Ek sukkel om weg te gooi.

So amper twee dekades gelede het ons hier aangekom elkeen met ‘n rugsak, lekker jonk en onbevange. Daar’s min dinge so lekker as om alles wat jy nodig het in ‘n sak met jou saam te kan dra. Die ander goed wat jy agter gelaat het is van minder belang, onnodig.

Hoekom is dit dan so moeilik om weg te gooi? Ons het amper twee dekades gevat om elke keer wat ons in Suid-Afrika gekuier het, nog verder deur ons ou goed te gaan en weg te maak. Aan die begin was dit maklik. Al die meubels en groter huisware het ons verkoop. Al die skilderye en matte is by familie. (Ezile, eendag sal ek weer ‘n ou Suidwes skilderytjie en miskien ‘n karakoelmatjie terug wil leen hoor). En tog is daar nog ‘n paar goedjies by my ma weggebêre wat ek nog nie die hart voor het om weg te gooi nie.

En hier? Wel twee rugsakke vol het gegroei tot twee huise vol. Sommige van ons bokse is by bure gestoor. Meestal die boeke. Ons eie solder is vol goed. Ons koop gereeld ou huise, maak hulle reg en verkoop weer, en gooi gereeld goed weg. En steeds groei ons lys van besittinkies. Nou wie se skuld is dit? Nie my vrou se skuld nie. Haar standaard antwoord is: “Ek wed jou as ek iets weggooi sal jy nie vir my kan sê wat weg is nie, so lank laas het jy daarna gekyk.” En my antwoord is: “Moenie, dit sal my siel skade doen. Ek moet eers behoorlik afskeid neem.”

Ek’s ‘n eekhoring. Ek blameer my pa. Hy’t altyd gesê: “Ek steek dit in my tas, dit kom my dalk te pas.” Die goed wat ek die moeilikste weggooi, is enige iets te doen met ‘n rekenaar. Hier is nie een rekenaar in my huis wat nuwer as 5 jaar oud is nie. Van die ou goed was al half stukkend, soos die leptoppie wat per ongeluk van die tafel af gevlieg het. Want ek kan mos nog partjies by hom gaan kannibaliseer. In elk geval, toe die son vandag so lekker skyn, en die lente so swaar in die lug hang, raak ek roekeloos.

Ek het ‘n volle twee rekenaars vandag weggegooi, en ‘n hele klomp ou zip discs. Daardie goed was mos op hulle tyd fantasties, ‘n floppy disk (of stiffie soos hulle hom in Suid-Afrika noem) met ‘n volle 100 megabite stoorplek! (Ek wonder of die Engelse “floppy” en Suid-Afrikaanse “stiffie” iets met optimisme of gebrek daaraan te doen het?) Nou ja, natuurlik is ek te geworried oor “identity theft” om net die klomp goed in die asblik te gooi. Eers die hardeskyf van my ou skootrekenaartjie sjirurgies verwyder, en met ‘n hamer die ewigheid ingestuur, toe die hopie verwronge plastiek en metaal ewe plegtig in ‘n winkelsak gepak. ‘n Paar gesangversies gesing. En innerlilk ‘n traan gestort. Net innerlik hoor.

En na die tip toe gery met gemengde gevoelens. En weet jy wat? Ek voel vryer vanaand. Die ou rekenaars het natuurlik elkeen ‘n storie. Maar die hardeskyf-geheue wat knus in my kranium tuisgaan sal nie sommer vergeet nie. Tensy een of ander laer lewensvorm dit met ‘n hamer verpletter.

Ek het nog baie ander goed wat ook moet weggesmyt word. Maar gee net bietjie kans dat ek behoorlik afskeid neem.