Mmmm…

From 2010-04-23
From 2010-04-23
Advertisements

Emosies, sintuie en lente

Middagete is soms moontlik. Die goeie weer die afgelope week het mense weggehou (ek vertel myself dis die rede hoekom hulle wegbly), so ons was nie heeltemal so besig nie. Dus stap ek deur die begraafplaas. Vir my is dit nie ‘n hartseer plek nie. Dis mooi versorg. Daar is blomme. Die reuk van varsgesnyde gras meng met lentebloeisels, amper sigbaar. Ek verbeel my dit lyk soos spirale wat om my gesig warrel.

Reuk speel vir my so ‘n belangrike rol. My werknemers beleef dit as ‘n irritasie, want ek kan nie ‘n slegte reuk in die praktyk verdra nie. Ek dink altyd daaraan dat as ek sensitief is vir reuk, dan moet daar heelwat kliente ook wees wat sensitief is, en dit mag hulle dalk net laat dink die plek is vuil. Al word dit daagliks gewas en geskrop. Daar is interessante studies oor die effek van emosie en persoonlikheid op persepsie van reuk. Gaan lees byvoorbeeld hier.

So met die son wat skyn, die reukspirale wat dwarrel en speel in die vars luggie stap ek tussen die grafte deur. Ek dink beslis die son voed my siel, my siel lig my gemoed, en maak my reuksintuig wakker. Dis of ‘n mens kan lighoofdig raak in hierdie plek. Dis goed dat dit so ‘n mooi dag is, want vandag kom kyk die eerste twee partye na die huis. Die lig spoel deur die huis. Engelse huise kan so donker wees. Dis hoekom ons huis juis die lig inlaat waar dit ookal moontlik is. Die terugvoering is goed, alhoewel ons eers more sal uitvind of hulle genoeg daarvan gehou het om ‘n aanbod te maak.

En terug by die werk is daar ‘n ander lekkerte vandag. Die klank van pasgebore klein hondjies. Vanoggend so teen 3-uur het die kleintjies begin kom. Teen 10-uur was sy uitgeput, met reeds 6 kleintjies gebore. In die verpleegster se spreekkamer maak ons vir haar gemaklik en die eienaar, wat ook omtrent glad nie geslaap het nie, kry ‘n koppie tee. Ek kan voel daar’s nog baie. Gelukkig is whippets vaartbelyn, en met die nodige inspuitings begin hulle uitskiet soos torpedos. Net voor middagete is daar…………elf! Sjoe.

 
From 2010-04-19
From 2010-04-19
From 2010-04-19

Hiert jou

Ja ek kom net gou inloer. As ‘n mens al begin om SMSe te kry van mense wat vra of alles reg is moet jy darem rekenskap gee van jouself.

Dit is tans nie so maklik om te blog nie, want my rekenaar en lessenaar is uitgeboender en daar is nerens ‘n lekker plekkie om te sit en blog in die huis nie. Mev G is besig om die huis te verkoop, so alles wat nie goed lyk nie word of weg gevoeter, weg gebere in die dak, of opgedress.

Meneer G dress nie goed op nie, maar hy’s darem nog nie weg gevoeter nie. Ek het darem nog my laptoppie en kan so nou en dan inloer.

Ek vra dus nederig om verskoning dat ek so skaars is. Soos julle weet is werk tans ‘n eenmanorkes. Dit beteken sewe dae per week met min af tyd.

Geniet die naweek.