Velskoene

 My voete is nou maar een maal te breed om in “fênsie” skoene in te pas. Daar was ‘n tyd toe ek probeer het, maar die wysheid het geleer dat ‘n mens net sóveel duur pare skoene wat jy gedink het jou gaan pas en probeer dra het en toe moes weggee, kan bekostig. Dis seker geneties, my pa het ook breë voete gehad. Miskien is dit hoe hulle “ingebreek” is. My pa was ‘n Sandvelder en my voete het in Rhodesië, die Karoo en Suidwes se sand, meestal sonder skoene, uitgedy. As jou voete so lyk dra jy maar velskoene, of hier in Engeland, “Clarks Nature”. Die effek as ek nou eerlik wil wees, is meer sleepboot as motorboot. Dis ook maar ok. Velskoene is pretensieloos.

Velskoene is ook veeldoelig. As jy in die oggend deur klitsgras moet loop, kan jy jou sokkies in jou rugsak los. Niemand gaan jou daaroor aanspreek nie. In elk geval nie die karakoelskape of boerbokke in die veld nie. Hulle glip maklik af sodat jy die sand of klippies kan uitskud. Velskoene kan jy ook politoer smeer soos my pa. Hy’t ‘n paar vir veldstap en vir werk gehad.

So hier met die oujaar agter my linkerskouer en die nuwe jaar ‘n mirage daar voor sit ek as’t ware met my voete-vol-blase in ‘n warmbron en asemskep, die velskoene daar eenkant uitgeskop. In die Visrivier is so ‘n plek, waar die warm water sommer so in die sand opborrel, en ‘n welkome lafenis bring vir die moeë reisiger.

Lekker om te dink oor die jaar wat verby is. By die werk het twee mense gegaan en twee nuwe mense gekom en dit het ‘n hengske verskil gemaak. ‘n Span dwarstrekkers het verander in ‘n plesierige groep wat kans sien vir die uitdagings. Ek is dankbaar.

Ek het nou wel nog nie in 2011 die Jakobsweg aangepak nie. Maar ek was in Suid-Afrika. Goeie ruil. En miskien tog op ‘n manier ‘n pelgrimstog. Ons het reünie gehou in Malmesbury. Op die 18de Julie klim ek leepoog van ‘n vliegtuig af in Johannesburg, en klim in ‘n dubbelkajuitbakkie met ‘n piekniekmandjie vol padkos op die agtersitplek, en vat die pad Kaap toe. My ou skoolvriend Francois bestuur, en minder as ‘n halfuur van die lughawe af moet hy skielik hard rem aanslaan – beeste loop oor die dubbelbaan snelweg. Ek is terug in Suid-Afrika…

Eerste slaap Kimberley, by familie. Eet skaaptjops. Volgende oggend deur die vlaktes, stop hier en daar vir foto’s. Kraanvoël langs die pad. Die ongelooflike vorms en kleure van die karooberge. ‘n Koue front-wolkbank in die verte.

Matjiesfontein, dan Touwsrivier, waar ek met skool begin het. Die huisie in Maitlandstraat, die laerskool en koshuis is nog daar, bietjie gehawend maar darem. Die hoërskool lyk of hy beter dae geken het. Dis goed om te weet die dorp is nog daar!

Ons seil by Malmesbury in net betyds om vinnig te stort en daag by die Rugbyklub op. Daar is ongeveer 50 van ons ou matriekklas bymekaar. Dis lekker om mekaar na 30 jaar weer te sien. ‘n Mens het gewonder of dit gaan werk, of mense jou regtig graag wil sien, en of ons baie vreemd vir mekaar sou wees. Ek was verniet bang. Melt vra my om die tafelgebed te doen, en wat ‘n ongelooflike voorreg om vir ‘n paar oomblikke stil te word en te erken, “Ebenhaéser…tot hiertoe het die Here ons gehelp.” En wat ‘n sterbelaaide groep is dit nie!

Vir my tog in die stilligheid ‘n hoogtepunt, toe een ou skoolvriendin laat blyk, “Ek wou nie na die reünie kom nie, tot ek hoor jy kom ook”. Ons skool het nou wel die interskole rugby verloor die dag, maar ons het mekaar weer gevind. Kosbare mense. Ons het koffie gedrink, wyn geproe by my neef Wim wat sy eie privaat kelder het, nommers uitgeruil, in ou skoolbanke gesit, vir foto’s geposeer.

En dan is daar die bloggers en ander vriende. Ons ryg hulle in, Yzerfontein, Somerset Wes, Kleinmond, Jongensfontein, George, Nieu Bethesda, Edinburg, Bloemfontein, Hoopstad, Pretoria, Johannesburg. Niks kom by ‘n vuurtjie iewers op ‘n Karoovlakte, nuwe en ou vriende, ‘n glasie wyn, sterre waaraan jy kan vat. Mense, julle is bloggers, maar bo alles is julle ménse, en dis ‘n eer om julle te kon ontmoet.

Dankbaarheid vir die ou jaar dus.

Ek het nou wel nog nie “How God changes your brain” klaar gelees nie, maar ek dink ek het die hooftema gesnap.

Hier lê ‘n nuwe boek langs my waaroor ek opgewonde is: “Choice Theory” by William Glasser, M.D, A new psychology of personal freedom”. Die eerste hoofstuk lyk belowend: “Choice theory explains that, for all practical purposes, we choose everything we do, including the misery we feel.

Mense, ek wens julle alles van die beste toe vir 2012. Wie weet, dis dalk ‘n rowwe jaar vir party van ons. Daarom is die regte skoene belangrik. Maak plek vir daardie lafenis langs die pad. Sit jou voete in die warm bron so elke nou en dan. Daar mag nou miskien nie Garra Rufa vissies rondswem nie, maar jy sal weer kans sien vir die volgende skof. Gesels met jou medepelgrim. Skouer-aan-skouer is goed, maar soms moet mens mekaar in die oë kyk.

Hier trek ek vandag my velskoene aan.

Advertisements