Jong Bikers

From 2008-12-26 Bikers

From 2008-12-26 Bikers

Hulle was baie beïndruk met Andrew se BMW motorfiets, en het soos marsmannetjies gelyk met die valhelm.
Nou wonder ek of mens hulle moet aanmoedig om te leer ry.

Miskien moet hulle maar eers by hulle trapfietse hou vir die volgende 50 jaar….

Advertisements

Weer eens Kersfees

Ek het maar my depressiewe blog en houding oor Kersfees geskrap. Nou begin ons weer oor.
Môre eet ons ‘n ietsie saam by die werk en doen die “Secret Santa” ding. Almal het ‘n naam uit ‘n hoed getrek en ‘n klein ietsie gekoop.

Ons nuwe Kubaan is oulik – interessant dat ons tydgenote en voorsate mekaar deur ‘n geweer se teleskoop betrag het. Vandag kyk ons in dieselfde rigting deur die objektiewe van ‘n mikroskoop.

Vrede op aarde.

Ensemble

Klavier speel is vir die meeste mense ‘n eensame tydverdryf. ‘n Ingewikkelde instrument, en tog die basis waarop meeste van ons se musiekonderrig gerus het. Jy’t nie sommer vroeg al gedurf in die openbaar speel nie. Behalwe vir klavier het meeste van ons nie juis die kans gehad om ander instrumente te leer nie, veral nie in Suidwes se klein dorpies nie. O ja, daar was darem ook blokfluit, maar dit was nie ‘n cool instrument nie. Ek dink nie ek sou met musiek aangehou het as dit nie vir my pa was nie. Hy’t al in sy studentejare begin om plate te versamel en ons het gereeld op ‘n Sondagaand in die donker na die musiek op die Supersonic radiogram gelê en luister. Dis hoekom ek nou nog ‘n passie het vir klassieke musiek, veral Liszt. Daar was ‘n Hongaarse pianis met die naam Gyorgy Cziffra, wat ‘n groot deel van sy lewe in Parys deurgebring het. Sy passievolle weergawes van die Hongaarse Rapsodieë het my geïnspireer. Dan was daar Vincent van Rooyen op die bekfluitjie. Ek’t lank gespaar vir ‘n bekfluitje, en was omtrent in standerd 4 toe ons in Windhoek my eie Hohner Chromonica gekoop het.

In standerd ses is ek Malmesbury toe, en het aangegaan met musieklesse. Waar die talent ontbreek het, het die entoesiasme vir musiek opgemaak, en die skool het ‘n koor gehad. Koor sing was ‘n fantastiese geleentheid om saam te leer musiek maak. Jy hoef nie ‘n wonderkind te wees om in ‘n koor te kan sing nie, en vir ‘n koshuiskind was daar geen groter opgewondendheid as om op ‘n weeksaand nogal, in ‘n bus te klim en op ‘n naburige dorp aan die sangfees te gaan deelneem nie, of saam met ‘n groepie kinders in die Kaapstadse stadsaal na ‘n klavierkonsert te gaan luister nie.

Ek’t reeds geblog oor die koorsingery in Engeland, en dit bring my by die konsert wat ek gister bygewoon het. My oudste seun speel trompet in die junior brass ensemble, en ons ouers moet maar elke Saterdag vroeg opstaan om die kinders by hulle verskillende groepe af te gooi. ‘n Jaar of wat gelede het hy nog in die elementary brass ge-toettoet, en as hy klaar was het ons na die groter kinders in die youth orchestra gestaan en luister. Eendag, my seun, speel jy ook in die groot orkes. Maar van die eerste termyn af het selfs die beginners deelgeneem aan die konserte.

Dis die ding van ensemble spel. Jy hoef nie ‘n boffin te wees nie, maar jy kan reeds die genoegdoening ervaar om saam met jou makkers op die verhoog te speel, en die grootmense aangedaan te maak….en ‘n bietjie trots ook.

Vir Droomkind

Droomkind, ek moet eintlik gaan slaap, maar jou blog is so inspirerend vanaand. Ek wil graag hê almal moet dit lees. Hoe kan mens dan ooit te jonk, óf te oud, wees om iets te leer? Ouderdom mag selfs ‘n struikelblok wees, want met die ervaring kom soms wysheid, maar heel dikwels ook vrees, ontnugtering, gemaksug en middelmatigheid. Vir dié wat ten spyte van hulle ervaring voortgaan om te ontdek, te bevraagteken, en te leer, haal ek my hoed af. Die jeug word gebore met ‘n natuurlike leergierigheid. Hoe vinnig wil ons hulle nie in ‘n blik druk en in ‘n sisteem verstrengel nie. Hoe tragies.

Natuurlik bring die groter ervaring en meerdere kennis sekere verantwoordelikhede. Waarvoor leer ‘n mens nou eintlik? Ja, die leerproses op sigself is soos ‘n opium, dit kan jou meesleur. Daarom kry ons nog altyd die professionele student, wat eintlik moet uitgaan om te werk, maar vir wie leer te lekker is….en werk nie juis na ‘n lekker alternatief lyk nie. Maar as jy nou iets nuttigs geleer het, wat maak jy daarmee, behalwe om jou kollegas en vriende te beïndruk?

Eintlik moet jy ‘n derde element bysit, en dis wysheid. Dit is ‘n ding wat met ervaring kom, en met kennis, maar dit kom ook van wyse leermeesters. Wyse leermeesters is mense wat geleer en ervaar het, en die moeite doen om die jonges te begelei op die pad. En wat is meer fantasties, as ‘n jongeling wat die pad saam met sy mentor ontdek? Die pedagoog put soveel genot om sy student te sien ontdek en ontwikkel. Hy/sy ervaar weer dieselfde adrenalien as die eerste keer: Toe hy die wonder van die mikroskopiese struktuur van die perd se hoef ontdek het. Toe hy die eerste keer glimmende groen fosforbranders op ‘n donker nag sien breek het. ‘n Volmaakte gedig gelees het. Die proses is aansteeklik. In die regte hande kweek dit respek, nederigheid, en bruikbaarheid.
Om te leer is om te leer om te dien.

Nou wonder ek nog steeds oor ‘n grootmens wat eendag vir my gesê het: “Hoekom gebruik jy sulke groot woorde as jy met jou kleuter praat? Hy kan dit tog nie verstaan nie.”

My antwoord, vandag nog is: Hy verstaan baie meer as wat jy besef. Hy kyk met blink oë na elke nuwe woord, suig dit in sy kies soos ‘n suigstokkie, ruik die aroma, bêre dit in sy brein weg. Môre verstaan hy dalk die woord. Vandag verstaan hy my hart vir hom.

Nog ‘n idee. Jy hoef nie ‘n professor te word om ‘n mentor te wees nie, jy kan maar begin met jou eie kind. Of met die jongmens wat oorkant die toonbank staan om bedien te word. Kyk hom in die oë. En nooi hom in jou wêreld in.

Respek, Droomkind.