Cavtat en Dubrovnik

Ek het ‘n heerlike paar dae in Cavtat en Dubrovnik spandeer terwyl ons die katkongres bygewoon het. Oor die details mag ek dalk later ietsie sê. Daar was baie ou bekendes en ‘n hele paar nuwes om mee te kuier, en ons het elke aand gaan uiteet. Op die Saterdagmiddag het ek saam met die Britte en Suid-Afrikaners by die Irish Pub die eerste toetswedstryd tussen die Springbokke en Leeus gaan kyk. Dit lyk my die Ierse pubs is nou orals. En die bier in Kroasië is ook glad nie te sleg nie.

Ek het voorsiening gemaak en sommer ‘n 4Gb SD kaart in my kamera gelaai. Na minder as ‘n week is daar meer as 300 foto’s. Hier het ek sommer net ‘n paar gegryp om ‘n smakie te kry van die plek:

Cavtat

Cavtat

Dubrovnik

Bootrit tussen Cavtat en Dubrovnik

Ierse pub in Dubrovnik – heel “toevallig” was ons daar om die Bokke te sien wen.

Dubrovnik bied fassinerende detail. Dis nie verniet ‘n Unesco World Heritage stad nie.

Dubrovnik Ou Stad – marmer is orals.

Die storie van Dubrovnik is baie interessant. Deur die eeue het inwoners van hierdie stad hulle vryheid hoog geag en probeer om neutraal te bly. Hulle het byvoorbeeld suksesvolle handelsooreenkomste met sowel Venesië as die Ottomaanse Ryk gehad en baie welvarend geword.

Hierdie was eintlik ‘n blitsbesoek, en eendag hoop ek om met my gesin terug te keer en langer te vertoef.

Sien jou daar!

Advertisements

ESFM Croatia 2009

Vanjaar hou ons die katkongres in Cavtat, naby Dubrovnik, Croatia. Dit skuif ook vanaf September na Junie, dus verwag ons lekker warm weer aan die pragtige Adriatiese kuslyn.

Kyk gerus hier:

ESFM

Cavtat

Meer oor Cavtat

My blog oor ESFM Congress Antwerp 2005

Erkenning vir die foto hierbo gaan aan download-free-photos

Hopelik sal ek binnekort my eie foto’s hier kan blog.

Dit was nou lekker

Ek en my oudste seun (amper 12) het ‘n heerlike naweek saam met omtrent 2000 ander mans beleef by Top Barn Farm, Worcester, Engeland. Vrydagoggend so net na 10.00 spring ons in die pad, ons bestemming ongeveer 165 myl ver. Hier om en by 13.30 is ons daar en word ons na ‘n gras veld gestuur waar honderde ander tente reeds opgeslaan word. My vriende arriveer later, en ons kry dit reg om almal bymekaar te kamp. Amper die helfte van ons is Suid-Afrikaners wat in Engeland woon, en dan is daar ouens uit Wallis, Ierland, Skotland en Holland. Die fasiliteite is heel geskik vir so ‘n naweek, met chemiese “geriewe”, koue en warm water uit ‘n kraan, en ‘n winkeltjie naby in geval iemand iets vergeet het. Daar is nie baie storte nie, maar met ‘n emmer warm water kom ‘n mens goed skoon.

Teen 18.00 begin die eerste byeenkoms. Die aartappelboer praat reguit. Daarna word kospakkies voorsien en alles is baie goed georganiseer. Daar heers ‘n fantastiese atmosfeer en die weer is op sy beste. Dis oorwegend sonnig, wat ‘n groot seën is as mens hier in Engeland kampeer.

Natuurlik word die vure aangesteek en heel naweek hang die reuk van braaivleis in die lug. Ons klompie wat saamkamp braai ook, en kuier lekker saam onder die veranda.

Mense dit was ‘n belewenis, en ek dink dit het net op die regte tyd gekom vir my oudste. Nou wil hy natuurlik met alle mag dat ons hele gesin daar gaan kampeer sodat hy sy boetie kan wys waar ons was. Kyk gerus bietjie rond op die Top Barn Farm webtuiste. Daar is heelwat te sien en te doen.

Sondagoggend kom die wederhelftes en kinders by vir die laaste diens. Dan breek ons kamp af en keer huiswaarts. ‘n Mens kan nie onaangeraak terugkeer van so ‘n belewenis nie. Die foto’s hier onder gee hopelik ‘n smakie van die geleentheid.

Planne vir pa en seun

Ek spoed die naweek, en werk dan elke dag tot Donderdag aand. Die Vrydagoggend gaan ek en oudste seun, nou amper 12, in die pad val. Hy’t spesiaal ‘n dag afgevra by die skool. Dis ‘n geval van “my voete loep na Wellington maar ek ga’ Woester toe….” (Dis ongelukkig Worcester UK, nie Worcester Zilleland nie.) Saam met ongeveer 2000 mansmense gaan ons ons tentjies opslaan en uitvind wat ‘n sekere aartappelboer uit Suid-Afrika vir ‘n paar souties te sê het. Hy’s juis op die ouderdom waar daar heelwat vrae gevra word, en dis altyd lekker om een seun op sy eie iewers heen te vat.

Dis al ‘n bietjie van ‘n tradisie. Soos byvoorbeeld as jy 7 jaar oud is gaan jy vir die eerste keer alleen saam met jou pa London toe, gaan sien een of ander museum, byvoorbeeld die Natural History MuseumBritish Museum, Royal Observatory, Greenwich, Tower of London, ensovoorts. Oor die jare het ons al baie lekker dae saam beleef, mummies gesien (my seun het my alles oor hulle geleer), dinosourusse gejag, papnat gereën, gekampeer, en alleen by mense gaan kuier. Dan word daar kopstukke gesels.

Twee seuns saam funksioneer soos ‘n organisme. Hulle is op mekaar gefokus en openbaar stereotipiese gedrag. Baklei soms, is in rekenaarspeletjies verstrengel, en roer net so ‘n effentjies wanneer hulle aangespreek word. Jy kan maar probeer om deur te dring. Werk nie.

Maar op hulle eie is daar heelwat meer kans om ‘n konneksie te maak. Terwyl my oudste nou al sy pa reguit in die oë kyk, en twee nommers gróter skoene dra, moet ‘n mens maar skep as dit pap reën.

Verlede naweek het ons die tent en afdakkie in die tuin getoets. Die week het ek ‘n paar tentpale bygekoop, ‘n nuwe kampeer stofie, beter matrassies en ‘n paar stukkies tou aan die tentjie vervang. Laastenoemde dateer uit 1986, sommer vir iets soos R129 in die Hiperama gekoop. Vir my en oudste seun se ma toe ons pas getroud was. Daardie tentjie was al in die Drakensberge (twee keer, maar ek self was nog nooit daar nie – net my pelle wat die tentjie geleen het), Mosselbaai vir twee weke in die hittige son, reg deur Namibië pas nadat ek gekwalifiseer het, en deur Engeland toe ons twee met rugsakke hier aangekom het al die jare gelede. In die beginjare het ons gereeld naweke in die pad geval en iewers gekamp sodat ons die omgewing kon verken. So wanneer jy hom opslaan ruik jy al daardie jare se kampe en oorslape, en kom al die herinneringe terug.

Pa maak planne vir pa en seun. Seun het self gevra of hy kan saamgaan. Dit beloof om ‘n interessante naweek te wees. Niks rekenaars of blogs nie.

Oeps.

Eerste probeerslag

Nou ja gisteraand was my eerste probeerslag om ‘n barbershop koor te kry. Ek woon toe ‘n oefening by van ‘n koor so ongeveer 40 minute se ry hiervandaan. My doel is om ‘n groep te kry waar ek bietjie kan leer oor die kuns van “barbershop singing”.

Die webwerf sê hulle kom so van 19.45 af bymekaar. Ek is dus betyds daar en daar is nie eers ‘n spook asempie in die plek nie, behalwe die een vertrek waar die stemlokaal is vir die plaaslike verkiesings. So teen 20.00 daag hulle toe een vir een op. Gawe mense. Party met looprame, kieries en jigheupe. Ek reken die gemiddelde ouderdom is so amper dubbel my eie ouderdom…

Maar ek gee nie om oor die ouderdom nie, solank hulle net vir my iets kan leer van “close harmony”.
Hulle is geaffilieer by BABS, so daar behoort darem seker ‘n standaard te wees. Ongelukkig is dit meer van ‘n sosiale groep as ‘n ernstige koor. Ek vind dat die basse meestal die melodie volg in plaas van hulle eie note, en die bariton (daar was net twee) sing iets heeltemal anders as wat daar geskryf staan. Hulle is heel gemaklik daarmee dat die note slegs ‘n riglyn is, en dat hulle hulle eie interpretasie daaraan gee. Daar is een omie in sy tagtigs, nog heel flink en vol grappe, met ‘n pragtige solo basstem. (En ‘n klein heupflessie single malt in sy sak). Daar is ‘n kwartet, bestaande uit die 4 bestes, wat nogal goed klink. Hier volg my beoordeling, na ‘n aandjie saam met die groep:

Verwelkoming         5/5
Repertoire              5/5
Dissipline               2/5
Harmonie               3/5
Musikaliteit              3/5
Nootgetrouheid     1/5
Geheelindruk          3/5

Hierdie koor mik nie hoog nie, neem nie aan kompetisies deel nie en dit wys. Hulle bereik egter hulle doelwit, en dit is om as ‘n groep vriende saam te kom elke week, ‘n bietjie sosiaal te verkeer, ‘n bietjie in die openbaar op te tree, en die singery te geniet.

Volgende week speel hulle gasheer vir ‘n Barbershop open evening, waarna die publiek uitgenooi word. Ander, en ek vermoed beter kore kom ook daar optree, so dit behoort goed te klink. Wie weet, dalk is daar tog iewers vir my ‘n koor om by aan te sluit. Maar dis nie hierdie een nie.

Wat ek geleer het: hierdie tipe sang is nie vir kabouters nie. Dit bied nogal ‘n tegniese uitdaging.