Wenk

Hierdie ene is nogal baie na aan die ware Jakob. Soos die soort fudge wat mens nog by Stilbaai se kerkbasaar kan koop. Of wat jou ma gemaak het. Lekker bros en sonder te veel vanilla.

As jy hier in die koue Engeland sit en verlang na ‘n somerkersfees gaan hy nogal lekker af.

Veral met ‘n glasie KWV Sjerrie……of dalk twee.

Tjeers!

Advertisements

Vandag

25 Desember 2009

Vandag wil ek nie rêgtig terugkyk nie. Die nabetragting los ek vir môre. Ek wil ook nie dink oor volgende jaar nie. Daarvoor is daar genoeg tyd later. Vandag wil ek ook nie te diep dink nie. Daar onder is dit te ingewikkeld.

Vandag…

…loop die sonlig soos kwiksilwer oor die strand se klippies, straataf, en deur die skrefies onder my deur in tot hier langs my bed.

…hou die oggendluggie sy asem op.

…kan ‘n paar stukkies fudge toegedraai in blink papier my hart laat smelt.

…is al die ys ook gesmelt en sit en sing daar ‘n hele boom vol mossies langs die paadjie af see toe.

…kan die kinders maar met hulle driewieltrapkar in die straat esse gooi.

…het ek nie ‘n enkele motorkar sien ry nie.

…is daar ‘n bietjie blink in vreemdelinge se oë en hulle glimlagte amper hoorbaar.

…kan ons vir 1 pennie per minuut Pretoria toe praat, vir ure as ons lus het.

…kry ons dit reg om almal saam “The Incredibles” te kyk.

En môreoggend kan ons wéér laatslaap.

Marazion

Cornwall is Engeland se linkergroottoon. En reg in die waai van die toon, soos ‘n sierlike soolvrat, sit Saint Michael’s Mount. Die Engelse beskou dit as die kroonjuweel van Cornwall. 

So ‘n paar weke gelede doen ons ‘n blitsbesoekie aan Cornwall. As jy hierbo op die kaart kyk, sal jy sien waar Portsmouth is. Ons bly net so ‘n entjie daarvandaan. So al met die kus af neem dit omtrent 6 ure om tot by Saint Michaels Mount te ry. Die naaste groterige dorp is Penzance, en ons gaan tuis in die Godolphin Arms, ‘n kleinerige hotel op die rotse gebou in Marazion. Vanuit die suidelike vensters kan ‘n mens uitkyk op Saint Michael’s Mount. Daar is ‘n “causeway” gebou tot by die eiland, en vir ‘n paar minute tydens die laagste stukkie van laagwater kan ‘n mens gou-gou oorstap soontoe. Maar jy moet jou stap ken.

Net ‘n paar myl verder wes lê Lands End. Tydens ons eerste besoek aan Engeland, amper 20 jaar gelede, het hierdie windverwaaide stukkie rots aan die verste punt van Engeland ons soos ‘n magneet aangetrek. Dit het nogal iets in gemeen met Kaappunt. Die wind hou byvoorbeeld amper nooit op met waai nie. 

Hier onder is ‘n lugfoto van Marazion en Saint Michael’s Mount.

Wat maak ‘n mens hierdie tyd van die jaar in Cornwall, wanneer jy omtrent nie kan regop loop in die wind nie en die reën van onder af onder jou hoed probeer inkruip? Wel, jy probeer die hoogseisoen vermy, want dan kan jy maar net sowel by die huis gebly het so krioel dit van die besoekers. By Okehampton stop al die grootpaaie, en dan is dit meestal klein enkelpaadjies wat al die derduisende voertuie moet hanteer.

Maar Cornwall is pragtig, winter of somer. En so in die laagseisoen kry ons ‘n dakkamer, met ‘n aparte kamer vir die seuns, en elke venster kyk uit op die see. Die hoofslaapkamer se venster is ‘n groot patryspoort, met ‘n ongeëwenaarde uitsig op die eiland, en op ‘n wilde stormagtige nag slaan die branders net hier onder jou teen die muur vas. Jy kan maar net sowel op ‘n skip wees.

In die foto hieronder kan jy die ronde slaapkamervenster sien.

As jy jouself lekker warm toewikkel en op die strand gaan loop lyk dit so:

As jou bandwydte dit toelaat kan jy sien hoe die branders hier onder die badkamervenster vasslaan.

Waar in die wêreld kan jy in jou hotelbadkamer staan en half seesiek begin voel?