Die wêreld is ons woning nie

Die wêreld is ons woning nie

Die wêreld is ons woning nie.
Dit merk ek aan die son wat wyk,
en ‘k merk dit aan die reier wat
mistroostig na die son sit kyk
op een been, in die biesievlei.
En is die laaste strale weg,
dan rys ‘n koue op uit die vlei.
‘n Koue gril deurhuiwer my;
en ‘k sien dit dan in alle ding
wat in die skemer my omring:
die wêreld is ons woning nie.

Die wêreld is ons woning nie.
Dit sien ek as die bloedrooi maan
van agter veldstof opgegaan,
nog net die kerk se dak bestryk,
vanwaar ‘n uil, misterie-stom,
sit na die maan se skyf en kyk.
En nou dit stil word op die straat,
dink ek hoedat die middag laat
‘n lykstoet daar het uitgekom
waar nou die maan en uil ontmoet.
En ‘k merk dit dan aan alle ding
wat in die aandstond my omring:
die wêreld is ons woning nie.

Die wêreld is ons woning nie.
Dit voel ek as die wind ontwaak,
as die eikebome knars en kraak;
dit hoor ek in die fladdering
van voëltjies wat hul vlerke slaan
teen die verwarde boomtakke aan.
En as ek nader kom, dan vind
ek by die maan se wisselstraal
‘n nes vol kleintjies deur die wind
omlaaggeslinger, dood, verplet.
Ek voel dit dan aan alle ding
wat in die nagstond my omring:
die wêreld is ons woning nie.

Totius (1877-1953)