Mymeringe oor 2011.

Hierdie gidivet is ‘n uitsteller van die eerste water. Hy maak nie sommer nuwejaarsvoornemens nie, behalwe nou as daar sekerheid is oor die suksesvolle uitvoering daarvan.

In 2010 het ek my dit ten doel gestel om meer oor Real Ale te leer, en ek moet rapporteer dat dit ‘n groot sukses was. Ek het redelik metodies te werk gegaan en heelwat nuwe biere geproe. ‘n Baie aangename proses.

My tweede voorneme was om meer positief te wees, en weer eens moet ek erken dat dit oor die algemeen gewerk het. Tog is dit ‘n meer esoteriese en minder meetbare doelwit. My medemens moet dalk maar die finale oordeel fel.

En hier spring ons nou voete eerste (wel dis beter as om voete eerste gedra te word – heelwat beter) in 2011 in.

Wat maak ‘n mens met 2011? My besigheid is nou, meer as ooit, op ‘n kritiese fase. Ons het so pas ons tweede verjaarsdag gevier, en ek weet hierdie projek gaan my onverdeelde aandag en energie vereis om nie net te oorleef te midde van ‘n resessie nie, maar te groei soos dit moet.

En tog.

Tog is daar ‘n dieper dimensie. Daar moet iets meer wees. ‘n Tema vir hierdie jaar en die wat hierop volg.

Ek hou van reis. Vandat ek kan onthou is dit ‘n passie. Ek wil nuwe plekke sien, hoor, proe, ruik – ervaar.

As ek na my blogs van die afgelope 2½ jaar kyk is dit ‘n onderliggende dryfveer.

Ek praat in terme van stewels op ‘n gruispad, tekkies op ‘n treinstasie, ruitveërs, kopligte, druppels op ‘n warm teerpad, ‘n lied in die hart.

Waarheen in 2011?

Wel, terloops is daar ‘n skoolreünie ter sprake. Klas van 1981, Hoërskool Swartland, Malmesbury. My hart staan ‘n punt om daar uit te kom.

En net vanoggend het daar, so saam met die nuwe jaar, ‘n nuwe boek in my versameling grondgevat, die eerste elektroniese boek waarvoor ek betaal het: “How God changes your brain“, deur Mark Robert Waldman en Andrew Newberg.

Die boek is die vrug van voortgesette navorsing oor die invloed van spirituele aktiwiteit op die fisiese ontwikkeling van die brein.

Die eerste paar bladsye beloof ‘n fassinerende reis deur ‘n wêreld van dendriete en neurologiese bane tot by ‘n dieper begrip vir die fisiologie van godsdiens.

Jy sou tereg opmerk dat dit ‘n mondvol is. Maar dit lok my, want dit spreek daardie dimensie van menswees aan wat hom mens maak, die soeke na iets buite homself, iets groter as sy worsteling op oorlewing, die ontwikkeling van die vermoë om nie net te resoneer met die emosies van ‘n medemens nie, maar ook die vermoë om te reageer op ‘n ander se pyn.

Ja ek wil hierdie boek lees, oordink en beproef.

Miskien gaan my blote doellose reis ‘n pelgrimstog word.

En dan is daar natuurlik ‘n jarelange droom, om die “Jakobsweg” te gaan stap. El Camino de Santiago, ‘n pelgrimstog na Santiago de Compostela. Wie weet, dalk gee ek die eerste paar treë op daardie roete vanjaar.

Advertisements

11 thoughts on “Mymeringe oor 2011.

  1. Ek het die link gevolg en ek dink hmmmm, ja, jy sal dit kan doen! ; )Voorspoed vir die jaar, Gidivet, mag jou besigheid groei soos dit moet.

  2. Ai hier sit ek sommer met ‘n knop in die keel Ek is seker jy gaan hard werk aan die drome. Dankie vir die lekker leesgoed wat ek altyd hier kry

  3. Baie dankie Lou, baie voorspoed vir jou. Weet jy, dit wat ek jou (in alle erns) toewens is wat ons hier in opregte Ingels “FUN” noem. Ek dink nogal jy’t ‘n kapasiteit hiervoor, so hier kom dit suster…jou jaar gaan miskien nie sonder klippe en donkiemis wees nie, maar daar staan FUN in groot letters oor geskryf. Maak daarvan wat jy wil.

  4. Haai Tina, die knop in die keel en genieting van lekker leesgoed is wedersyds, al lewer ek nie altyd kommentaar deesdae nie. Ja ons gaan hard werk vanjaar. Ons gaan daardie pad loop wat geloop moet word.

  5. Nou ja ek hoop jy’s lekker fiks. Ek hou nie baie van alleen loop nie, so dis eintlik ‘n baie kosbare aanbod. Dankie.

  6. Ja ek het al in desperaatheid begin kyk na WordPress, nogal nie ‘n ongewone denkrigting nie.Ja weet jy ek het Skotland ook op my lys, maar ek het maar opgehou skryf en gepos toe dit so 01:30 GMT was. Laat my weer dink aan die ou Wrex Tarr grappie: “Good evening. It is 8 o’clock Greenwich………………meantime here is the news.Jy’t ook ‘n paadjie om te loop hierdie jaar. Nie ‘n reguit paadjie nie, meer soos ‘n bospaadjie, maar die sonlig maak ligkolletjies wat rondom jou in die paadjie dans. Onthou dit.

  7. maak die Camino ‘n prioriteit… selfs al doen jy net solank die eerste 165km van St Jean Pier de Port tot by Logrono (7 dae). Of as jy bietjie langer tyd het, nog 5 dae tot by Burgos.(287km)

  8. Eish Terr, ek wil graag. Dis op my lys vir die volgende 3 jaar. Maar ek gaan solank bietjie hier in die UK oefen, sommer met my seuns op die South Downs Way sodra die weer bietjie meer leefbaar word. Dankie vir die inloer, dit klink of jy uit ervaring praat. Was jy daar? Ek dink jy moet ‘n blog daaroor skryf. Dit sal help vir die inspirasie.

  9. Ah! Jou voornemens is benydenswaardig. Ek sou ook graag nog die El Camine de Santiago wil gaan stap. Maar nie hierdie jaar nie. Mooiste wense vir 2011 – mag jou besigheid gedy!

  10. Ek hou van jou voorneme.. en mag jy DV die pad ving na Malmesbury toe as dit jou hartswens is.. Hoop net nie jou reunie is in die somer nie want hierdie jaar het ons nogal ekstreme weer!x

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s