Die dag toe die Olimpiese vlam naby my huis verby gekom het.

 

Eish, tipiese Britse weer, die kinders het ure gewag vir die vlam om verby te kom.

 ‘n Vlietende sekonde, en alles is verby.

 

 Mad dogs and Englishmen…

Advertisements

Ibuprofen en honde

Net ‘n vinnige inskrywing oor Ibuprofen. Ek gryp net gou die megafoon, indien dit dalk ‘n hond of kat iewers kan help.

Indien jou dier in pyn is wil ‘n mens natuurlik help. En ek weet die meeste mense het dalk al hierdie ene gehoor. Maar mens moet die boodskap uitkry, net ingeval dit jou, of dalk ‘n vriend van jou, ontglip het:

Moet asseblief nie menslike pynstillers vir diere gee nie sonder professionele advies van jou veearts nie. Daar is baie beter en veiliger middels wat spesifiek vir diere geregistreer is.

Gaan lees hier oor die 10 mees algemene navrae by die Britse Veterinary Poisons Information Service:

http://www.vpisuk.co.uk/portal/CommonPoisons/tabid/119/Default.aspx

1) NSAIDS (non-steroidal, anti-inflammatory, analgesic drug)

These most commonly include ibuprofen, diclofenac and carprofen. NSAIDS are commonly available in the UK as an “over-the counter” medication used for pain management. Ibuprofen is particularly poisonous to dogs and can cause vomiting, diarrhoea, gastric ulceration and kidney failure. Approximately 11,502 VPIS enquiries to date*.

Daar is ‘n hele paar ander interessante, maar ook dodelike goed wat ‘n mens nie vir ‘n dier moet gee nie.

Ek neem aan die meeste van ons weet om nie sjokolade vir ‘n hond te gee nie, maar weet jy dat lelies jou kat kan doodmaak, of rosyntjies jou hond?

Hier sit ek nou weer die megafoon neer, dis tyd om by die werk uit te kom.

Groete

Die gróót knyp

Jan Twak se storie “Eersteplek vir ‘n natuurroep”  laat my nou weer terugdink aan my eerste skoolvakansie in standerd 6. Ons praat nou van die laat sewentigerjare. My ouers sit op Oshakati, en ek is in die koshuis op Malmesbury in die Kaap. My pa, in sy wysheid, besluit toe ek moet sommer die skoolbus vat uit die Paarl tot in Windhoek, dan sal hy my daar kom haal dat ons die laaste ent tot in Oshakati kan saam ry. Om die waarheid te sê ek sukkel om detail van daardie busrit te onthou, heel moontlik omdat my onderbewussyn die ervaring nie lekker kan verwerk nie en dit eerder onder ‘n klomp stowwerige planke in die kelder wil wegsteek.

Nietemin, Jan het my aangespoor en ek sal probeer om dit daar onder die planke uit te sleep.

Volgens Google Maps is die Paarl en Oshakati 2161 km uit mekaar, die busrit uit die Paarl tot in Windhoek 1445 km, en daarvandaan nog ‘n goeie stootjie van so 715 km tot in Oshakati. So ‘n dag of wat voor die skole sou sluit word ek uit die hok losgelaat om solank by die huis uit te kom. Dis nou sodat ek saam met die ander kinders die eintlike vakansie kan begin. Dus, hier laatmiddag trek ons weg by Hoërskool Gimnasium. My ouma is byderhand met ‘n kassie druiwe wat ek kwansuis moet saamvat. Ek onthou met die opryslag Windhoek toe het ek voor in die bus plekgekry. Dit was warm. En daar was nie ‘n toilet nie. Die bus ry stadig. Hy stop net twee keer al die pad tot in Windhoek. Eers op Vanrhynsdorp. Dan weer in Keetmans. Die busbestuurder het net een tape wat hy al die pad speel, deur die nag, oor en oor. Abba. Ek kan nou nog nie na Abba luister sonder om daardie typie so oor die enjin se gebulder in die pikdonker te hoor uiblêr nie: “There was something in the air that night The stars were bright, Fernandoooo…”, en veral “…Every hour every minute seemed to last eternally…”

En tog, miskien het die opgewondenheid om na ‘n hele paar maande vir die eerste keer huis toe te gaan gehelp. Want ek onthou nie die groot knyp nie. So al die pad met Fernando saam kom ons toe darem uiteindelik in Windhoek aan. My pa is daar met sy bakkie en ons ry. Ek dink ons het iewers gestop vir middagete, dalk was dit Otjiwarongo. Maar ek onthou sonder enige twyfel dit was Wiener Schnitzel. En heerlik daarby. Dit het ‘n groot indruk gemaak, hierdie ver pad alleen saam met my pa. Kopstukke gesels.

Van die vakansie onthou ek ook nie veel nie, en kort voorlank is dit tyd om die lang pad terug te vat. Ons is in Windhoek vir ‘n byeenkoms van die Suid-Afrikaanse Raad vir Blindes. Ek was so opgewonde om vir William Rowland te ontmoet. Ek vra hom toe ook terstond vir sy handtekening, en daar haal hy sy els uit en skryf sy naam in Braille.

⠠⠺⠊⠇⠇⠊⠁⠍ ⠠⠗⠪⠇⠯

Maar aan alle goeie dinge kom ‘n einde. Die busse vertrek. Ja daar was twee. Hierdie keer is ek toe sommer vroeg al daar en gaan sit heelwat verder agtertoe. Tussen die groot kinders. Alles goed tot in Keetmanshoop. Dis toe al goed donker toe die twee busse daar insleep. Ons gaan gou in die kafee in terwyl ons bus se tenk volgemaak word. Maar die draailopery is nie ‘n grap nie. Daar is lang rye, selfs by die “gents”. Dis met groot verligting wat ek so in die halfdonker terugklim in die bus en sommer bietjie op die sitplek gaan lê. Kort voor lank begin die ander kinders inklim en ek begin lont ruik. Die bus start op en ek besef hier is fout: dis die verkeerde bus. Terwyl ons in die kafee was het die busse by die pomp omgeruil. Jy moes my sien suiker van die een bus na die ander, ook net betyds voor hy wegtrek. Dan probeer ‘n mens mos so nonchalant as moontlik drentel tot by jou sitplek, terwyl jou hart uit jou borskas probeer spring.

En die pad tot in Vanrhynsdorp is ver. En deur die nag druis “Fernando” al weer. Hier toe ons oor die Oranjerivier ry is die knypery al erg. Jy weet mos. Party van die groot kinders ken van in bottels piepie. Het ek al gesê daar’s nie ‘n toilet op hierdie ou skoolbusse nie. Hierdie skaam standerd sessie sal mos nooit in gemengde geselskap in ‘n bottel piepie nie. Forget it. Al is dit donker. So knyp en knyp dit deur tot uiteindelik in Vanryhnsdorp.

Weer ‘n lang ry by die toilette, in rangorde, die kleinstes kom laaste. Wat ‘n verligting. Dan……niks……stage fright……al die knyp het die kraantjies toegedraai. Jip.

Nou jare later kan ek net die pyn onthou, die verligting gemeng met die konsternasie.

So het ons uiteindelik in die Paarl aangekom. Maar dit was die laaste busrit. Van die volgende vakansie af het ons maar gevlieg. Hiervan vertel ek later.

Hoe ek my blog-opskrif gemaak het.

Party van ons is al ‘n ruk op WordPress en vir diesulkes sal hierdie ou nuus wees. Vir die ander van ons agterosse wat nou eers hier insleep mag dit dalk help om bietjie raad uit te ruil. Ek het byvoorbeeld ‘n maklike manier gekry om my opskrif foto (“custom header”) op te laai. ‘n Mens gaan na jou paneelbord / Appearance / opskrif. Dan “choose an image from your computer” / browse / oplaai.

Vir baie is dit genoeg. Jy kies jou foto, en die webwerf sal jou help om die foto daar reg te sny (crop) tot hy pas.

In my geval was dit makliker om eers die foto te sny dat hy presies die regte vorm is voor hy opgelaai word.

In Picasa, kies ‘n foto, daarvandaan onder die “spannertjie” kies “crop photo”, dan “add custom aspect ratio”. In die blokkies sit jy 1250 en 133, en gee die nuwe raampie ‘n naampie. Myne heet “WordPress Header”.

Nou is dit baie maklik om die foto net reg te sny en dan op te laai.

Ek hoop dit help iemand.

Groetnis.

Is hier marsmannetjies?

Hier geland en dit voel bietjie soos Mars. Ek moet sê, ek’s nogal opgewonde om hier te wees. Ek sien ‘n paar ander ruimtereisigers se skippies staan ook hier rond geparkeer. Lyk my ons het heelhuids aangekom. Was juis nou buite gewees, en jy kan jou wrintiewaar asemhaal in hierdie atmosfeer.

En Afrikaans praat. Julle ander kan maar buite kom speel.

image

image