Bewysstuk

From Desktop
Advertisements

Die Rooi Duiwels

Sal solank ‘n paar foto’s opsit van ons MOB Sondag. Die “Red Devils” het “in geval” by die 40-jarige herdenking van die Weald & Downland Open Air Museum, Singleton.

From Red Devils
From Red Devils
From Red Devils
From Red Devils

Amptelike MOB verslag

Therina het baie foto’s geneem, so mettertyd sal sy dit blog. Ek het ook hierdie keer darem onthou om die kamera uit te haal – sal later sien of iets uitgekom het.

 

Eon was so gaaf om vir Therina tot hier te bring, en hy’t geduldig saamgekuier. Dankie Eon, lekker om jou ook te leer ken.

 

Nadat ons redelik leepoog opgestaan het (lees my pos oor vyekonfyt en slapeloosheid) was dit nie lank nie of daar is ‘n klop aan die deur. Therina en Eon het gou eers tee gedrink en dis waar die eerste (en gelukkig enigste) probleempie opduik. Mev Gidi was reeds weg kerk toe met die seuns, toe soek ek die suiker om in my gaste se tee te gooi. Niks maar niks in die kaste nie. Dis nou behalwe icing sugar en castor sugar. Toe kies ons maar castor sugar en hulle’t dit darem oorleef. Hier rond gebruik mense nie eintlik suiker nie, so ons het lankal opgegee om suiker in tee te gooi.

 

Wel, hierdie Therina is iemand met stamina. Sy’t so pas London, New York en Denemarke platgedraf, maar sy sien toe kans vir nog. Nou ja, hier is ons program vir die dag. Therina, ek weet jy wil eintlik self hieroor skryf, so ek sit net die name van plekke op sodat jy kan weet watter foto’s waar hoort.

 

Ons sit toe af na die Weald and Downland Open Air Museum waar ons ‘n hele paar ure rustig rondgekuier het. Dit was hulle 40ste herdenking en daar was ‘n hele karnavalatmosfeer. 

 

Daarna was ons in Arundel, eers ‘n koppie tee en ‘n kaasskon geniet in Tarrant Street, toe opgery verby die Arundel katedraal tot by die kasteel se krieketveld, daarna weer deur die dorp gery tot by die Swanbourne Lake. Na ‘n heerlike roomys het ons weer die pad gevat huis toe sodat ons gaste nog kon terugry London toe.

 

Meer hieroor later, maar nogmaals dankie dat julle soveel moeite gedoen het om hier uit te kom. Dit was sommer ‘n groot “treat”. En vir wat groete en drukkies saamgestuur het, dit word waardeer. Kom nou sommer volgende keer self.

Een vir Modderkind, terwyl ons nou op ‘n Russiese tema is

Hallo almal, en dankie Modder vir die pragtige musiek vanaand. Ek het nogal weer hierdie week na Heintje geluister. In my skooldae het ons soms na sy flieks by die skool gekyk. Ek dink nie die toneelspel was iets om te onthou nie, maar die besondere toon van sy stem wel. Selfs as jy nie daarvan hou nie kan jy nie die krag in so ‘n jong stem misken nie. Tog te jammer dat Heintje se stem nie watwonders was nadat dit gebreek het nie.

Vyekonfyt en MOB

Hier is dit na middernag en daar word weer nie vannag vroeg geslaap nie. Mevrou G is uit op die straat saam met die Arun Angels tot 04:00 en ek is uitgekyk aan NCIS en CSI, mens kan ook net soveel opeenvolgende episodes kyk. Ek maak gou eers ‘n koppie tee in die kombuis en eet ‘n bordjie ontbytpap. Ja ek weet ek moet bed toe gaan, want wanneer die son vanoggend opkom word daar ge-MOB.

Ek het sommer lekker getoer deur die blogs vanaand. Dit laat my weer besef hoe bevoorregd ‘n mens is om deel te kan word van ‘n groep vriende soos ons bloggers, veral as jy ver van die huis sit. Twintig jaar terug was briewe skryf of peperduur foonoproepe die enigste toeganklike kontak met Suid-Afrika.

Ek wil net gou van die vyekonfyt vertel voor ek gaan inkruip om te probeer slaap. Ja vyekonfyt is baie hoog op my lys. Van kleins af al. Ek onthou hoe die mense veral in die beginjare vir ons kom kuier het met die blikke KOO vyekonfyt, of selfs die ware Jakob, tuisgemaak en versigtig in glasbottels gegiet, in baie lae klere toegedraai. Gelukkig het nooit iets gebreek nie. Hier en daar in spesialiteitswinkels kan ‘n mens deesdae ‘n tipe vyekonfeit koop, maar dis nie dieselfde as wat ons in SA ken nie. In Frankryk kon ons nogal iets koop wat amper reg gesmaak het.

Maar nou kom ek by die groot ontdekking wat mev Gidi so ‘n paar jaar gelede gemaak het. Hier naby ons in Chichester is ‘n groot vyeboom (die presiese plek moet liefs maar ‘n geheim bly). Die boom staan naby ‘n blok woonstelle, en dit lyk of niemand hom waardeer nie. Die vye wat op die grond val word bloot opgehark en weggegooi. Die vye aan die boom word nooit gepluk nie. Tot ons hom ontdek het. Hierdie week is die boom weer ge-oes, en in die kombuis staan vanaand ‘n viertal glasbotteltjies konfyt. Ek het gister die eerste kooksel op my toebroodjies werk toe gehad.

Mmmm! Dan kan ‘n mens mos nie kla nie.

Nou ja, tot later dan, hier gaan ons nou ernstig probeer slaap. En dan gaan ek opstaan en in die conservatory gaan sit, met die son wat deur die glas stroom, en my eerste koppie tee saam met ‘n grondboontjiebotter-en-vyekonfyt-toebroodjie geniet.