Anderkant Cuito

Ek het die grensoorlog vrygespring. As ‘n 10-jarige kind was ek darem so ‘n paar kilometer oor die grens van Angola tot in Santa Clara. Ons het einde 1975 Oshakati toe getrek, en ek het daar op die skoolbanke gesit in standerd 5. Daarna is ek kosskool toe in die Boland vir my hoërskooljare. My pa was eers vise-hoof en later hoof by Eluva skool vir blindes en dowes naby Ondangwa. Mettertyd moes hulle ook die deure oopmaak vir kinders met liggaamlike gestremdhede. Dis was oor die algemeen nie weens polio of serebrale gestremdhede nie, maar amputees veroorsaak deur teen-personeelmyne; slagoffers van die grensoorlog.

Die kanonne het geraas in Oshakati, maar dit was vir ons kinders ‘n avontuur.

Van my skoolmaats is na matriek grens toe. ‘n Groot klomp van julle wat hier lees was op die grens of in Angola. Party van ons maats is oorlede of gewond. Ek het diensplig uitgestel om veeartsenykunde te gaan studeer en toe ons uiteindelik in Junie 1988 opgeroep is Potchefstoom toe om by die SA Geneeskundige Dienste aan te sluit was die grensoorlog in sy finale fase. Op daardie stadium het ek nie geweet van Cuito Cuanavale nie. Ons is meestal uitgestuur om siviele poste te vul, en so het ek op Mmabatho beland by die Unibo School of Agriculture. Toe ons uitklaar in Mei 1990 is ek Engeland toe.

Hier en daar kom ek tydgenote teë wat in Angola geveg het. Dit is vir hulle moeilik om daaroor te praat.

Intussen word dit Augustus 2011, en ek gaan Suid-Afrika toe om op my spore terug te loop. Ons hou ‘n klasreünie op Malmesbury en ek doen sommer by ‘n klomp ander plekke aan wat vormend in my lewe was, praat met ‘n paar mense wat nou betrokke was by die grensoorlog. En so heeltemal terloops gee my suster my ‘n boek oor die grensoorlog: “Anderkant Cuito” deur LJ Bothma. Ek het die boek op die vliegtuig begin lees en so pas voltooi.

Dis die eerste boek wat ek lees oor gebeure in Angola tydens die oorlog waar soveel van my tydgenote betrokke was:

‘n Groepie oudsoldate gaan op ‘n toer om sommige van die plekke te besoek waar hulle tydens die Grensoorlog gedien het.

Soos hulle terugstap op hulle spore soek hulle die waarheid, reik hulle uit na eermalige vyande, en konfronteer hulle eie nagmerries en spoke. ‘n Baie interessante konteks word ook aan hierdie reisverhaal gegee. Die skrywer gaan haal naamlik die geskiedenis sover terug as die Dorslandtrekkers, die Boereoorlog en die Rebellie van 1914. Hy bespreek die moord op die Owambo-koning, Mandume ya Ndemufayo deur Suid-Afrikaanse magte tydens die Eerste Wêreldoorlog, en verduidelik hoekom ons pogings om die steun van die plaaslike bevolking te wen so onsuksesvol was.

Die reisigers ry vanaf De Wildt in Suid-Afrika via Botswana tot by Windhoek, dan noordwaarts tot in Angola. Die verste doelwit is die brug by Cuito, en ek haal aan vanaf die agterblad: “Die reis lei na die veelbesproke Cuito Cuanavale: Wie het gewen? Anders as destyds, word die brug by Cuito hierdie keer oorgesteek. Anderkant Cuito is waarheid, bevryding en verligting. Maar die pad lê gesaai met wrakke en geraamtes…”

Aan die een kant is dit ‘n baie persoonlike reisverhaal, wat veral van waarde gaan wees vir oudsoldate van bogenoemde en in ‘n sekere sin ook ander militêre konflikte. Maar wat het dit te doen met iemand soos ek, wat dalk al op van hierdie plekke was, maar nooit by die oorlog betrokke was nie? Ek verstaan te minste nog die militêre spreektaal en slang, want ek het daarmee grootgeword, maar wat van vandag se kinders wat nooit diensplig gedoen het nie?

Tog kom ek tot die gevolgtrekking dat hierdie boek geskryf is vir almal. Dit is moontlik om die vertelling en redenasie te volg sonder om elke detail te begryp. Daar word dikwels na gebeure en persone verwys waarvan ek geen kennis dra nie, maar die boodskap kom steeds sterk deur. Die boek is goed nagevors, en dit is duidelik dat die skrywer te midde van sy baie persoonlike betrokkenheid by sommige van die gebeure steeds daarin slaag om objektief na die feite te kyk.

Baie mense het in hierdie konflik gesterf, insluitende lede van die plaaslike bevolking. Daar sterf nog steeds onskuldige mense in Suid-Angola vandag weens landmyne wat in daardie jare daar geplaas is. Behalwe die vraag oor wie nou eintlik gewen het by Cuito Cuanavale is daar ook die baie meer universele vraag: wat is die sin van oorlog?

Vir ‘n meer onbetrokke leser soos ek self, wat nooit in die oorlog geveg het nie, en wat reeds sedert daardie tyd in die buiteland woon is hierdie boek steeds die moeite werd om te lees.

17 thoughts on “Anderkant Cuito

  1. Ek is bly dat jy veilig tuis is, Gidivet!Ek sal die boek vir Hartman aanskaf. Hy was een van die ouens wat daai oorlog oorleef het.

  2. Ek moet erken, my kennis van oorlog strek slegs van my Ouma en Oupa se oorlogvertellings tot by die gedigte wat ek daaoor gelees het, en die was meestal protesgedigte teen oorlog.

  3. Ek lees hier en ek sug swaar… Nou die dag wys ek my seun ‘n video van Bok van Blerk se kaplyn en hy dink dit is ‘n movie … die wat nie daar waas nie kan nie verstaan nie … Ek het dit oorleef en moet daarmee saamleef … na al die jare as ek alleen is en dit is stil in die aand dan raak die gedagtes diep en dan … ja dan …

  4. Ai Ludwig, hierdie is nie goete wat enige mens moes deurgemaak het nie. En vir wat?Terloops, lekker om te sien jy lees nog van tyd tot tyd hier. Ek hoop dit gaan goed.

  5. Ja wat sal die van ons wat nie daar was nie werklik kan verstaan?Ek glo wel dat in die meer algemene sin dit goed is om te kan teruggaan na jou “Cuito’s” en daar te gaan vrede maak, sodat jy jou nie deur ‘n traumatiese verlede laat definieer nie.

  6. Ja konflik, en oorlog, laat ‘n spoor van verwoesting na, selfs by die sogenaamde oorwinnaar. Dit was in hierdie boek tog vir my kosbaar dat voormalige vyande mekaar hier die hand van respek en versoening kon gee.

  7. Ek dink dit was onvermydelik. Indien FW dit nie gedoen het nie sou die land tog op die ou end daar uitgekom het en dalk met baie groter chaos.

  8. a very sad time in our history. Both my brothers were in that ‘war’ and both changed after a tour, never to be the same again. What did they see? they never spoke…

  9. We may know a lot about the human condition, however you and I only have second hand information about real war. I prefer it to stay that way, especially when I look at my friends who were there in the heat of battle. There is no common interface for them to talk to me about their experiences. I suspect when they are amongst their fellow soldiers they may be able to speak more freely, but probably still can’t trust themselves to go much deeper than the superficial stuff like where they served and everyday anecdotes. What impressed me about this book is that in some instances fellow soldiers were able to reach out to each other even from opposite sides of the conflict and found they had a lot more in common than you would expect, and that for many they were but a pawn in the hand of politicians.

  10. oh Gidi, how insightful! Thank you.about the time the book was launched, I watched an interview with some of the men involved who had gone back and united with ‘their enemies’. It was a very moving moment for me.

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s