Tsamma?

Ek het lankal vrede gemaak met die “bly-of-gly” debat en my eie gedagtes gedag. Nou’t murphmuurprop dit weer kom oopkrap deur ‘n aanhaling op sy blog.

Toe, wat maak ‘n mens daarmee? Murph se vriend spekuleer dat dit beter is om jou bek te hou oor Suid-Afrika se probleme as jy in die buiteland sit en nie self iets daadwerkliks daaraan wil/kan doen nie. Ek’t toe maar gou-gou ‘n eiertjie gaan lê op die blog, maar intussen bly my gedagtes besig met hierdie idee.

Eers moet ek my konteks bring: Ons is landuit in 1990, voor die 1994 verkiesing, en die omwenteling in Suid-Afrika. Ons het nie landuit gevlug nie, slegs ‘n werkie hier kom soek om die studieskuld af te betaal. Die beginjare was bietjie swaar, veral omdat die telefoonoproepe huis toe so duur was en my eerste werk nie juis ‘n sondagskoolpiekniek nie. Ek is seker die meeste “glyers” is hiermee goed bekend.

Tog was ons reeds in daardie tyd gesteld daarop om deel te raak van ons nuwe samelewing. Ek het in ‘n koor gesing en die fantastiese ervaring gehad om onder andere Verdi se Requiem in die Guildford- en Chichester katedrale te sing, saam met 200 ander musikante, party al die pad uit Holland. Niks kan ‘n mens voorberei op die amper gewelddadige effek wat die “Dies irae” met sy donderende stortvloed van klank op jou liggaam het nie. Dit, wat jou soos ‘n stroomversnelling meesleur, en jou uitgemergelde siel in ‘n amper oorverdowende vakuum van stilte op die oorkantse wal van die rivier uitspoeg as die laaste note wegsterf. Dis baie beter as ‘n sessie in die gim.

Ons het London toe gery vir die Suid-Afrikaanse kerk, maar baie gou besef ons moet plaaslik inskakel. Dus het ons ‘n telefoonboek gevat en die dominees gebel, en toevallig in ‘n heel ander kerkstroom beland, waar ons nou nog gelukkig is. Dit gaan om die gemeenskap. Die mense het ons aanvaar al het hulle oorspronklik gedink ons is “refugees” en vir ons komberse aangedra. Saam met ons nuwe vriende het ons geleer om gebrande worsies, hamburgers en hoendervlerkies op brikette gebraai, te eet. Ons het saam gaan kamp en pret gehad. Hulle het hulle verwonder aan ons vreemde gewoontes en snaakse kosse, maar tog huiwerig kom proe.

Suid-Afrika se politiek het in die agtergrond vervaag, alhoewel ons tog met groeiende verwondering en ‘n groot trots die 1994 verkiesing meegemaak het en Mandela se eerste toespraak met ‘n knop in die keel geluister het. ‘n Nuwe, grondwetlike, vrye nasie.

Natuurlik is dinge ver van ideaal vandag. Ek’t veral nou met die bloggery die voorreg om weer ‘n bietjie in te skakel op my land van oorsprong. En gelukkig weerspieël die blogs ‘n hele spektrum van opinies en word hulle so meesterlik weergegee.

Ook hier het ons weer ‘n paar Suid-Afrikaanse vriende raakgeloop, by wie ons ‘n bietjie kuier, en kan gesels sonder om dinge te moet verduidelik. Ons maak soms ons eie biltong en gooi Miesies Balls se blatjang oor ons steak’n kidney pie. Ons het Skype, en Facebook, en telefoonoproepe na Suid-Afrika is nou so goodkoop dat ons sommer ‘n uur met ons geliefdes kan klets.

Die wêreld voel deesdae soos drywende ys. Een oomblik spring jy sommer oor die krake. Anderdag dryf ‘n snerpende ideologiese wind jou sommer myle weg van jou medemens. Dan is dit maar weer jou buurman op wie jy aangewese is, hy wat op dieselde stukkie ys saamdryf. 

En dis hoe ek by die Tsamma uitgekom het. Dis mos maar waar my hart is, in die woestyne van my herkoms. En tog het ek dit al die jare misverstaan, en sodoende vrede gemaak met die potplant-model. Ons is in Suid-Afrika opgetel en hier staangemaak. Nou moet ons maar vrede maak met die plaaslike plantluise. Toe nie.

Uiteindelik het die waarheid by my begin posvat, dat my wortels maar kan bly waar hulle hoort, terug in die Kalahari. Ek is nie ‘n potplant nie, eerder ‘n rankplant. Miskien ‘n tsamma, wat sy arms ver en wyd laat kronkel, en in die felle middagson ‘n waatlemoentjie kan uitstoot sodat mens en dier se dors geles kan word.

Hopelik.

Of is ek ‘n aarbeirank, wat sy worteltjies orals neerplak, en waar jy hom probeer skuif kry jy hom dalk nog weer uit die grond gelig, maar stukkies grond kom saam. En sy stam gaan jy wragtig nie gebreek kry nie. Vir hom moet jy omtrent met ‘n mes of ‘n sker afsny.

Advertisements

Koffie (vir kammakazi)

Kazi het vanaand so pragtig geskryf oor koffie, toe onthou ek weer dié insidentjie.

Ek’t ‘n uitbundige vriend uit die Marico distrik, ‘n oggendmens. So ‘n (hele) klompie jare gelede doen ek ‘n locum op Rustenburg, en my werkgewer laat ons in ‘n pel van hom wat met vakansie is se huis bly. My ou groot vriend laat weet hy kom kuier sommer vroeg een oggend, ons moet die koffie reghou. Ja koffie op sy plaas is ‘n ritueel. Dit word nog steeds vars gemaal en dan in ‘n sak in die koffieketel getrek.

Ewentwel, die afgesproke oggend breek aan en so effens laat is daar ‘n huiwerende kloppie aan die voordeur. Vriend staan by die deur, in ‘n ietwat ingetoë bui. Word ingenooi en sitgemaak met boeretroos, toe kom die storie uit: Hy’t toe douvoordag die pad gevat en by die huis opgedaag waar hy dog ek bly. Baie baldadig sommer aan die kamervenster geklop met ‘n “Giet-jôn, KÔÔFFIE!”

Oeps, verkeerde huis, bed**rde eienaar wat sy kop half deur die war by die venster uitsteek…

Nou herinner ek my weer aan die spreuk:  “Wie vroeg in die môre sy naaste met ‘n harde stem ‘n seën toeroep, dit sal hom as ‘n vloek aangereken word.” (Spr 27:14)

Hoe sal ons naguile nou ooit so ‘n man se hart verstaan?

Disnis

gewerk vandag, maar dis ‘n lekker gevoel om die deur in die aand toe te sluit en te weet jy’t jou absolute bes gedoen.

Dit het met ‘n bietjie opwinding begin vanoggend. Ons spreekkamer is binne-in ‘n groot troeteldierwinkel op ‘n industriële gebied, met Sainsbury’s, Halfords en Focus op dieselfde stuk grond. Toe ek net so voor 09.00 opdaag staan daar van die jong winkelpersoneel buite en wag. Hulle moes reeds om 07.00 begin werk, maar kon nie inkom nie omdat die winkelbestuurder vergeet het om te kom oopsluit. Ons kan darem ons deel se alarm afsit, maar ons ontvangstoonbank is binne-in die winkel en ek het nie die kode vir daardie deel se alarm nie. Toe laat ons maar die eerste mense sommer by die agterdeur inkom en begin werk. Net so na 09.00 daag die bestuurder op, so effens stert tussen die bene.

Gelukkig het die “A-team” vandag saam gewerk. Ontvangs verloop seepglad, noodgevalle word opgeneem en uitgesorteer, en ‘n Suid-Afrikaanse kollega wat hier kom inloer het, het sommer ook gehelp diere vashou en op die koop toe ook ‘n lekker tjoklitkoek saamgebring. Leerlingverpleegster is ‘n voorslag, almal gelukkig.

Partykeer kan dit nogal heel skaflik wees om op ‘n Saterdag te werk. Dalk selfs beter as om te gaan rugby kyk, siende dat die Bokke deesdae ‘n bietjie kleitrap.

O ja en ek sien uit na môre, want daar is nog ‘n halwe koek wat wag.

Vanaand…

…lees ek weer die blogs, en is dit asof woorde skielik weer in fokus begin kom, asof ek die droogte sy jas van die kapstok sien afhaal het om ‘n draaitjie te gaan loop, en ons gou-gou ‘n bietjie kan asemskep.

Onthou jy nog die kortgolfradio? Dis amper so met die blogs. Mens draai die groot knop en swiep verby die stasies, vang hier en daar ‘n snik, of ‘n draalstem, drie diftonge, of miskien ‘n snarsie musiek. Dan kry jy iets interessants, wikkel bietjie die fine tune, en so tussen die gesuis en gefluit kom jy tot rus op die gesprek.

Ek het my nie voorberei op die emosie nie.

Blou Handjies

Pas uit die army (diensplig), in Mei 1990 land ek en beterhelfte in Luxembourg op ‘n Luxavia vlug, ons eerste trippie oorsee. Dom-onnosel maar dapper. Ons doel: verken Engeland. Maar eers moet ons in ‘n bus klim en ry tot in Brussels.

Nou ja, in daardie tyd het ek kontak-lense gedra. Tydens die vlug was hulle veilig in my handbagasie, maar toe ons nou eers op die bus sit en wag wou ek gou-gou my hande gaan was sodat ek die lense kon insit, om die pragtige Europese landskap te waardeer. Daar is ‘n toilet op die bus. Ek maak vir die deur, terwyl die busbestuurder my in ‘n vreemde taal uittrap. Nou dag ek, miskien is dit soos ‘n trein of vliegtuig: mens moet dit nie gebruik as die voertuig stilstaan nie. Ek beduie maar op my beste Engels dat ek nie die toilet wil gebruik nie, net my hande wil was, en maak die deur toe.

Die kleinste vertrekkie het basies dieselfde uitleg as ‘n vliegtuig-toilet, met ‘n miniatuur wasbakkie. Dis hier waar die spreekwoordelike tjorts die fan strike…uit die wasbak se kraantjie pomp daar blou chemiese toiletvloeistof. As jy ooit ‘n porta pottie gebruik het (karavaankampers sal verstaan), dan weet jy hoe dit ruik. Dis min of meer skoon formalien met ‘n bietjie kleursel. Daar’s niks water nie. Nou eers verstaan ek wat die busdrywer my probeer vertel het…

Hier sit ek met my blou hande en my oë wat traan. Vir ure op ‘n bus. Met pragtige omgewing wat verbyspoed. En dit skeel my min.

Noudat ek weer daaraan terugdink onthou ek Leon Schuster se “Gerrie seer handjies Coetzee”, op die wysie van Anton Goosen se “Kruidjie-roer-my-nie”.

Gidivet (blou handjies verleë……)