Kronkelpaadjies deur Cuckmere Valley

Tussen Brighton en Eastbourne in East Sussex is daar pragtige plekkies vir die reisiger om te ontdek. Die Cuckmere rivier begin êrens naby Healthfield in East Sussex, en loop in die see by Cuckmere Haven. Naby die mond kronkel die rivier deur die Cuckmere Valley, ‘n vloedvlakte wat deur die South Downs sny.

Net buite Seaford op die Alfriston pad is daar ‘n parkeerarea. Volg die voetpaadjie tot jy die rivier se kronkels kan sien.

Hierdie karpark is ook die naaste aan die Litlington White Horse (‘n perd uitgesny in die heuwels en met wit kalkklippe uitgepak.

From 2010-07-03 – Cuckmere River

As jy regs kyk op die foto kan jy net-net die blou van die see sien uitsteek. My panorama foto is moeilik om op die blogs te wys, maar kliek op die foto self en jy kan ‘n vergroting daarvan sien op die Picasaweb album. As jy oor baie groot bandwydte beskik kan jy die foto hier op Dropbox gaan kry.  (edit – Die panorama bestaan uit 23 afsonderlike foto’s. Ek het die gratis program  Autostitch hiervoor gebruik.)

So ‘n entjie met die kus af kry jy Birling Gap, waarvandaan jy die bekende Seven Sisters Cliffs die mooiste kan sien. ‘n Hele klompie jare gelede het ek die oostelike gedeelte van die South Downs Way gestap. Vanaf Eastbourne stap jy in ‘n westelike rigting al met die kus langs. Die Seven Sisters is sewe heuwels. Dit is nogal straf op die kuite! So teen laatmiddag het ons by Cuckmere Haven uitgekom, en daarvandaan met die river opgestap tot by die Golden Galleon Pub vir ‘n welverdiende verfrissende bier (natuurlik). Jy kan met die pad ry tot hier – dis by die Exceat Bridge en Seven Sisters Country Park Visitor Centre.

Advertisements

Nog steeds by die De Goedes

Lees asseblief eers die vorige pos.

Hier wil ek waarsku, as jy ‘n sensitiewe oor het hou verby. Ek plaas hierdie om ‘n punt te staaf.

Die musiek wat hier gepleeg word sal trane in die meeste mense se oë bring, en dit nie weens die nootvastheid nie.

Tog, as jy dieper kyk (en luister) sien jy ‘n klomp gewone skoolkinders (meeste nog in die laerskool) wat hulleself gate uit geniet. Iewers agter by die trompette sit ‘n klein gidiwettertjie ook sy hart en uitspeel.

Die trane in my oë het nie te doen met die musikaliteit (of gebrek daaraan) nie. Dit is oor ‘n kind ‘n kans kan kry om hieraan mee te doen. Wie weet, dalk beland een of meer van hulle dalk werklik eendag in ‘n regte simfonie-orkes. Die meeste van hulle sal egter eerder iewers anders in die samelewing hulle plek inneem. Tog sal hulle terugdink aan hierdie oomblikke saam met maats, waar hulle ietsie van die ensemblespel van die lewe geleer het.

De Goede geen

Ek worstel met die De Goede geen. Dis wat ons pa dit genoem het. Hy’t dit gehad, en ek dink my sus het dit ook. Ek weet ek het ‘n goeie skoot daarvan gekry.

Dit gaan oor die gegrensery, tydig en ontydig. My pa kon so bewoë raak. Dan’t hy die skuld op sy De Goede familie gepak.

Nou wil ek weet:

 

Is daar verdomp dalk ‘n De Goede in die huis?

 

sodat ek kan uitvind of dit waar is.

 

Ek kan nog nie altyd reg uitpluis wat dit trigger nie.

 

As kind met die eerste (en tweede…………en derde ongelukkig ook) keer wat ek “Oom Tom se pondok” gelees het, het ek beskaamd en onbeheersd in my kamer gesit met my oë en neus wat stroom. Gelukkig was dit pikdonker in die fliek toe ek “Places in the heart” met Sally Field en Danny Glover, saam met my studentekys (en aanstaande vrou) op ons eerste date gaan kyk het.

 

Ok, so ver verstaan ek. Dit het iets te doen met onreg, met meegevoel, met bewondering vir mense wat dit regkry om in moeilike situasies vas te byt.

 

Wat van die fliek “Beautiful People” deur Jamie Uys. Dis veronderstel om plek-plek ‘n komedie te wees, nie ‘n tranedal nie. Was dit die keuse van musiek? Of die woestyn waarin dit afspeel.

Ek dink woestyne of verlate plekke het iets daarmee te doen. Dalk genereer die De Goede geen ‘n snaartjie iewers wat resoneer as daar iets moois gebeur. Miskien is dit die kontras van hopelose verlatenheid met die verborge skoonheid.

 

Wonder ek.

 

Daar was soveel flieks, sommer op skool al, waar ek my rooigehuilde oë dankbaar in die halfskemer kon verberg. Skoolkinders kan genadeloos wees. Maar ek is nie ‘n crybaby nie. Dis nie daai soort huil nie. Dis die mooi goed.

 

Musiek doen dit. Veral as ek in die gehoor sit en ‘n klomp skoolkinders in ‘n blaasorkes sien optree. Veral as een van my kinders ook daarin speel. Wat is dit met my?

 

Is dit die grootsheid van ‘n oomblik en die besef hoe klein ek is in vergelyking met die skepping, die pragtige harmonieë?

 

Anne Frank het dit aan my gedoen. Dis te verstane. Haar verhaal is nie uniek nie, maar om in die Anne Frank huis te wees laat jou sprakeloos. Hoe kan jy ooit weer ‘n woord uiter na so ‘n ervaring.

 

In die konteks van my beroep kan ek professioneel optree deur my emosie van my verstand te dissosieer. Dit help om koel, gerusstellend en beredeneerd te wees. Dis ok, solank jy nie gediggies gaan lees soos “The Rainbow Bridge” nie.

 

Net gister koop ek vir my jongste seun sy eerste selfoon. Hy gaan volgende week hoërskool toe, en dis wanneer ons vir die oudste sy eerste foon gegee het. Familie tradisie. My kinders is absolute technofreaks. Party mense sal sê geeks. Hy is al die afgelope 24 uur asof met ‘n naelstring aan daardie dekselse foon verbind, ‘n spotgoedkoop ding in China vervaardig. Hoekom het ek gisteraand deur die huis gedwaal met ‘n gevoel van verlatenheid en wie het my ketting getrek? Dis tog niks met ‘n foon te doen nie. Miskien is dit die simboliek daarvan. ‘n Klein seuntjie wat nie meer so klein is nie.

 

Deesdae is ek seker net meer eerlik. Op skool en selfs universiteit sou ek myself as flegmaties beskryf. Nou kom ek agter dit was dalk maar net omdat ek emosie al die jare as koshuiskind onderdruk het. Nou erken ek daar is emosie, en kan dit selfs op ‘n blog kom bieg.

 

Nou wil ek weer vra: Is daar dalk ‘n De Goede in die huis? (Of dalk ‘n sielkundige…)

 

In my volgende pos plaas ek ‘n video om my punt te illustreer.

Woerts warts inloer

Goeiemore blogland. Ek kom net gesig wys voor ek werk toe gaan. Ons het ‘n “open day” vandag en dis “face painting”, “raffle tickets” en “find the fish”, met klein vingertjies wat in die x-straal ontwikkelaar se kas rondvroetel vir ‘n verrassinkie. 

In elk geval, na ‘n deeglike bestekopname van my vordering ten opsigte van hierdie jaar se nuwejaarsvoornemens het ek tot die slotsom gekom dat ek ‘n bietjie agter is, alhoewel ek nie moed verloor nie. 

1. Ek gaan vanjaar meer positief wees.

Ja ek is meer male positief as voorheen. Werk nog aan die aantal kere.  So ek dink ek kan hierdie boksie tiek al kroek ek net so ‘n klein bietjie.

Check. 

2. Ek gaan meer leer oor Real Ale. Oeps. 

Ek het goed weggespring, en definitief my telling verbeter. Een onlangse deurbraak is ‘n nuwe vriend met potensiaal. Ja ek het bymotiewe, want hierdie ouk is ‘n Real Ale entoesias.

Maar die volgende kwotasie het vanoggend amper my spoed gebreek:

Real ale fans are just like train-spotters, only drunk.

Gelukkig was dit nie die enigste wyse woorde op die bladsy nie:

Shoulder the sky, my lad, and drink your ale.

Lekker dag vir julle.