Vordering

Teen hierdie tyd het ek gehoop om weer ‘n werkende internetkonneksie te hê, maar ons het nog nie eers ‘n foon nie. Ons het reeds amper twee weke gelede hier ingetrek, maar soos gewoonlik wanneer die gidi’s iewers heen trek is daar komplikasies. Ons trek altyd in halwe wrakke in, en alhoewel hierdie huis in ‘n redelike toestand is, moet daar nog steeds heelwat werk gedoen word om dit op standaard te bring. Die vorige eienaar het vir so lank nie ‘n telefoon gehad nie dat die telefoonmaatskappy eers die sypaadjie moet kom opgrawe om ‘n lyn aan te lê na die huis toe. Dan eers sal hulle ook die internet kan aansluit. 

Die goeie nuus is dat ek einde ten laaste iemand vasgepen het om my praktyk te behartig tydens my besoek aan Suid-Afrika oor minder as ‘n maand. Dus kan ek oplaas begin om regtig daarna uit te sien, want daar is ‘n goeie kans dat dit gaan gebeur. Die hele trippie het sy ontstaan te danke aan ‘n skoolreunie op Malmesbury wat ek moet bywoon. Ek dink as ons nog ‘n paar jaar gewag het sou heelwat minder van ons klasmaters dit kon bywoon, dis nou of nooit, as’t ware.

Nou sien ek uit daarna om hier en daar ‘n paar blogvriende te ontmoet. Dit gaan heerlik wees. Ek en een van my beste skoolpelle gaan ‘n bietjie deur Suid-Afrika toer. Die gesin kan nie hierdie keer saamkom nie, dus het ons groter vryheid om terug te gaan na plekkies wat saak maak in my lewe. Wie weet, dalk kan ons indraai by Touwsrivier, waar ek in Sub A op die skoolbanke gesit het. Ek wonder of ek nog die dorp gaan herken?

Van een ding is ek seker. Daar gaan heelwat foto’s geneem word. 

Opgewonde is ek vanaand!