Selfs die gode sukkel met hulle menseverhoudinge

Ja enige iemand wat in ‘n gesin probeer oorleef sal weet daar is hoogtepunte en laagtepunte. Nou-ja vandag is gekenmerk deur beide punte. Die een punt is om ouer te word. Maar ek het my afgestof en opgestaan. ‘n Mens is mos eintlik maar net ‘n dag ouer as gister, al skuif die nommertjies aan. Van die opstaan en afstofslag af kan ek sonder omhaal aankondig dat die dag sonder versuim na die ander punt oorgeswaai het. Dis nie aldag dat ons hele gesin almal saam af het om tyd aan mekaar te spandeer nie. Dis tans “half term” (‘n weeklange blaaskansie halfpad deur die skooltermyn) en die kinders het nie hulle normale orkesoefeninge nie. Ons is af-af-af en af. Check. Nou kan ons almal uitgaan. Gou eers oorgeglip Portsmouth toe om die HMO (House in Multiple Occupation) se vordering te sien. Mev Gidi se afdeling. Sy’t hierdie een saam met ‘n vennoot gekoop en hy’t gewoeker met die omskepping. Daar is tans ‘n groot huisnood in die omgewing, want daar is ‘n hele bataljon dokwerkers wat blyplek soek, dis nou afgesien van al die studente. Dis fantasties as jy nog werk aan ‘n huis en die huurders staan al tou. Vyf van hulle gaan elkeen ‘n kamer huur, en oor ‘n week wil hulle intrek. No pressure. Maar ek sou graag daar wou intrek. Netjiese kamers, lekker dik matonderlaag, televisie, telefoon en internetpunt in elke kamer. Alles nuut oorgedoen. Fantasties.

Portsmouth was bietjie vol, so sit ons dus af terug Chichester toe. Hier is waar ons afgesaal het vir ‘n laat middagete:

Frankie & Benny’s is ideaal vir gesinne. Pa kan ‘n steak eet, kleinboetie ‘n pizza, ouboet ‘n pasta gereg en Ma ‘n hamburger, as sy lus het. ‘n Lekker atmosfeer en groot porsies. En jy kan ‘n bier drink as jy wil.

Dis eintlik oor die fliek wat ek wil skryf. Dis nou iets waaroor ons eie Droomkind al geblog het, naamlik Griekse mitologie (en beslis die moeite werd om te gaan lees), in ‘n moderne konteks. Lekker pret vir die hele gesin. En dis járre laas dat die gesin saam in ‘n fliek was. Gaan kyk gerus die fliek Percy Jackson & the Lightning Thief as dit in Suid-Afrika wys. My oudste is ook 12 jaar oud soos die held van die storie en het dit besonders geniet, maar sy pa het net so lekker saamgekyk. Vir my is daar ‘n sterk onderliggende tema in hierdie fliek wat die probleem van die afwesige ouer aanspreek. Vra my, ek weet. My werk doen dit aan my.

So kom ‘n heerlike dag op ‘n einde. Of wag ‘n bietjie. Dis weer tyd dat die kinders se ma in Bognor se strate invaar vanaand. Sal haar seker eers weer teen 04.00 môreoggend sien. Ja nee ons leef in interessante tye en gesinne is ook nie meer wat hulle was nie. Maar ons geniet mekaar die dag wat ons dit regkry om almal saam te wees.

Advertisements

Op ‘n missie

Die afgelope naweek het die temperatuur ‘n hele paar grade gestyg en die sonnetjie het plek-plek kop uitgesteek. Saterdagoggend was ek ‘n man met ‘n missie, en bevind my in Chichester.

Gou Saterdagaand saam met vriende gaan uiteet by Dragon Rustington.

Sondagoggend luilekker gekuier saam met Suid-Afrikaanse besoekers (uit London) om ‘n bak skons, botter en konfyt.

Toe af strand toe om die lenteluggie te gaan soek. Hy’s nog maar yl, maar daar is belofte in die lug. Een van die dae blom die krokusse.

Nou’t mens weer moed vir die nuwe week.

Lekker week vir julle ook.