Om lig te reis

Daardie prentjie is nog baie helder in my kop. Die een van ‘n standerd sessie wat op ‘n bus klim in die Kaap vir die lang reis terug Oshakati toe. Dis nou ek, met my klein tassie waarin alles gepak is vir 2 weke skoolvakansie. Ek was van kleins af behep met “lig reis”. Wou alles in my sak kan dra. Verbeel jou my innerlike konsternasie wanneer my goedbedoelende ouma vorendag kom met ‘n kissie Kaapse druiwe vir die mense doer ver in die noorde. ‘n Mens moet polite wees met jou “ouma in loco parentis”. En die mense by die huis mis al die lekkernye van die Boland. En tog. Die verantwoordelikheid in ‘n woeste siedende warm skoolbus, ‘n 24 uur reis tot in Windhoek, dan nog 800 km verder tot in Owamboland. Die verantwoordelikheid tog. Dalk is dit die rede.

Of was dit boeke geskryf deur PJ Schoeman en sy tydgenote, oor seuns wat in ossewaens gaan kamp het, wat alles met hulle saamgeneem het vir ‘n jagtog, en gelewe het van dit wat hulle kon kry langs die pad. Of boeke oor Boesmans wat met pyl-en-boog en veldkennis in die Kalahari oorleef. Selfgenoegsaam. Onafhanklik.

Miskien het die idee van vry wees iets daarmee te doen. Om te kan reis met net die nodigste om mee klaar te kom. Om voorbereid te wees op enige gebeurlikhede, maar nie swaar te dra nie. Dan is dit dalk hoekom staptoere in wildernisgebiede soos die Sederberge of die Visrivier Canyon vir my as kind so aantreklik was. Dis hoekom ons twee in die vroeë 90s Europa kom verken het met slegs ‘n rugsak elk. Daardie wete dat jy op enige vervoermiddel kan klim, of selfs stap as dit moet, en jy’t alles byderhand om groot avonture te beleef. En hoekom ons met die kleinste moontlike campervan Europa platgery het later jare.

Dan skop die lewe in en die bagasie begin ophoop. Fisies – gaan kyk maar in my stoorkamers, en solder, en al die moontlike kaste waar jy aan kan dink. Orals waar jy ‘n deur of ‘n luik oopruk sit die bewyse van oënskynlike mislukking. Die goeters wat jou pootjie en terughou in die lewe. Tekens miskien ook van geestelike bagasie wat ‘n mens maar onwillekeurig optel in die proses.

Ek geniet dit nog steeds om ‘n Easyjet vlug te boek na ‘n jaarlikse Europese konferensie, en met slegs ‘n klein rugsakkie op die vliegtuig te klim, waarin alles is wat mens nodig het vir 5 dae, insluitende ‘n tuxedo.

En net so oor ‘n week terug lyk dit of die winter net so effentjies terugstaan en ‘n snuifie van ‘n lentebriesie deurlaat. Toe my goeie vriend Andrew my bel om te vra of ek wil uitkamp hoef hy nie twee keer te nooi nie. Hy is nog ‘n voorbeeld van iemand wat lig reis. Met sy motorfiets ry hy Europa plat vir weke op ‘n slag. In daardie enkele kissie agterop is alles wat hy nodig het.

Laataand in Februarie sit ons iewers in die Sussex heuwels om ‘n vuur. Andrew lees voor uit ‘n boek getiteld “A Shed Of One’s Own: Midlife Without the Crisis”, deur Marcus Berkmann.

‘n Skreeusnaakse boek eintlik, wat ‘n mens se soeke na onafhanklikheid so raak beskrywe. Ek vermoed elke man wat hier lees sal verstaan hoekom daar so ‘n intense behoefte in ‘n mens is om iewers ‘n plekkie van jou eie te hê, ‘n spreekwoordelike, of selfs fisiese buitekamertjie / wendyhouse / shed waar jy die botoon voer, en niemand toegelaat word sonder om die korrekte wagwoord te uiter nie. Ek vermoed meeste vroue sal saam met mev Gidi hard probeer om hierdie obsessie te begryp, en dit selfs regkry, maar ek twyfel of daar baie is wat heelhartig daarmee sal wil saamstem. Maar die allerlaaste ding wat ek hier wil doen is om ‘n debat te begin tussen XX en XY. Ek wonder maar net.

Nou moet jy my reg verstaan. Ek is nie ‘n kluisenaar nie. Die idee om op reis te gaan is fantasties, maar selfs in die vreemdste plekke soek ek altyd na kontak, al is dit hoé oppervlakkig, met my medemens. Maar as jy in my rugsak krap, kry jy heel moontlik die nuutste model afgesnyde tandeborsel.

Nou lyk dit my die (vroeë) middeljarigheid het niks gedoen om die obsessie van my jeug te temper nie.

Advertisements

25 thoughts on “Om lig te reis

  1. ek het net 1X met ‘n groot tas gereis en besluit nooit weer nie. Hierdie lang trek van my was groot tas egter weer noodsaaklik.My kinders het ook free range groot geword

  2. Naand roosdoring. Ek het nou wragtie deur my hele blogroll gegaan. Ai daar’s so baie weg. Dit voel of ek deur ‘n spookdorp loop. Dis niks lekker. Nie.

  3. Ja-nee, ek stem! Lig reis is al wat werk! Op my Spaanse Camino het my rugsak nooit meer as 8kg geweeg nie.Ek het besluit ek gaan in Oktober ‘n stappie maak na die Everest basecamp, maar sal hierdie keer meer warm goed moet saamneem, en dan ook ‘n paar kg’s meer.Groete,Tertius

  4. Goeiemôre, ek kry toe nog ‘n klompie waarvan ek al amper vergeet het. Nou voel ek beter. Ek reis dalk fisies lig, maar ek wil nie eintlik graag vriende langs die pad verloor nie.

  5. Dis nog steeds ‘n vae doelwit by tye, veral as ‘n gesin se bagasie bykom. Dan moet ons nog die sleepwaentjie aanhak vir mev Gidi se handsak. Oeps ek skrap die laaste sin, sy loer oor my skouer…

  6. Ek is nou net herinner dat as ek so graag lig wil reis sal sy my help om al die ou rekenaarkarkaste wat ek opspaar om dalk nog hier en daar iets van te gebruik, in die asblik te gaan goei. Sy’t nog ‘n fundamentele en teenstrydige karaktertrek van my raakgevat – dis nou die opgaardery by die huis. Ek blameer my pa wat gesê het: “Ek steek dit in my tas, dit kom my dalk te pas.”

  7. Ek sal graag jou paklysie wil sien. Hier by ons is ‘n besigheid genaamd “Rohan” wat ideale klere maak vir daaglikse dra sowel as stap en bergklim. Hulle filosofie is vir my baie aantreklik, maar hulle pryse is bietjie taai. Dan was ons maar altyd vir die uitverkopings. http://www.rohan.co.uk/Hulle katalogis is die moeite werd om te bestel.

  8. Ja Gidi, altyd die spanning tussen die twee uitkyke. Ons is besig met huisskoonmaak, selfs die boeke waai hierdie keer. Almal behalwe die HEEL kosbaarstes. Daar is mos nou Kindle ook. Maar dis baie, baie swaar om weg te maak.

  9. Ek hou ook van lig reis, maar dis meer omdat ek so agterlosig is as iets anders. Ek is soos die een in Chris Charmeleon se liedjie ‘Reis’. Goed geskryf!

  10. Ai die boeke maak seer. Hier is seker 50 bokse boeke wat ons nie kan uitpak nie want daar is nie plek nie. Sal maar seker mettertyd ‘n kindle aanskaf of iets soortgelyks.

  11. Om van ‘n goeie boek afskeid te neem is soos om van ‘n goeie vriend afskeid te neem! Maar mens se plekkies raak kleiner.

  12. ek dwaal hier in skotland rond. vlge week gaan ek bietjie suid ry. hoekom bestel jy nooit beter weer nie?

  13. Vat jy bestellings?Nee wat, ek het maar verlief geneem met die weer toe ek hier kom bly het. Laat weet as jy Sussex toe kom, dan kan ons ‘n plan maak.

  14. stem saam mens (XX en XY) moet jou eie plekkie hê waar jy koning kraai. ek was ook ‘n groot opgaarder, en sentimenteel, maar op ‘n tyd kry mens dit tog reg om weg te gee/gooi. ek pak altyd te veel ‘vir die wis en die onwis’, so die skrywe het my inspireer on lig te pak vir my volgende reis 🙂

  15. Hi daar, bly om te sien jy’t weer ietsie geblog… skuus, ek kom net eenvoudig die laaste half jaar seker al nie in blogland so gereeld soos ek graag sou wou nie… daar is seker ook maar ‘n rede voor… maar ek mis al my blog maatjies… Hou van jou possie… ek dink ek sou ook nogal so lig kon reis.. maar my man – NOOIT! xx

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s