Die wêreld is ons woning nie

Die wêreld is ons woning nie

Die wêreld is ons woning nie.
Dit merk ek aan die son wat wyk,
en ‘k merk dit aan die reier wat
mistroostig na die son sit kyk
op een been, in die biesievlei.
En is die laaste strale weg,
dan rys ‘n koue op uit die vlei.
‘n Koue gril deurhuiwer my;
en ‘k sien dit dan in alle ding
wat in die skemer my omring:
die wêreld is ons woning nie.

Die wêreld is ons woning nie.
Dit sien ek as die bloedrooi maan
van agter veldstof opgegaan,
nog net die kerk se dak bestryk,
vanwaar ‘n uil, misterie-stom,
sit na die maan se skyf en kyk.
En nou dit stil word op die straat,
dink ek hoedat die middag laat
‘n lykstoet daar het uitgekom
waar nou die maan en uil ontmoet.
En ‘k merk dit dan aan alle ding
wat in die aandstond my omring:
die wêreld is ons woning nie.

Die wêreld is ons woning nie.
Dit voel ek as die wind ontwaak,
as die eikebome knars en kraak;
dit hoor ek in die fladdering
van voëltjies wat hul vlerke slaan
teen die verwarde boomtakke aan.
En as ek nader kom, dan vind
ek by die maan se wisselstraal
‘n nes vol kleintjies deur die wind
omlaaggeslinger, dood, verplet.
Ek voel dit dan aan alle ding
wat in die nagstond my omring:
die wêreld is ons woning nie.

Totius (1877-1953)

Advertisements

17 thoughts on “Die wêreld is ons woning nie

  1. Dis alles net geleende goed en ons waardeer dit nie. Totius was destyds groot en ek verstom my altyd aan die baie rigiede beryming en metrum van daardie dae. Dit moes ure geneem het om te skryf.

  2. Ek dink op ‘n heeltemal ander manier, want ander emosies, a.g.v. die Zeitgeist, sal dit beinvloed. Skryf vir ons iets, in die lyn van “met apologie aan Totius”, kammakazi. Dit sal interessant wees.;)

  3. Ons is nou maar eenmaal rentmeesters van hierdie ondermaanse, en meestal nie baie goed daarmee nie.

  4. Ja die ou manier van skryf klink baie geforseerd. Ek dink hy skryf baie atmosferies, en dis iets wat ek probeer doen as ek so nou en dan ‘n paar woorde probeer saamflans. Ek stem saam met Lora – kan jy vir ons ‘n moderne weergawe probeer skryf?

  5. Baie melankolies. Ek kan nogal daarmee vereenselwig, veral op ‘n atmosferiese plek soos hy beskryf.

  6. Ek ken nie so baie van Totius nie. Ek onthou net die paar van hom wat ons in die Groot Verseboek gehad het. Ek lees graag ouer SA digters, verstaan dit beter!

  7. Dit vat my ure om ‘n paar woorde in ‘n baie meer vrye styl neer te pen.Van Totius se verse klink onnatuurlik, maar ons is natuurlik nie meer gewoond aan daardie manier van praat nie. Iemand soos Van Wyk Louw was net soveel meer bedrewe met die kuns. Sy gedigte vloei. Kyk maar na die ene wat ek hier langsaan geparkeer het.

  8. Grepies uit my skooldae kom val partykeer in my gedagtes in, dan moet ek dit eers gaan soek. Wonderlike ding, die Google.

  9. Kan jy onthou jare gelede op Radio Suid-Afrika, ‘n program genaamd “Klankpaljas”. Dis waar ek die gedig “Stil aand” deur Van Wyk Louw die eerste keer gehoor het. Iewers het ek nog ‘n kassetopname van daardie program. Hierdie is een van my gunsteling gedigte. Dit het alles wat ‘n gedig vir my die moeite werd maak. Dit bring ‘n prentjie, ‘n emosie, ‘n ervaring in my kop. Ek is daar, in die toneel.

  10. Hi jy, kan nie meer die program onthou nie.. maar ek stem saam met jou van Wyk Louw skilder ‘n prentjie wat jou omtrent ‘n sintuiglike ervaring gee en deel maak van sy gedig 😀

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s