Makietie 2

23:00, Ligte af.

02:30, Bedlampie aan. Koppie tee. Kan nie slaap nie. Dan daardie newelstaat tussen slaap en wakker. 

04:45, Wekker. Dankbaarheid dat ek nie meer hoef te probeer slaap nie. Stort.

05:30, Op pad Southampton toe.

06:15, Koffie saam met twee kollegas. Dan val ons in die pad Telford toe.

 

Die konferensie find plaas naby Ironbridge, ‘n geskiedkundige dorpie waar die wereld se eerste brug van staal gebou is. Hier is die wiki artikel: http://en.wikipedia.org/wiki/The_Iron_Bridge

Ongelukkig is daar in die loop van die konferensie nie tyd om dit te gaan sien nie. Dalk ‘n ander keer.

 

Die Vrydag is volgepak met interessante lesings (vir my in elk geval: Hipertiroidisme en diabetes mellitus in katte, wurms in die algemeen, en laboratoriumtegnieke.)

Daar is sommer baie van my vriende die aand teenwoordig, en ‘n paar van ons gaan eet saam in die restaurant.

 

Die Saterdag begin die eintlike konferensie en ons moet almal blou polohemde aantrek. Nie my gunsteling nie. In elk geval is die dag weer besig met werkswinkels in kleiner groepe, en ‘n tipiese spanbouspeletjie – bou die hoogste toring moontlik met koerante in 10 minute. Pret – vir sommige…

Laatmiddag word ons met ons blou hempies afgeneem, en ‘n uur later met ons pikkewynaandpakke. Dis deesdae nie aldag dat jy die geleentheid kry om “op te dress” nie. Daarom is dit nogal spesiaal as jy dit ‘n slag kan doen. Dis nou seker die makietie waarvan almal wil weet. Ja die kos was lekker. En toe kom die casinotafels uit en ons moet in spanne deelneem. Gelukkig net met speelgeld. Hierdie gidivetter weet nie van casinos af nie, maar met beginners luck verdriedubbel ek my geld by die roulette tafel. Ons tafel het nie gewen nie, maar die prys was ‘n paar bottels sjampanje, nie behoorlik verkoel nie, nie ‘n groot verlies nie. Tot laatnag/vroegoggend word daar nog lekker gekuier – ek dink dit was so 1-uur wat ek nie meer kon wakkerbly nie. Die groep kollegas kom natuurlik uit baie werelddele. Die Suid-Afrikaners is goed verteenwoordig, maar die Spanjaarde, Duitsers, ens. staan nie terug nie, en deesdae is daar darem ook redelik baie Engelse.

 

Na ontbyt die volgende oggend nog net ‘n paar vinnige sessies en relings om te tref. Dan val ons weer in die pad terug huis toe. Net so lekker as wat dit is om op reis te gaan, net so lekker om weer terug te wees by die huis. Maar terug by die werk die volgende oggend is die makietie baie vinnig net ‘n hersenskim iewers in die verlede.

 

Dis nou vir die wat wou geweet het.

 

 

Party pogings het beter uitgewerk as anders. Ek sal maar nie se by watter tafel ek gesit het nie.