Hoendertjie – 2

Net ‘n vinnige opvolg: Kiara* en haar gevolg het weer ‘n draai kom gooi vandag. En die kinders was effens terleurgesteld want ons het nie die oranje verband nodig gehad nie. Die goeie nuus is dat sy die been gebruik en dit lyk of dit goed aangegroei het.

Ek sal die weeklikse optoggie mis.

*Name in die storie is fiktief. Die res is redelik getrou aan die werklike gebeure.

Advertisements

Potjie

Nog ‘n geroeste impliment het vandag weer na jare die lig gesien. My swaer kuier hier op die oomblik en hy is onkeerbaar wanneer dit kom by braai en potjiekos. Ek het my ou nommer 1 potjie op die solder loop uitgrawe, en die roes bietjie afgeskuur. Ons moes my pel se potjie ook gaan leen, want ons is 7 monde vandag. Die potjies staan in ‘n kruiwa met ‘n paar bakstene in, met sulke afval plankies vir die vuur. Die son skyn vandag lekker hier in Sussex, en met die humiditeit het ons gesweet.

Dis ‘n tipiese moer-by potjie: hoender (nie Kiara nie!), uie, aartappels, botterskorsie, murgpampoentjie, wortels, brokkoli, ‘n bietjie kerrie, mayonnaise, en ‘n paar ander goed wat ons uit die kaste kon krap.

Steve Martin eet toe ook saam (nie die akteur nie, maar net so ‘n platjie) en ons kuier met ‘n glasie shiraz, lekker Aussie ene met so ‘n skimpie karamel (nou moet ek seker koes).

Vanaand sit ons hier en eet roomys met tjoklit sous. Alles afgesluk met ‘n koffietjie, terwyl die son nog stees hoog sit teen 20.30. Gesellig.

Die bloggery het my weer in aanraking gebring met ‘n groep mense wat al soos familie begin voel. Dis lekker, want jy kan saam kuier waar jy ook al in die wereld op reis is. Ezile, en al die ander wat vanaand ‘n bietjie aan die bobbejaan-blues ly, kom vat gerus ‘n skeppie uit my potjie en kuier saam. Die son kan nou maar gerus sak, want ons skrik nie vir die donker nie.

(Vir meer oor bobbejaan-blues sien vandag se inskrywing op taurokoprologie.)

Goethe

Ek het nog baie min van Goethe regtig met aandag probeer lees, maar hierdie een bly my by – weer eens beskryf dit een van daardie “asem-ophou oomblikke” wat jy vir die res van jou lewe soos ‘n mantel om jou siel gewikkel hou.

Wandrers Nachtlied II Wayfarer’s Night Song II
Johann Wolfgang von Goethe Prose Translation
by Hyde Flippo

Über allen Gipfeln Over all the hilltops
Ist Ruh, is calm.
In allen Wipfeln In all the treetops
Spürest du you feel
Kaum einen Hauch; hardly a breath of air.
Die Vögelein schweigen in Walde. The little birds fall silent in the woods.
Warte nur, balde Just wait… soon
Ruhest du auch. you’ll also be at rest.

Een van my gunstelinge

Vroegherfs

Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rook-vaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte more witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat U wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.

N.P. Van Wyk Louw (Uit “Vier Gebede by Jaargetye in die Boland)

Hierdie reeks gedigte/gebede spreek tot al my sintuie en emosies. Dit bring soveel herinneringe terug. En tog is dit nie perfek nie. Ek wonder soms hoe ‘n moderne Afrikaanse digter dit sou skryf.

Groot asseblief – het iemand dalk ‘n goeie Engelse vertaling hiervoor – ek sou dit graag met my vriende hier in Engeland wou deel.

Hoendertjie

Die kinders het haar hier aangebring: Rhode Island Red kuiken, darem al vere, gebreekte voet. Die x-straal wys die fraktuur redelik laag in die metatarsus. Nie ‘n maklike ene nie, maar reg moet hy. Daarvoor het die kinders emmers vol geloof. Daar’s 4 van hulle, sulke orrelpypies, en hulle ma. Hulle het ook konyne, marmotte, en ‘n ponie of twee. Dis juis die ponie wat die skuld moet dra vir hierdie ongelukkige toedrag. Toe spalk ons hom maar en hoop vir die beste. Die kinders kom elke paar dae vir die omruil van die verband. Dan word daar heel demokraties besluit watter kleur die verband vandag moet wees. Kiara sit op die tafel, doodluiters, en kloek haar genoegdoening oor hulle keuse. Vandag was dit pers, en volgende week het hulle klaar besluit, is dit oranje.

Dit word al ‘n bietjie van ‘n optog. Kiara se maatjie kom saam, sodat sy nie so alleen in die boks moet wees nie. Die jongste kom wys trots die eerste eiers wat een van haar hoendertjies gelê het – een van hulle het nie ‘n dop nie. Die tweede oudste dogtertjie vertel ‘n tipies 8-jarige grappie, ten koste van my. En die ma glimlag ook verleë saam.

Na twintig minute is hulle weer vort. Hier in ons praktyk is nie vensters nie, maar jy kon sweer die son skyn deur die mure in.

Badza

Version 2

Op my foto is ek 10 jaar oud, met ‘n badza oor die skouer. Dis nou ‘n “hoe” of “skoffelpik” as jy dit uit die shona vertaal. My pa het ons aangese om duwweltjies uit te skoffel op die grasperk. By die strandhuis wat pas klaargebou is. Onder wink die see. My uitdrukking spreek boekdele. My pa het my ‘n moerige seun genoem. My ouma was ‘n bietjie meer genadig: “Sy pa se hy’s tog so ‘n moedige kind.”

Nou die dag staan ek weer in die stoorkamer. Ons het gou kom kuier uit Engeland. Die badza is sowaar nog daar. Na my pa se dood is die stoorkamer onverstoord. Die buurman plant ‘n bietjie groente agter in die tuin, maar op die oomblik is daar net brandnetels. Dit het ‘n badza nodig. Hy’s geroes, maar die kop sit nog stewig. Ek wonder wanneer laas het iemand hom gebruik. Dalk was dit nog ek, donkiesjaar gelede.

Vir 18 jaar is ons in Engeland; ‘n halwe leeftyd. Ek hoor nou ‘n nuwe generasie se Afrikaans. Ezile se baldadige blog is ‘n inspirasie.

Dalk moet ek daai badza weer uithaal en hom swaai.