Cornwall 2010 – Trewhella Villa

Naand vriende.

Ja ons was weer bietjie met vakansie. ‘n Jaar terug was ons in Cornwall vir besigheid (sien my blog oor Marazion), maar hierdie besigheidskontak het tot ‘n vriendskap gelei. Ons is teruggenooi om in hulle karavaan naby Penzance tuis te gaan. Ons was bietjie bekommerd oor die weer, want Cornwall kan koud, winderig en nat wees hierdie tyd van die jaar. Gelukkig was die nagtemperature heel leefbaar, en ons het ons elektriese komberse byderhand gehad net in geval. Woensdag het die son geskyn en kon ons op die strand gaan ontspan.

Dit was vir ons ‘n groot lekkerte om hierdie gesin beter te leer ken. Hulle bly op ‘n kleinhoewe met skape, hoenders, honde (hulle teel Wheaten Terriers). Daar is 5 kinders en my seuns het dadelik vriende gemaak en gespeel vir die vale. En vir mev Gidi was die toppunt dat ons nie aandete hoef te kook nie. Elke dag het ons by die gesin aangesluit vir ete en ‘n hond uit ‘n bos gekuier om die massiewe tafel.

Ons vriende het hulle karavaan aan die begin van die somer opgestel en hy was uitverhuur dwarsdeur die seisoen. Terselfdertyd het hulle ook ‘n teetuin geskep en cream teas vir toeriste aangebied. Besoekers aan Cornwall sal bekend wees met Cream Teas, en natuurlik ook met die tradisionele Cornish Pasty. Meer hieroor in die volgende aflewering.

Advertisements

Onder die radar

Dis so skuins na 22:00, en die internasionale aankomslokaal is bykans verlate. Koffiemasjiene blinkgepoets en stil, winkelvensters se swaar ooglede afgerol.

Dan stoot die outomatiese glasdeure oop en ‘n enkele pasassier kom ingestap, ‘n skouersak haar enigste bagasie. Tien treë verder kom sy tot stilstand. ‘n Skoonmaker se neuriesang draal en sterf weg tussen die pilare, sy mop bewegingloos terwyl hy die aankomeling bestudeer. Iets aan haar lyk bekend. Vir ‘n volle 30 sekondes staar hulle mekaar aan. Dan weet hy waar hy haar laas gesien het: Otterwandelpad, net na die matriekeksamens, (kug-kug) jare terug.

“Anny, so wrintiewaar!”

Haar effe verdwaasde uitdrukking verander in ‘n oogwink en ‘n breë glimlag versprei oor haar gesig.

“Tog nie jy nie Gidi! Waar’s al die mense? En die mop in jou hand?”

 “Ja jong, hier in Blogland moet ons maar almal inspring om te help. Maar sê my net ‘n bietjie, met watter vlug het jy ingekom?”

Sy draai om en hy volg haar oë. Op die aanloopbaan staan ‘n Cessna.

“Ek het daardie een netnou sien land, maar ek het nie ‘n vlieënier gesien nie.”

“Daar was niemand anders nie. Ek moes mos jare terug al leer om self te vlieg. Daar in “Baie Name Land” moet ons ook maar inspring as ons iets gedoen wil kry. Maar dis ‘n lang storie.”

“Mapstieks, maar jy ken van! Hoor hier, jy’s seker moeg. Ek maak gou vir ons koffie en ek dink hier’s nog beskuit in die kantien. Dan soek ons vir jou ‘n slaapplek. Môre sal ek die ander aan jou voorstel. Ek dink hule sal graag jou storie wil hoor…”

-o0o-

 

Liewe blogvriende. Kan julle nog onthou hoe dit gevoel het om jou eerste blog te skryf en te wonder of enige iemand jou storie gaan wil lees? Gelukkig vir my het ‘n hele klomp mense my ondersteun en vandag kan ek nie my lewe indink sonder my blogvriende nie.

 

Ek wil julle graag voorstel aan ‘n nuwe blogger met baie om te vertel. Sy’t onder die radar ingevlieg op ‘n stil aand, en haar eenmotorige vliegtuig staan nog op die aanloopbaan. Ek soek ‘n paar hande om my te help dat ons gou die vliegtuig in die loods in stoot sodat hy veilig is, en dan moet ons die braaivleisvuur aansteek, die rooiwyn skink en die kampstoele oopslaan.

 

Die vet weet, daar’s altyd plek vir nog een wanneer die tonge los raak en die stories begin loop.


Kliek gerus hier om vir Anny welkom te heet.  Smile

Partykeer is ‘n mens ook bietjie blind

Vanaand gesels ek met ‘n vriendin van skooldae af, sommer so op Facebook. Het onlangs nog weer kontak gemaak. Is Facebook nie fantasties nie! Vir ons wat hier in die ver plekke bly is dit.

Toe sê sy, goeie woordspeling, vet weet of vet tweet. Wraggies nog nooit die tweede ene raak gesien nie.

Hoe lank moet ‘n mens oor ‘n klip in die middel van die pad val voor jy hom raaksien en die lekker skerpioentjie onder gaan uithaal?

Vet tweet. Inderdaad.

Husky man

Sy loopbaan het gepiek in die 1970s en -80s. Toe het hy elke husky resies wat die moeite werd is gewen met sy span. Gereeld ook oorsee meegeding.

Vandag staan hy in my spreekkamer met een van die ou honde in sy arms.

So ‘n paar weke terug hier aangekom met sy wit paneelwa. Hy woon eintlik in Skotland, maar sy aksent is maar van hier rond. Die hond-reuk loop so ‘n paar treë voor hom uit. Krommerig, dun, driedagoudstoppels sweterig.

Mens kon sweer hy woon in ‘n hondehok.

Is eintlik op pad Frankryk toe met sy honde. Hy wys hulle vir my uit: hierdie een was verlede jaar nog ‘n kampioen. Daardie een het ‘n hele paar kampioene geteel. Hulle moet paspoorte kry om Europa toe te gaan. Ek moet die hondsdolheid inentings en bloedtoetse doen. Lekker om met hierdie honde te werk. Niks foefies nie. Seningrige atlete. Sterk STERK hondereuk. Net die baas ruik erger. Maar hulle staan stil vir my ondersoekende hande, glimlag nou nie eintlik nie, maar so nou en dan sal ‘n grinnik vir ‘n splitsekonde deurslaan.

Goeie besigheid dié. Ek het onlangs een van sy vriende ook gehelp en sy vriend het hom aangestuur na my toe.

Laasweek ‘n hond se been met krammetjies toegezip – net ‘n bietjie lokale verdowing en die hond staan soos ‘n standbeeld. Bietjie soos hulle baas. Dit was laasweek.

Vandag staan hy in my spreekkamer met een van die ou honde in sy arms.

Die oudste van die huskies is 9 jaar oud. Hardloop nog steeds gereeld saam in die tuig. Hier in die woude by ons trek hulle ‘n karretjie met wiele. In Skotland het hulle genoeg sneeu in die winter vir ‘n slee.

“Waar gaan jy tuis meneer?”

Nee wat, hy is maar hier by vriende.

Vandag staan hy in my spreekkamer met een van die ou honde in sy arms.

Hierdie een het kanker, kan nie saamgaan Frankryk toe nie. Sy’s eintlik die ma van dáárdie een wat ook ‘n kampioen is. Die kanker het al versprei. Frankryk toe kan sy nie saamgaan nie.

-o0o-

Ons dra haar op ‘n stretcher agter by die gebou uit. Regs onder die afdak deur. Hy’t die wit paneelwa doer uit die pad uit getrek waar die mense nie kan sien nie. Dan is ons op die gruisklippies en die volgende oomblik glip sy voet en lê hy verdwaas op sy rug met die hond half bo-op hom.

Vandag staan hy in my spreekkamer met een van die ou honde in sy arms.

Dan kry ons darem weer die hond so half op die stretcher en kom by die wit wa. Stoot hy die sydeur oop. Op die voorste sitplek sit ‘n jongetjie, baie wakker, vriendelik maar nie juis emosie nie. Agter in die wa sit die hokke met so ‘n stuk of sewe ander honde. Teen die een kant af ‘n matras. Ketel, rugsak, harnas. ‘n Brood.

‘n Ou hond wat nie saamgaan Frankryk toe nie. Vanaand begrawe hulle haar in die woud waar die honde oefen.

Hierdie week

Dis ‘n maak of breek week wat voorlê. Gidi se ma gaan môre in Mosselbaai ‘n nuwe regterknie kry om by die bioniese linker knie te pas.

Gidi het hierdie week ‘n belangrike vergadering oor die praktyk.

‘n Nuwe diereverpleegster en nuwe ontvangsdame word gesoek, onderhoude moet gevoer word.

So tussendeur moet daar nog gewerk word.

Hoop die week is mooi en vol vreugde vir julle almal.

Die hele naweek reën dit al aan en af. Vanmiddag toe die son bietjie deurkom stap pa en ouboet gou af see toe om die nuwe “hakwiele” te gaan uittoets. Hulle maak met ‘n bandjie aan jou skoen se hak vas, dan vat jy so ‘n aanloop en skaats op jou hakke. Ouboet het gedink dis groot pret.

Dit was vinnig besig om donker te word en die water was bruin asof dit baie opgekarring is – die foto wys dit nie. Anderkant op die huise het die son bietjie deurgekom. My ore was behoorlik koud to ons by die huis kom.

Net soos wat die son deur die wolke breek soek ek hierdie week ‘n paar deurbrake.

From gidivet