Ietsie om die lentereën te besweer

Hierdie een gryp ‘n bietjie bandwydte, maar dis die moeite werd as jy bietjie af voel.

Advertisements

Krummel vir krummel

Party stories vertel ‘n mens krummel vir krummel. Jy maak die koffie mooi sterk, en jy hou die blik beskuit sommer oop langs jou. Vandag se storie kan so ‘n storie wees. Die son is ‘n ware heer, en die wolke en wind het gaan wegkruipertjie speel. Dit kon net sowel Namakwaland gewees het. Maar dis Sussex by die see, en Therina se afvaardiging arriveer per trein.

Maar ek wil nie Therina se pret bederf nie. Sy’t dit reggekry om so tussen die kuier ‘n paar foto’s te neem, en my kamera het ydel oor my skouer bly hang.

Wat ek wel kan sê oor so ‘n dag is: Dit was ‘n besondere voorreg en ‘n verrykende ervaring. ‘n Eerste MOB* is spesiaal. Mense doen moeite en gaan kostes aan om by mekaar uit te kom. 

Dankie Therina, Piet en Schalk dat julle my hoekie van Engeland kom besoek het, en vir die sonskyn wat julle saamgebring het.

*Meeting Of Bloggers

Benadering tot Shakespeare

Hoe vertel jy ‘n goeie storie? Dis nou as jou naam nie Shakespeare is nie? Wel, as jy gidivet is neem jy maar ‘n paar foto’s en skryf ‘n paar woorde. Dit begin nou wel nie op ‘n dramatiese hoogtepunt en eindig op ‘n nóg meer dramatiese hoogtepunt nie, maar in die ware gees van die Sussex landskap rommel dit rustig voort van brekfis tot middernag.

Sien, vanjaar is nog ‘n groot kuierjaar. Ons is vas met werk, maar die familie kuier. Selfs die bloggers begin kuier, wat ‘n groot lekkerte om na uit te sien. (Therina, hoor jy my? Laat die nuwe GPS jou tog net terug help oor die Engelse kanaal sonder verdere skade!)

Dit nou alles in die middel van nog ‘n groot huisrestourasieprojek, maar julle moet dit maar vat soos julle dit kom kry. Wel, jongste skoonsus met Noag-se-handlanger is pas terug in Suid-Afrika, toe kom middel skoonsus hier aan. Spesiaal om ‘n groot verjaardag te vier.

Ousus/wederhelf is die direkteur van verjaarsdagvieringe en gidivet voer bevele uit. Maar dis lekker. Douvoordag word die klein persentjie oopgemaak. Die groot een is nog ‘n geheim. So drentel ons hier teen laatoggend af tot by die see om in die Lobsterpot te gaan eet, en dan al met die promenade af te wandel. Dis ‘n pragtige dag, die beste een hierdie week, as jy die weervoorspelling moet glo. Die seilbootjies en seilplanke is uit op die water en die lug is blou. So vat ons ‘n ander roete terug deur die hoofstraat, verby die kerk, waar ‘n bruidsmotor pas stilgehou het. Twee klein hofknapies lyk tog te ougat met hulle pakke klere en hoë keile. Terug by die huis word die piekniek gepak.

Dan val ons in die pad Arundel toe. Eers moet ‘n mens by die treinspoor in Ford stop, want selfs op ‘n Saterdagmiddag kom daar te minste drie treine, een na die ander, voor die versperrings weer oplig. Jy sit maar by voorbaat jou enjin af, draai die vensters af en luister hoe die klank van die treine aangedryf kom op die louwarm laatsomerluggie. As jy nie oppas nie raak jy net daar aan die slaap.

In Arundel is ‘n pragtige kasteel, ‘n katedraal en ‘n rivier. Bokant die kasteel is die mooiste krieketveld, waar ons indraai en die piekniekkombers oopsprei onder die eikebome. Dan eers vir oulaas om die krieketveld loop om die uitsig oor die rivier daar onder in die vlakte te geniet, en impromptu toeskouers te word van ‘n heel gangbare krieketwedstryd. Hierdie is tradisioneel ‘n krieketveld waar besoekende internasionale spanne ‘n opwarmwedstryd teen die Duke of Norfolk uitnodigings-elftal kan kom speel.

Die kinders moet huis toe gaan, so ek en skoonsus bly agter vir die groot verrassing. Net toe kom daar ‘n tannie aangestap met ‘n armvol programme om te verkoop. Dis die Arundel Fees, en vanaand kyk ons Shakespeare in die opelug. Met ons kombersies en warm truie is ons gereed vir die aand se uitvoering van “A Midsummer Night’s Dream”. Eers moet ons in die kasteelgronde inkom, waar nog baie ander mense ook op die gras piekniek hou, en verder aan draai ‘n spitvarkie luierig in die rondte oor die vuur. Aan die ander kant is ‘n mobiele kroegeendheid opgeslaan, maar dis buitesporig duur. So algaande begin die afwagting opbou tot hulle die groot ysterhekke oopmaak en ons in die Collector Earl’s Garden instroom. Dan is dit soos ‘n Kulula-vliegtuig, waar almal hardloop vir ‘n sitplek, maar jy probeer darem nie te kommin lyk nie, so jy rek eintlik net jou tree sodat dit nie lyk of jy hardloop nie. Dan kry ons darem plekke en kan in die pragtige tuin rondloop. In die voorgrond staan die katedraal hoog bokant die mure uit en aan die kant is die kasteel.

Die besoekende British Shakespeare Company toer die wêreld vol, en tree meestal in die opelug op. Soos die son sak kom die mobiele verhoogligte aan en Theseus en ‘n baie eksotiese Hippolyta kom op die toneel. Hiervandaan ken meeste van julle die storie. Dis ‘n baie knap vertoning, en omdat dit deurentyd so lighartig is kom jy nie agter hoe die tyd verbyglip nie. Ons het net een ding vergeet – ‘n flessie warm sjokolade. Dan sou dit perfek gewees het. ‘n Volmaakte dag.

Skoonsus – mag die volgende 40 jaar nog meer geseënd wees.

 

http://picasaweb.google.co.uk/s/c/bin/slideshow.swf http://picasaweb.google.co.uk/s/c/bin/slideshow.swf

Is dit al ou nuus om te kla

Hier sit ek al ‘n middag lank en skryf aan my blokkie, en vir die tweede keer verloor ek alles in ‘n oogwink. Net toe ek die html link wou insit toe vries alles, en toe die lug weer helder word is die woorde weg.

Dalk is dit ‘n goeie ding? Hopelik word dit beter met die derde probeerslag? Laat mens dink aan die dae toe mens opstelle met die hand moes skryf en daar mog nie foute op wees nie. Nes jy by die laaste reëltjie kom maak jy ‘n spelfout en jy moet oor begin.

In elk geval sal ek nou maar eers die teksgedeelte in Notepad gaan skryf sodat dit nie weer kan wegraak nie.

Ai toggie.