Dalk te veel hoender?

Einde van ‘n tawwe week kom ek netnou tuis en is baie bly om te sien Mevrou Gidi het ‘n skaapboudjie met braaiartappels gaargemaak vir aandete, wat te lekker afgegaan het met ‘n botteltjie Carling (onthou net 99 kalorieë!).

Maar snaaks, daar was horseradish sauce by, want sy’t gedink sy haal ‘n varkboudjie uit die vrieskas wat toe vir haar meer en meer na ‘n stukkie beesvleis begin lyk soos dit gaar word,  tot ek haar moes oortuig dis eintlik skaapvleis maar toemaar ek mind nie die sous nie. Is in elk geval nie mal oor mint sauce nie.

Wat nou maar net eenmaal bewys is daarvan dat ons heeltemal te veel hoender eet in hierdie land.

En dalk sal dit help om weer te begin “SKAAP BOUR” en “HIBBETJIE” op pakkies vleis te skryf voor ons dit vries, soos my ma altyd gemaak het.

Maar eish daardie stukkie vleis was lekker vanaand. Wat dit ookal was.