Klankpaljas

In die jare sewentig en tagtig was daar ‘n program op die Afrikaanse diens van die SAUK: Klankpaljas.

Ek moes reeds as kind daarna geluister het, en mettertyd ook as student.

Hier in ons huis is nog ‘n kasset van een van daardie programme, die een waar ek die eerste keer die gedig “Stil aand” deur NP van Wyk Louw gehoor het.

Gaan lees gerus ook hier, waar Kleinboer ook hieroor geskryf het. Wat ‘n skade dat hierdie opnames blykbaar verlore is.

Ek so baie graag daarvan wou bekom as iemand ook opnames daarvan gemaak het.

Ek het vanaand weer na die ou kasset geluister. Agterop is ‘n UNISA Teologiese Etieklesing uit 1994. Dis toe mev Gidi nog probeer teologie swot het. Hier in Engeland het dit onmoontlik geword om by te bly, want die boeke uit Suid-Afrika het heeltemal te laat hier aangekom. Die dat ons toe maar sommer die agterkant van die kasset gebruik het om ‘n opname van Klankpaljas genaamd “Winter” op te neem. Die een vers meer atmosferies as die volgende, die musiek wat meer en meer trekkerig word soos die kasset verder aanrol.

Miskien is dit tyd om bietjie self ‘n digbundel nader te sleep en weer vir mekaar gedigte voor te lees, soos ons soms gemaak het toe ons die eerste keer hier in Engeland aangekom het, presies 21 jaar gelede.

Maar waar is my Groot Verseboek? Iewers in ‘n boks op die solder. Wie weet, dalk as ons nou weer trek sal daar ‘n plekkie wees vir ‘n boekrak, waar sommige van die ou boeke weer ‘n regmatige plekkie kan kry.

8 thoughts on “Klankpaljas

  1. Dankie, ek sal gaan kyk of dit aanlyn beskikbaar is. Te minste is daar ‘n kans om dit selfs iewers op te neem en te hou.

  2. voordat jou bandjie te veel uitgerek is, moet jy dit op CD laat oorsit. dis blykbaar nie so moeilik as jy nie so tegnologies gestermd soos ekke is nie

  3. My poging om dit direk met die foon se mikrofoon op te neem het misluk. Ek sal iemand moet soek wat dit professioneel kan doen.

  4. Ai, mens wens jy kan van die ou goed in die hande kry! Toe het mens dit nie soos kosbaarhede hanteer nie – gedink dit sal maar altyd daar wees…. En nou verander alles so vinnig dat mens jou ou films, videos en alles vinnig op nuwe tegnologie moet oordra voor dit ook vir altyd verlore is.

  5. So met die trekkery kom ek op bokse en bokse foto’s en skuifies af, dateer van skool dae tot heel onlangs, net voor ek my eerste digitale kamera gekry het. Nou kyk ek of ek dalk ‘n film scanner in die hande kan kry. Sal lank vat on alles te scan, maar miskien kan ek ‘n paar goeies kies.

  6. My man het nou vir R400 (dit sluit aflewering in) op e-bay ‘n scanner gekoop wat 4 skyfies gelyk scan, en dit gebeur in sekondes. Voorheen moes hy hulle een vir een scan en dit het minue lank geneem vir een. Dalk moet jy in so iets bele?

Leave a reply to gidivet Cancel reply