Teenoorgesteldes?

Gisteraand vier ons gesinnetjie ‘n mylpaal, en na ‘n baie kompeterende rondtetjie 10 pin bowling (wat die grootmense net-net gewen het) eindig ons by The Dolphin & Anchor in Chichester. Ons is nou nie eintlik te gereeld in die pubs nie (te duur en lawaaierig), maar nadat ons twee ander plekke probeer het (een was toe weens ‘n tegniese probleem, en een was vol), kom ons toe hier uit. Dis so lekker dat ‘n mens kinders, selfs in die aand, hier kan bring sonder probleme. Die kos is heel billik, en daar is genoeg om die rawe se honger te stil. So in die loop van die aand vra een van die kinders wat ‘n pasifis is. Ons sê natuurlik “wat dink jy?” en dis duidelik hy’t “pasifis” verwar met “pessimis”.

En toe tref dit ons: passief en aktief is teenoorgesteldes. Maar kan ‘n pasifis en ‘n aktivis dieselde mens wees? Dit lyk toe nogal so. Interessant.

Hoéveel geweld kan ‘n aktivis pleeg in die naam van pasifisme voordat hy nie meer ‘n pasifis se naam werd is nie. In ons wêreld lyk my nogal heelwat.

Interessant. Of is ek dalk net ‘n pessimis?