Afrikaans is cool

Ons seuns se Afrikaans het nie sterk begin nie. Dit help nie om in ‘n annerland gebore te word nie, en veral nie as jou maatjies almal Engels praat nie. Al praat ons as ouers Afrikaans was dit nie altyd ewe maklik om hulle in Afrikaans te laat terug antwoord nie. Dus, tot die oumas en oupa se frustrasie moet hulle koningin Lizzie se taal praat met die kinders as hulle behoorlik wil kommunikeer. Dit het bietjie gehelp dat hulle in 2008 vir 6 weke by familie in SA gekuier het. Teen die einde het hulle ampertjies behoorlik begin praat. So nou en dan kom kuier familie uit SA hier by ons, maar dit maak nie soveel indruk nie.

Die probleem is enersyds dat hulle selfbewus voel om te probeer en andersyds dat Afrikaans gewoon net nie cool was om te praat nie.

En ons slaan ons oge op na die berge en wonder waarvandaan daar vir ons hulp sal kom. Ok, dis heuwels. (Hier rond is nie berge nie.) Hulp kom toe uit ‘n interessante oord. Dis so interessant hoe die brein en tale werk. Dis fantasties om te sien hoe die tale inmekaar steek, veral die ondermaanse germaanse groep. Waarvan Engels ‘n sytak is.

Die eerste deurbraak het gekom toe die kinders agterkom daar word met nuwe oë na hulle gekyk by die skool toe mense uitvind hulle is tweetalig. In die land van die blindes is eenoog koning, maar hulle kan darem die taal goed genoeg gooi om indruk te maak. Skielik is Afrikaans “cool”. Veral in die hoërskool, waar daar ‘n babelse verwarring gesprak (of gepleeg) word. Daar is heelwat ander immigrante kinders wat nie Engels as huistaal het nie. Ons seuns word gekies om te help met verwelkoming en integrasie van nuwe skoliere. Dan is daar verpligte Franse en later Spaanse klasse. En hier gebeur toe iets totaal onverwags, en wonderlik. My oudste maak vriende met ‘n kind wat tale aanleer vir ‘n stokperdjie. En die kind besluit om Afrikaans te leer. So elke dag kom hy by die skool en wil weet hoe sê mense “die volgende” in Afrikaans. Hoepla!

Weet jy hoe baie Duits het ons in ons huis of in die koshuis gepraat toe ons in standerd 7 Duits geleer het? Zip. ‘n Mens het dit maar in ‘n boek geleer, en daar het dit gebly, want in ons koppe kon dit nooit nes skop nie. Hier in ons huis werk dit anders. Die seuns en hulle maats praat gereeld Spaans met mekaar, heel spontaan. Sommer so tussendeur die Engels. Dis hier waar Afrikaans stil-stil by die agterdeur ingesluip het.

Toe sit ons nou die aand om die tafel (dit vat nogal heelwat beplanning en organisasie om al vier van ons terselfdertyd om die tafel te kry). En gesels. Meestal in Engels, maar ons is nou in ‘n fase waar ons frases in verskillende tale vergelyk. Van Spaans weet ekke niks, so hulle het die voordeel dat hulle my kan probeer beïndruk. Daar is natuurlik min dinge soos ‘n tienerseun se brein. Jy moet jou mond uitwas en jou voete afvee as jy daar besoek afgelê het!

Ek dink ons het ‘n nuwe familie “in joke” geskep in die proses. Martin praat oor “ag en tagtig”, want hy hou van die g’s. Mev G herinner hom die oumense het van “ag-en-taggentig” gepraat. Dit laat my onthou van ons studentedae, toe ons geleer het om dragtigheidsondersoeke in koeie te doen. Tegelykertyd herinner die ma die seuns dis hulle beurt om skottelgoed te was. En die lig gaan aan in hulle oë! Die handgebaar vir “lang handskoene aantrek” is die nuwe handgebaar vir “skottelgoed was”. (Gryp die pols van die linkerhand met die regterhand en stoot die hand op teen die kaal arm.) Ons professor het so met sy arm op in die koei gestaan en met groot smaak die volgende kwytgeraak: “Wragtag! Pragtag! Sy’s dragtag!

Maar daar is een woord wat hulle histeries laat rondrol het. Dis die Afrikaanse woord vir “hangover”. Babbelaas. Sê dit stadig genoeg om die Engelse woord vir “appelkoosmaag” te hoor.

Hoe dit hier gaan – vir Katrina

Katrina vra toe so mooi vanaand dat ons tog moet sê hoe dit met ons gaan. Ek sit nou al ‘n hele paar dae en wonder waaroor om te skryf en of dit die moeite werd is om oor party dinge te praat. Nou gaan ek net sit en my kop leegskryf, sommer net gesels. Ek hoop nie jy gee om nie. Dis nie ‘n blog met ‘n logiese begin, 3 hoofpunte logies uiteen gesit, en ‘n einde wat alles mooi saamvat nie. Ek gooi net so ‘n paar gedagtes uit, en vir die wat lees tot by die einde, gaan ek ‘n vraag vra waarvoor ek ‘n eerlike antwoord soek. Party van julle ken my mos al lank genoeg.

Eerstens, ja dit gaan baie goed hier. In die dinge wat regtig saak maak soos my gesin, my werk en my gesondheid gaan dit uitstekend.

Natuurlik is dit Sondagaand en ek verlang vanaand onomwonde na die mense wat nie hier kan wees nie. My pa sou hierdie week 77 jaar oud gewees het as hy gelewe het. Ek dink ek mis hom nog net so baie vandag. Ek verlang na my sus (bekend aan baie van julle as ezile, en my ma op Jongensfontein. Maar dis hoe dit is en ons beweeg aan.

O ja, dan is daar nog ‘n paar ander nuusdinge soos Movember. Hierdie jaar neem ek ook deel. Miskien later meer daaroor, in ‘n ander blog.

Dan is daar die minder belangrike goed wat my gedagtes en aandag besig hou. Die klein jakkalsies. Dis die goed waaroor ek voel om te skryf maar nie weet of dit gepas is nie. My pa het altyd gewaarsku: “Small things amuse small minds”. Ek het altyd die ander kant van die geldstuk gesien, naamlik “A man’s accomplishments in life are the cumulative effect of his attention to detail.” (John Foster Dulles). Die probleem is natuurlik watter detail ‘n mens aan aandag gee. En hier loop dit vir my skeef.

Ek is die koning van uitstel. Baie makliker om op die internet rond te drentel (of selfs die blogs – sonder om ‘n bydrae te lewer), as om die skottelgoed te gaan was, of daardie belangrike artikel te gaan lees, of in die koue op my fiets te gaan ry vir oefening. Dit kos inspanning om te beplan en dan deur te voer, om die regte hoeveelheid aandag aan die belangrike details te gee. Dan is daar natuurlik die vrees vir mislukking. Ek was altyd ‘n “alles of niks” tipe mens. Vind dit moeilik om iets aan te pak wat ek nie maklik kan klaar kry nie, is te bang om iets groots aan te pak wat ek dalk nie suksesvol kan deurvoer nie. Nou moet ek sê dit het ‘n verlammende uitwerking gehad.

Dit is nog nie jaareinde nie, maar ek sit en dink oor my lewe en oor beplanning. Die aanhaling gaan mos: “He who fails to plan is planning to fail.” Hierdie woorde word aan verskeie individuë toegeskryf, maar veral aan Winston Churchill, tydens die 2de Wêreldoorlog.

Nou dis waar ek vanaand is. Ek het baie nagelees oor beplanning, nie van die volgende projek nie, maar oor die lewe. MY lewe. Ek besef dat besluite wat ek neem baie ander mense beïnvloed, regstrees of onregstreeks. Ek is nie meer die sorgelose outjie wat matriek geskryf het nie. Ja oor ‘n paar jaar is my oudste seun reeds klaar met skool. Daar is mense by die werk wat na my opkyk vir leierskap. Nog steeds ‘n vreemde gedagte.

Wel, ek werk daaraan. Al hierdie dinge. Ek kyk dit in die oë.

So die beste wat ek tot dusver teëgekom het is Michael Hyatt. Ek het sy blogs begin lees en vind dit ter selfdertyd vreesaanjaend en tog ‘n groot uitdaging. Ek gaan probeer. Te minste dit ‘n kans gee. Dalk net kan ek bietjie meer orde en prioriteit in my lewe kry. Ek het sy gratis e-boek “Creating your personal Life Plan” afgelaai en gelees.

Nou ja vrinne, hier is die vraag waaroor ek gepraat het. Ek het deesdae ‘n nuwe metgesel. Sy deel ons slaapkamer. Met my vrou se goedkeuring. Ek vermoed sy gaan vir die res van my lewe daardie posisie inneem. Ek wil graag jou eerlike opinie daaroor hê.

Hier kom dit. Hierdie metgesel is darem nie vlees en bloed nie. Nee, dis ‘n CPAP masjien.

En dis bleddie ongemaklik.

Mevrou Gidi het my dokter toe gestuur. Dit was ‘n ultimatum. Behalwe ‘n leeftyd se gesnork het sy haar dood bekommer oor die ophou asemhaal ding. En hier is ons nou. Ek is gediagnoseer met slaap apnee.

Die vraag is of ek daaroor moet of kan blog. My blogs was nog altyd persoonlik, maar ek het probeer om weg te bly van skete en kwale. Tog voel ek, daar is ‘n pad om te loop, en dalk ‘n storie om te vertel waarby iemand mag baatvind. Die fantastiese feit is natuurlik dat dit nie iets baie meer ernstig is nie.

Na 2 weke met die masjien is ek besig om wakkerder te word. So glo ek. Nou wonder ek wat ek die laaste 10 jaar gedoen het terwyl ek geslaapwandel het. Soos ‘n ware Rip van Winkel. En of ek behoorlik gaan wakkerword en bykom in die lewe. Want as dit nie werk nie is my verskoning geblaas.

“Busted”

Ja die lewe is ‘n reis. En my passie is om op reis te gaan. En John Pierpont Morgan sê mos:

“The first step towards getting somewhere is to decide you’re not going
to stay where you are.”