Lees en luister

Ons litnetters is lief vir lees, dis tog wat ons hier op die blogs doen as ons nie skryf nie. Ek reken ek lees maklik ‘n 100 blogs vir elke een wat ek skryf. Op die oomblik het mense soos Izak, Boekevat,
André S.Kamer, Droomkind en andere ‘n gesprek aan die gang oor voorgeskrewe boeke in skole, en oor hoe ons ‘n liefde vir lees in ons kinders kweek.

Ons wou graag ons passie vir lees aan ons kinders gee, en voor hulle nog behoorlik kon fokus het hulle al slaaptydstories gehoor. Ek dink aan die begin was dit net die stem van ‘n bekende wat in die slaapkamer dreun en hulle aan die slaap sus. Ek onthou nog hoe hulle my later gereeld moes wakkerskud met: “Pappa LEES!” Natuurlik het hulle begin saam kyk na die pragtige illustrasies.
Vandag se kinderboeke is so dikwels ook kunswerke uit eie reg. Ons plaaslike biblioteek ken die gidivet familie al – ons kan elkeen 20 boeke uitneem op ‘n slag, en gereeld het ons ‘n krat gevul met al die boeke, en dit weekliks omgeruil. Ek onthou nog die meer as ‘n uur wat een van hulle met intense konsentrasie vasgenael gesit het vir Roald Dahl se “The Giraffe and the Pelly and Me”, as ‘n kleuter. Dis nog steeds ‘n gunsteling. Moet natuurlik nie vir Balkie vergeet nie. My ouers in Suid-Afrika het vir ons ingeteken op die Rooi Rose, en natuurlik het ons die Balkieboek verslind. Balkie, ek hoop dit gaan nog goed met jou waar jy nou is – dalk kuier jy vir ander kinders in ‘n ander heelal.

Dit het gegaan om luister, voor hulle kon lees. By die biblioteek was daar elke week ‘n storieklub. Die ma’s en hulle kleuters het die kamer volgesit en een van die biblioteektannies het voorgelees. Hulle het die slag geken om die boeke dramaties te maak. En ons het hier ook die wonder van die audio books ontdek. Ons neem gereeld ‘n voorraad van hierdie kassette of cd’s uit en luister daarna in die kar. So het ons groot dele van Europa deurgetoer op storie tapes.

En soos hulle groter word het een van hulle ‘n boekwurm geword en die ander …… nie eintlik nie. Ons was half bekommerd dat hy nie lees nie, maar het agtergekom dat hy graag eerder nie-fiksie lees. Hy kan homself ure lank besig hou met die  Guinness World Records, die internet, en ander bronne van inligting, maar nie eintlik storieboeke nie. Wanneer dit egter kom by die audioboeke luister hulle altwee ewe aandagtig saam. Baie interessant.

Ek het my so ingeleef in boeke as ‘n kind dat ek amper verdwaas en verdwaald was na ‘n goeie storie. Die wêreld van die verbeelding was meer werklik as die werklikheid self. Daar was niks so frustrerend as om onderbreek te word terwyl ek lees nie. Daarom was ek gereeld gefrustreerd as ‘n kind en het alles gedoen om weg te kruip en in vrede te lees. Onder die komberse met ‘n flits in die koshuisjare. Iewers in ‘n buitekamer weggesluit by die huis.

My oudste het hierdie passie geërf. Die jongste se kop werk dalk anders. Hoe maak ons nou met kinders en voorgeskrewe boeke op skool? Wel, die ander bloggers het al met fantasiese idees vorendag gekom. Gaan lees gerus. Comics in die klaskamer? Bid jou dit aan!

Dis dalk nie so ‘n slegte idee nie…