Ontnugtering

Flenters beskryf vanaand formele militêre etes met sy gebruiklike presisie en humor. Dit laat my terugdink aan my eie ervaring van die weermag. Ek het in 1988 my studies voltooi, en kon die weermag se “roeping” nie langer verontagsaam nie. Hier pik ek weer vanaand in die bittersoet opdrifsels van my geheue rond soos ‘n strandloper.

Ek het saam met my klasmaats uit Onderstepoort tussen ‘n klomp dokters, tandartse, aptekers en dergelike beroepe opgetrek na Klipdrif in Potchefstroom. Ons was op pad om Medics te word in ‘n onseker dog interessante tyd in ons land. Die vorige regering was aan die uitrafel, en die nuwe bedeling het op die horison gewink. Uit ons oogpunt het die toekoms maar donker gelyk. Terselfdertyd het ons geweet dat baie min van ons enigsins by die grensoorlog betrokke sou raak.

Ek was 24 jaar oud en ons korporaal nie ‘n dag ouer as 18 nie. Die mannetjie en sy jong PF luitenant het die formele gesag van die weermag en die owerhede verteenwoordig, en ons klomp relatiewe “ou” manne het intellektueel en strategies vir hulle ore aangesit. Ons was egter terdeë bewus van hulle probleem: vir hulle was dit ‘n beroepskeuse, en vir ons ‘n lastigheid om daar te wees. In goeie militêre tradisie is daar dus alliansies en ooreenkomste bereik. Ons peleton het “gespark” as daar enige ander range naby was, en as ons agter om die gebou marsjeer het dinge ‘n bietjie minder formeel verloop.

Dit is vir my moeilik om hierdie tyd te onthou sonder die vraagstuk: Waarvoor was ons eintlik daar? Die opleiding is binne drie maande afgehandel. In daardie paar weke het ons terselfdertyd die basiese opleiding en ‘n baie afgewaterde offisiersopleiding ingewurg. Vir my was dit ‘n ontnugtering. Ons het basies ons tyd gemors. Die enigste doel van die opleiding sover ek kon vasstel was om ons so ‘n bolangse inlywing te gee in militêre tradisie en protokol, sodat ons darem nie ons name heeltemal toffie hoef te maak waar hulle ons ookal heen pos nie. En boonop het  baie van my klasmaats, wat op universiteit heel voorbeeldige karakters was, in die weermag heeltemal uitgerafel. So asof die lewe wat hulle daar gelewe het glad nie saak gemaak het nie. My oë het oopgegaan. Die waarheid maak seer, maar dit was ook seker goed.

Ek het nie besef dat die aanvang van diensplig die laaste twee jaar van ons lewe in Suid-Afrika ingelui het nie. My toekomsplanne het glad nie die buiteland ingesluit nie. En tog, hier staan ek nou, amper twintig jaar later, en die rukkie in die weermag is die wankelrige spanbruggie tussen twee baie hoë kranse, die ou Suid-Afrika en ‘n lewe hier in Engeland. Die probleem is, pas nadat ons oor die bruggie geloop het, het die vloed van die nuwe bedeling in Suid-Afrika afgekom en daardie ou tou-en-plankstruktuurtjie soos garingdraadjies en vuurhoutjies in die canyon afgespoel.

Weet jy, al die jare het ek my dienspligjare in ‘n kelder in my geheue toegemessel. Hier kap ek nou met my badza aan die sement en klippe in die deur. Dis eintlik ‘n landbou-impliment, nie regtig geskik vir die takie nie. En tog is dit asof daar ‘n dringendheid is. Hierdie is die enigste stukkie gereedskap wat ek tot my beskikking het. Ek moet gaan kyk wat daar binne aangaan…

Advertisements

Monserrat Caballé op haar beste

Met ‘n groot ompad kom ek vanaand by Monserrat Caballé uit. Dit het begin by Angelor met Lacimosa, via Mozart se Lacrimosa deur Misa Criolla tot hier. Dis wat Youtube so lekker maak.

Gaan die week tegemoet met die suiwer klanke van Casta Diva, uit Norma.

As jy lus het vir nog pret kliek op al die skakels, en gaan vol sirkel met Monserrat Caballé en Freddie Mercury.

Spinnaker Tower, Portsmouth

In Januarie het ek reeds hier oor die Spinnaker Tower geblog. In September was ons weer daar en kon in die toring opgaan en op die glasvloer staan. Mev Gidi skrik nie vir koue pampoen nie, maar ‘n glasvloer 100 meter bokant die grond het haar bietjie bang gemaak. Nota aan self: Moenie weer vergeet om jou skoene uit te trek voor jy op die glas loop nie…

From 20090919 Portsmouth Spinnaker Tower
From 20090919 Portsmouth Spinnaker Tower
From 20090919 Portsmouth Spinnaker Tower
From 20090919 Portsmouth Spinnaker Tower
From 20090919 Portsmouth Spinnaker Tower
From 20090919 Portsmouth Spinnaker Tower
From 20090919 Portsmouth Spinnaker Tower

Kwêk verlang

Dit is die jaar 1996, Oshakati, en daar is nie veel van ‘n keuse nie. Op ons ou militêre dorpie is daar nie ‘n hoërskool nie. Die vorige jaar se kinders is in Otjiwarongo, Tsumeb of Grootfontein in die koshuis. Hier en daar is iemand in Windhoek. Dis ongeveer 800 km ver. 
So ‘n entjie af in die straat bly Renata*. Sy’s ‘n jaar ouer en reeds in standerd ses. Kan nie onthou watter skool nie, maar sy verlang huis toe. As ons om die blok gaan stap op somersaande slaan die hitte teen agtuur saans nog steeds soos staalpenne teen jou skene op.
By Renata-hulle se huis word daar na haar vordering op kosskool verneem. En vir ‘n lang ruk was die standaard antwoord van die bekommerde ouers: 
“Renata huil.”
“Renata kan nog nie ophou huil nie.”
En ‘n paar weke later kom my ma kopskuddend by huis met die nuus:
“Renata huil nog steeds.”
Die arme bloedjies wat so ver moes skool toe gaan. Dit was ook die tyd van Sonja Herhold. So laataand as ek met Sproete** (my brindel basterhond) gaan stap het dryf die soeterig sapperige woorde deur die vensters (Daar was gaas voor die vensters en ek dink hulle het so nou en dan nog iets onbesonne soos DDT daarop gespuit teen die malaria muskiete sodat mens darem jou vensters saans kon oopgooi teen die hitte). Ek onthou nou nog die woorde van haar mees bekende liedjie:
“Kwêk verlang na jou….!”
‘n Jaar later is ek af Malmesbury toe en het self so bietjie verlang. Maar ek was ‘n seunskind. Ons het net 4 keer per jaar, tydens skoolvakansies ons ouers te siene gekry. Hieroor sal ek nog mettertyd dalk bietjie uitwy.
“Verlang jy ook na my, daar waar jy nou in die verre lande bly?”
Ja hier sit kwêk nou self in die verre lande en wonder hoe gaan dit vanaand met Renata.
En of sy nog huil.
*Nie haar regte naam nie.
**Dit was wel sy regte naam.

Dit is die jaar 1976, Oshakati, en daar is nie veel van ‘n keuse nie. Op ons ou militêre dorpie is nie ‘n hoërskool nie. Die vorige jaar se standerd vyf kinders is reeds in Otjiwarongo, Tsumeb of Grootfontein in die koshuis. Hier en daar is iemand in Windhoek, en ‘n enkele een is iewers in die “States” (Republiek).

So ‘n entjie af in die straat bly Renata*. Sy’s ‘n jaar ouer en ook reeds in standerd ses. Kan nie onthou watter skool nie, maar sy verlang huis toe. As ons om die blok gaan stap op somersaande slaan die hitte teen agtuur saans nog steeds soos staalpenne uit die sand teen jou skene op.

By Renata-hulle se huis word daar na haar vordering op kosskool verneem. En vir ‘n lang ruk was die standaard antwoord van die bekommerde ouers: 

“Renata huil.”

“Renata kan nog nie ophou huil nie.”

En ‘n paar weke later kom my ma kopskuddend by die huis met die nuus:

“Renata huil nog steeds.”

Die arme bloedjies wat so ver moes skool toe gaan. Dit was ook die tyd van Sonja Herholdt. So laataand as ek met Sproete** (my brindel basterhond) gaan stap, dryf die soeterige sapperige klanke deur die vensters (Daar was gaas voor die vensters en ek dink hulle het so nou en dan nog iets onbesonne soos DDT daarop gespuit teen die malaria muskiete sodat mens darem jou vensters saans kon oopgooi teen die hitte). Ek onthou nou nog die woorde van haar bekende liedjie:

“Kwêk verlang na jou….!”

‘n Jaar later is ek af Malmesbury toe en het self so bietjie verlang. Maar ek was ‘n seunskind. Ons het net 4 keer per jaar, tydens skoolvakansies ons ouers te siene gekry. Hieroor sal ek nog mettertyd dalk bietjie uitwy.

“Verlang jy ook na my, daar waar jy nou in die verre lande bly?”

Ja hier sit kwêk nou self in die verre lande en wonder hoe gaan dit vanaand met Renata.

En of sy nog huil.

*Nie haar regte naam nie.

**Dit was wel sy regte naam.

Stokperdjies

Ek moet gereeld mense se CVs lees. Jy kry uiteraard ‘n redelike idee oor die persoon uit die aanbieding en taalversorging, kwalifikasies en ondervinding. Dan is daar die stokperdjies. Ander mense se stokperdjies lyk altyd meer interessant as myne.

Ek doen nie bunji jumping, paragliding en extreme ironing nie. As ek hier moet eerlik wees (en wie is nie eerlik op hulle blog nie?), sal ek moet bieg dat ek heelwat te min my eie klere stryk.

Ferret racing, samuraiswaardversameling en ysblokkierangskikkings is nie eintlik my styl nie.
Ek kam nie angorakonyne of Afghan honde se hare uit om te spin en grillerige kledingstukke daarmee te brei nie. (Die naaste aan brei was tolletjie-brei as ‘n kind, en my ma moes my help om die onvermydelike mussie daaruit te maak.)
Seëls versamel het net ‘n paar weke gehou toe ek 6 jaar oud was.

Ek is nie ‘n Trekkie nie, miskien eerder iets nader aan ‘n Voortrekker, behalwe dit lyk my die kakebeenwa het die koers diskant Klipheuwel al byster geraak en in die hartjie van die British Empire ingef…..voeter. En deesdae jaag ons nie meer op ons boerperde rond en jag koedoes met ons voorlaaiers nie. Nee, as ons gelukkig is jaag ons op ons bromponies en met ons vernuftigheid kry ons dalk ‘n bietjie kudos.

Ja, my CV lyk in vergelyking met die meeste darem eintlik maar saai.

Te minste kan ek nou “blogging” byvoeg.

Nou wonder ek net:
1. Het iemand al hulle blogverslawing op hulle CVs bely?
2. Dink jy dit tel in jou guns of projekteer dié stukkie inligting dalk júís die CV reguit in die snippermandjie in?

Een van vandag se wenke

Een winkel se “magnolia” is nie presies dieselfde as die volgende een nie.

Dus, as jy ‘n huis uitverf, skryf die handelsnaam en spesifieke reeks, plus die kleur van die verf binne-in die ligskakelaar. Oor ‘n jaar of wat wanneer dit weer tyd is om die kamer te verf moet jy in elk geval weer die ligskakelaar oopmaak. En siedaar: jy loop reguit na die regte blik verf op die rak.

Nou vir wat het ek nog nooit hieraan gedink nie.