarvan ek geen kennis dra nie, maar die boodskap kom steeds sterk deur. Die boek is goed nagevors, en dit is duidelik dat die skrywer te midde van sy baie persoonlike betrokkenheid by sommige van die gebeure steeds daarin slaag om objektief na die feite te kyk.

Baie mense het in hierdie konflik gesterf, insluitende lede van die plaaslike bevolking. Daar sterf nog steeds onskuldige mense in Suid-Angola vandag weens landmyne wat in daardie jare daar geplaas is. Behalwe die vraag oor wie nou eintlik gewen het by Cuito Cuanavale is daar ook die baie meer universele vraag: wat is die sin van oorlog?

Vir ‘n meer onbetrokke leser soos ek self, wat nooit in die oorlog geveg het nie, en wat reeds sedert daardie tyd in die buiteland woon is hierdie boek steeds die moeite werd om te lees.

Advertisements

Trekswael

Iemand vra my vandag watse soort shapeshifter ek sou wou wees as dit moontlik was. Toe dag ek seker maar ‘n trekswael. Dan kan ek oorvlieg en kom MOB net wanneer ek wil. Nou die shapeshifting opsie sal seker nie sommer in die volgende paar weke al beskikbaar wees nie, en tog bly ek ronddwaal op hierdie ding.

Maar eers, ja ons het ge-MOB dat die biesies bewe. Dankie mense, julle is puik. ‘n Mens weet nie in die begin altyd hoekom jy begin blog nie, maar as jy dae soos vandag ervaar dan WEET jy.

Ek was een keer amper soos ‘n regte trekswael, al agter die son aan. Somer van 1990 suidelike halfrond, somer van 1990 noordelike halfrond, somer van 1991 suidelike halfrond, gevolg deur somer van 1991 noordelike halfrond, en toe word my vlerkies vir eers geknip en ek belande in WINTER van 1991 noordelike halfrond. Die Engelse het ‘n manier om jou jas of baadjie by die deur te vat as jy kom kuier, dan hang hulle dit daar aan ‘n haak. “No thanks, I’ll keep my coat on, AND the duck down ski jacket, if it’s all the same to you.” Ja ons het gevrek van die koue en ons Engelse gashere het seker maar gedink ons kuier nie lekker nie, want dis die subtiele boodskap (wat ek eers later uitgevind het) as jy nie jou jas wil uittrek nie.

Lyk my die TOB (tour of bloggers!) het darem die somer ingelui hier in die suidelike halfrond, en ek hoop die lekker warm weer bly by julle as ek Dinsdag weer op die vliegtuig klim.

My laaste besoek aan SA was so net oor die 3 jaar gelede, en dit was ook my kennismaking met die blogs. Tydens daardie eerste tentatiewe paar maande het ek onder andere probeer uitwerk hoe ek eintlik veronderstel is om te dink oor my eertydse land Suid-Afrika, en nadat ek tydens die huidige toer gereeld dieselfde vraag gevra is vind ek toe weer die stukkie wat ek geskryf het oor die Tsamma.

http://blogs.litnet.co.za/vetweet/tsamma

Ek voel sterker as ooit daaroor: ek is ‘n trekswael: ek koek graag saam met voëls van eenderse vere, ek soek die son, wil nie eintlik te lank in donker plekke bly nie.

En ek het, soos die aarbeiplant, al wyd en syd gerank, en wortels neergesit wat jy nie sommer gaan uittrek nie.

Vrede.

Nou kan ek weer pedanties my sê sê.

Ek het gesukkel met Windows 7 om die kappies en deeltekens reg te tik.

Nou werk dit weer nadat ek ‘n nuwer weergawe van AllChars geïnstalleer het.

As ek nou maar net die vermoë gehad het om die nuutgevonde vaardigheid meer spitsvondig aan te wend.

Wôt jy wô kry?

Pê!

http://sourceforge.net/projects/allchars/

http://allchars.zwolnet.com/

Hier word ingepak

Paspoorte 

Kamera

Wintersklere – o ja, ek hoor dit het weer gesneeu op plekke. Sal maar ekstra wintersklere gaan uitgrawe. 

Hier en daar ‘n ietsie vir die familie; wat gee jy vir iemand in die land van melk en heuning? Ek kan nie ‘n by of ‘n koei in my soetkysie inpas nie.

Vandag amptelik klaar gewerk, so nou is ek met vakansie. Natuurlik nie regtig nie, daar is nog administrasie, frustrasie en lokum-akkomodasie om uit te sorteer, o ja, pak die purgasie, vir die wis en onwis.

Gisteraand “Lethal Weapon 2” gekyk. Die skurke in hierdie aflewering was Suid-Afrikaners uit die apartheidsdae wat agter diplomatiese immuniteit wegkruip en allerhande kriminele dinge doen. Die snaaksste van die storie is akteurs wat probeer om die Suid-Afrikaanse aksent na te maak. 

Suid-Afrikaanse kragproppe vir die menigte elektriese items wat deesdae saam reis. ‘n Hele kraaines vol kabeltjies.

Jip, hier pak ons. Sien julle oor ‘n paar dae!