Paartie – foto van gidivet…

Die ma-kieties by ons katkonferensies het altyd ‘n tema. Hierdie jaar was dit “Release the beast”.

Nou ja, meeste mense kom maar net sonder kostuums, en andere doen weer heelwat moeite.

Vanjaar se wenners was

“Beauty and the beast”

From 2010-06-19 – Makietie

Hier en daar nog ‘n bietjie inspirasie…

From 2010-06-19 – Makietie

En hier is ‘n rare foto van gidivet – hou verby as jy swak senuwees het.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

From 2010-06-19 – Makietie
Advertisements

Utrecht

Op Woensdag 16 Junie het ek oorgevlieg Amsterdam toe en gedurende die middag die stad so ‘n bietjie verken. Die meeste konferensiegangers sou eers die Donderdag arriveer, maar ‘n klompie van ons moes baie vroeg die Donderdagoggend die trein haal Utrecht toe. In die spitstyd moes ons soms hard stoei om op die regte trein of bus te klim. Utrecht Universiteit is ‘n massiewe plek, en die Veeartsenykunde Fakulteit het ‘n baie goeie reputasie. Dit was sommer heel vroeg al goed warm, en die laboratorium waar hulle die wetlab vir ons aangebied het was nie lugverkoel nie. Die tema van die dag? Tandheelkunde in katte.

Ek woon baie kursusse by, maar was jare laas op ‘n universiteitskampus. Na middagete in die kafeteria sit ons luilekker op die bankies met medestudente en kuier. Snaaks hoe herrineringe aan my eie studentedae op Onderstepoort weer springlewendig in my opstaan. Gemengde gevoelens. Enersyds is ek diep dankbaar dat daar nie ‘n eksamen om die draai is nie. En andersyds mis ek die sorgvrye dae.

Laat die middag was ons terug in Amsterdam en moes spring om deur die stort te kom en aangetrek vir die aand se verwelkomingsdinee. Ek bly maar altyd in die goedkoop hotelle, want die konferensies word aangebied in vyfsterpaleise wat heeltemal bo my vuurmaakplek is. ‘n Mens spandeer in elk geval die minimum tyd in jou kamer. Hierdie jaar was dit die Grand Hotel Krasnapolsky op Dam Plein. Wat ‘n heerlikheid om na ‘n jaar weer ou vriende raak te loop van oral oor die wêreld, en dan weer ‘n paar nuwes te ontmoet. Na die ete sit ‘n groepie van ons af om Amsterdam bietjie te verken. Ons gids, Jörg, weet van ‘n lekker kafeetjie, waar selfone verbied word, en lekker mellow musiek speel. So sit een Suid-Afrikaner, 3 Duitsers en een (baie vliegvoos) Japanner om ‘n tafel die tyd en verwyl.

En dan stap ons weer deur die soel nanagluggie terug, waar musiek uit ‘n dosyn kafees sypel. By die brug draai my kamerade af en ek gaan alleen verder langs die grag af tot by my hotelletjie, op met ‘n baie steil trap, terug na ‘n tweede verdiepingkamertjie met ‘n dun matrassie en ‘n ekstra hoë plafon. Gistermiddag het ek nogal gewonder watse soeterige wierokerige reuk in die lug hang. Nou is ek 24 uur langer hier en wonder glad nie meer nie. In seker dele van die stad is daar “Coffee Shops” en dieselfde reuk hang daar rond…

Die volgende dag begin die konferensie in alle erns.

From 2010-06-17 – Utrecht
From 2010-06-17 – Utrecht
From 2010-06-17 – Utrecht
From 2010-06-17 – Utrecht
From 2010-06-17 – Utrecht
From 2010-06-17 – Utrecht
From 2010-06-17 – Utrecht
From 2010-06-17 – Utrecht
From 2010-06-17 – Utrecht

Amsterdam – Inkopies

Daar’s ‘n spesiale eg Hollandse produk wat my soos ‘n magneet aantrek

Nee dis nie die vis nie.

From 2010-06-21 – Inkopies

Nie eers die kaas nie al is ek baie lief daarvoor.

From 2010-06-21 – Inkopies

Definitief nie die klompe of Delft porselein nie.

From 2010-06-21 – Inkopies

Wyn uit Malmesbury? Nee ons kan dit hier ook koop.

From 2010-06-21 – Inkopies

Nee, die een produk waarmee ek my tas volstop is egte Hollandse drop. Ja, ek het ‘n sagte plekkie vir drop (= die middelkolletjie van my maag), en as jy dalk via Holland reis om by my te kom kuier, maak seker jy sit ‘n paar pakkies in. Mens kan dit sommer op die lughawe koop, maar die supermarkte het groter verskeidenheid.

From 2010-06-21 – Inkopies

Daar is passie…

From 2010-06-21 – Inkopies

…en jy beter dit glo!

From 2010-06-21 – Inkopies

Bietjie sout of bietjie soet, elke een het sy plekkie.

From 2010-06-21 – Inkopies

Hier’s ‘n kleintjie wat jy nie moet onderskat nie; stadig oor die klippe!

From 2010-06-21 – Inkopies

Ja die Hollanders het die kuns van liekeries vervolmaak.

Amsterdam – Pedal Power

Jy dink dalk jy’t al baie fietse bymekaar gesien, maar jy moet nog eers gou hier in Amsterdam kom kyk hoe doen mens die pedaal ding.  Nie net bloot fietse nie, ook pedaalbote, fiets rikshaws en ‘n “Amsterdam sightseeing bike” met 15 sitplekke en stelle pedale. Natuurlik word dinge behoorlik gedoen hier, met spesiale fietspaaie, en daar is nie juis bulte nie. Die Hollandse fiets is so ‘n regop gevaarte, met sy ketting en agterwiel netjies toegemaak sodat jy nie natspat nie. Deesdae sien ‘n mens ander kleure ook, maar die klassieke ontwerp is swart.

Deel van die landskap

From 2010-06-16 Amsterdam Pedal Power

From 2010-06-16 Amsterdam Pedal Power
From 2010-06-16 Amsterdam Pedal Power
From 2010-06-16 Amsterdam Pedal Power
From 2010-06-16 Amsterdam Pedal Power
From 2010-06-16 Amsterdam Pedal Power

Stil

16 Junie 2010

Prinsengracht 263 – 267, Amsterdam.

Niks berei ‘n mens voor vir jou besoek aan die huis waar Anne Frank en haar gesin vanaf 6 Julie 1942 tot 4 Augustus 1944 skuiling gevind het nie. Die vorige dag het ek nog tot laat gewerk, en toe tot laat in die nag my tas gepak. Vroeg die Woensdagoggend was dit ‘n trein na Gatwick lughawe, BA vlug na Schipol, trein tot by Amsterdam Sentraal Stasie, en ‘n trem tot by die Westerkerk. My hotel is net ‘n paar honderd treë daarvandaan.

Voor die Westerkerk staan ‘n klein standbeeldjie van Anne Frank. ‘n Entjie af in die straat is die deure van die Anne Frank Museum. My kursus volg eers die volgende dag, en sonder om twee keer te dink glip ek by die deur in om die Agterhuis te sien waar Anne en 7 ander Jode weggekruip het vir twee jaar.

Vanaf jou sondeurdrenkte 21ste eeu vorder jy met ‘n reeks gange en trappe tot by ‘n boekrak wat wegswaai om vir ‘n vlietende oomblik deel te word van die halfskemer geheimenis van hierdie merkwaardige tafereel uit die vorige eeu. Agter gitswart gordyne kom rus stilte soos ‘n grys sjalie op jou skouers.

Later as jy uitstrompel in die boekwinkel het daardie stilte in jou beenmurg ingetrek en kom staan jy saam met Otto Frank voor die besef: hiervan moet my siel kennis neem, moet die wêreld weet, sodat die wat vandag nog agter eenrigtingglas skree en skree, oplaas ‘n stem kan kry.

From 2010-06-16 Anne Frank
From 2010-06-16 Anne Frank
From 2010-06-16 Anne Frank
From 2010-06-16 Anne Frank

Where is the giant eagle?

‘n Vyfjarige seun neem vinnig aanloop oor die grasperk, spring dan in die lug terwyl sy arms by sy ore verby woerwoer, en maak ‘n splitsekonde later hard met moeder aarde kennis. Vir ‘n hele paar oomblikke lê hy daar, terwyl die sonbesiesang al hoe meer intens in die netjies geknipte heining dreun, en die reuk van natgereënde gras in sy neusgate opslaan. Dan staan hy half bedremmeld op en sleep sy kaal voete oor die koelte van die voorstoep by die oop voordeur in.

 

-oo0oo-

 

Dis die jaar 1969, en hier in Bothashof, Rhodesië, het ons televisie. Dis hier waar ek en my driejarige sussie skemeraand kom sit om die Flintstones te kyk, al is dit in swart en wit. Dan is daar ook cowboys en crooks, bietjie later in die aand, na die nuus. Een keer het die cowboys sommer baie van die crooks doodgeskiet, dat hulle so agteroor van die fort se mure afval. My pa het so ewe vir Enita die huishulp gesê om tog seker te maak sy vee die klomp dooies weg agter die TV en sy’t dit heel plegtig gedoen die volgende dag.

 

Dis net hier waar my pogings om te vlieg ook hulle oorsprong het. Want sien, op die TV is daar manne met wit klere wat so baie stadig oor die gras hardloop, met sulke laaaaang treë, dan sweef hulle deur die lug met hulle arms wat sierlik rondom hulle koppe draai, alles asof in ‘n droom in stadige aksie. Ek het male sonder tal probeer om so deur die lug te sweef, natuurlik sonder geluk. Nou, omtrent veertig jaar later, dink ek dit moes krieket gewees het, en miskien was die tegniek van stadige aksie “kyk-weer” ‘n nuwigheid en het hulle dit oor en oor gewys.

 

Van vlieg gepraat, daar was ook natuurlik die maanlanding. Ons het almal kiertsregop voor die TV gesit. Daar was ‘n swart sitkamermat met sulke lang kartelpatrone, waarop ons karretjies mooi kon ry, en ons het gekyk hoe Armstrong en sy pelle op die maan loop, alles weer in stadige aksie. Maar ek dink hierdie keer was dit regtig stadig en hoef hulle dit nie stadiger gemaak het op die TV nie.

 

Dit bring my by die giant eagle. Ek onthou eintlik baie min van die ding. My ma sê die bure het so ‘n groot arend gehad, wat seker maar op ‘n keer weggevlieg het en nie teruggekom het nie. Dis die dat hulle rondgeloop en gevra het of iemand hom dalk gesien het. En heel getrou het die uwe agterna begin sê: “Where is the giant eagle?”

 

Bothashof was ‘n privaatskool naby Salisbury, met ‘n interessante geskiedenis. My ouers het daar gewerk in die laat sestig. Daar was heelwat maatjies wat al in die skool was, terwyl ek eers die volgende jaar met Sub-A sou begin. My een maatjie se naam was Pompie. Ek dink hy was eintlik Braam, so ek weet nie waar die Pompie vandaan kom nie. My ma sê sy ouers was sielkundiges of iets. Ek dink hulle was nogal bietjie anders, want hulle het ‘n nes gehad. Dit was eintlik ‘n baie groot ronde matras op die slaapkamervloer, waar die ma, die pa, Pompie en sy sussie almal geslaap het. Natuurlik het ons kinders almal in die bed tussen die los kussings wegkruipertjie gespeel as ons daar was.

 

Ons grasperk was lekker groot. My pa het ‘n swaai opgesit met ‘n blou ysterraam en twee swaaie. Dan was daar ook ‘n trampolien, sommer so gelyk met die grond gespan oor ‘n gat. Daar het ek ure lank gespeel. My pa was so trots op sy rose. Ek weet baie min van tuinmaak, maar ek onthou die naam van hierdie roos: Papa Meilland. ‘n Diep rooi kleur en ‘n reuk wat jou kan dronk maak. En blykbaar was die grond kleierig en ideaal vir rose. In die skemeraand het ons met blikke parafien geloop om torre te vang wat die rose wou vreet. Uit daardie selfde grond het hy ook reuse patatte gegrawe, ek onthou hy’t dit spesiaal geweeg, en party was meer as ‘n pond.

 

Daar in Bothashof het ek ook mangelontsteking en tragoom gekry. Vir die mangelontsteking moes ek in die bed bly maar ek was verveeld. Toe maar prentjies uit tydskrifte geknip en teen die muur opgeplak. Met spoeg. Sover ek weet is tragoom ‘n oogsiekte wat nog steeds algemeen in Afrika voorkom. Vir my was dit baie erg, want die taai oogsalf moes ‘n paar keer per dag ingesit word en dit was niks lekker nie.

 

Die laat sestigs was ook die tyd van Ian Smith, UDI en sanksies. Blykbaar het die Franse regering dit reggekry om die sanksies te omseil. In die ou Ford fabriek het hulle in die geheim aangehou om motors te bou, en hier teen die einde van 1969 het my pa ook ‘n Peugeot 404 bakkie gekoop. So ‘n witte, met twee vierkantige agtervensters. Hy’t sommer dadelik ‘n staalkappie op die bakkie laat sweis, en staalbankies met deksels wat in ‘n u-vorm reg rondom die kante geloop het. ‘n Hele netbalspan kon daar inpas. Dan was daar ook ‘n plank met klavierskarniere wat kon opvou. As jy hom oor die bankies neersit was hy ‘n lekker stewige bed. Op die plank kom ‘n dik matras, en daar het ons geslaap as ons die lang pad Kaap toe aandurf.

 

In Desember 1969 het my ouers Touwsrivier toe getrek. So dis nou eintlik die storie agter die giant eagle.

 

Tevrede Annemari?