Husky man

Sy loopbaan het gepiek in die 1970s en -80s. Toe het hy elke husky resies wat die moeite werd is gewen met sy span. Gereeld ook oorsee meegeding.

Vandag staan hy in my spreekkamer met een van die ou honde in sy arms.

So ‘n paar weke terug hier aangekom met sy wit paneelwa. Hy woon eintlik in Skotland, maar sy aksent is maar van hier rond. Die hond-reuk loop so ‘n paar treë voor hom uit. Krommerig, dun, driedagoudstoppels sweterig.

Mens kon sweer hy woon in ‘n hondehok.

Is eintlik op pad Frankryk toe met sy honde. Hy wys hulle vir my uit: hierdie een was verlede jaar nog ‘n kampioen. Daardie een het ‘n hele paar kampioene geteel. Hulle moet paspoorte kry om Europa toe te gaan. Ek moet die hondsdolheid inentings en bloedtoetse doen. Lekker om met hierdie honde te werk. Niks foefies nie. Seningrige atlete. Sterk STERK hondereuk. Net die baas ruik erger. Maar hulle staan stil vir my ondersoekende hande, glimlag nou nie eintlik nie, maar so nou en dan sal ‘n grinnik vir ‘n splitsekonde deurslaan.

Goeie besigheid dié. Ek het onlangs een van sy vriende ook gehelp en sy vriend het hom aangestuur na my toe.

Laasweek ‘n hond se been met krammetjies toegezip – net ‘n bietjie lokale verdowing en die hond staan soos ‘n standbeeld. Bietjie soos hulle baas. Dit was laasweek.

Vandag staan hy in my spreekkamer met een van die ou honde in sy arms.

Die oudste van die huskies is 9 jaar oud. Hardloop nog steeds gereeld saam in die tuig. Hier in die woude by ons trek hulle ‘n karretjie met wiele. In Skotland het hulle genoeg sneeu in die winter vir ‘n slee.

“Waar gaan jy tuis meneer?”

Nee wat, hy is maar hier by vriende.

Vandag staan hy in my spreekkamer met een van die ou honde in sy arms.

Hierdie een het kanker, kan nie saamgaan Frankryk toe nie. Sy’s eintlik die ma van dáárdie een wat ook ‘n kampioen is. Die kanker het al versprei. Frankryk toe kan sy nie saamgaan nie.

-o0o-

Ons dra haar op ‘n stretcher agter by die gebou uit. Regs onder die afdak deur. Hy’t die wit paneelwa doer uit die pad uit getrek waar die mense nie kan sien nie. Dan is ons op die gruisklippies en die volgende oomblik glip sy voet en lê hy verdwaas op sy rug met die hond half bo-op hom.

Vandag staan hy in my spreekkamer met een van die ou honde in sy arms.

Dan kry ons darem weer die hond so half op die stretcher en kom by die wit wa. Stoot hy die sydeur oop. Op die voorste sitplek sit ‘n jongetjie, baie wakker, vriendelik maar nie juis emosie nie. Agter in die wa sit die hokke met so ‘n stuk of sewe ander honde. Teen die een kant af ‘n matras. Ketel, rugsak, harnas. ‘n Brood.

‘n Ou hond wat nie saamgaan Frankryk toe nie. Vanaand begrawe hulle haar in die woud waar die honde oefen.

Advertisements

26 thoughts on “Husky man

  1. Diep geskryf en mooi vertel gidi. Ek is seker die Husky-man sal weer terugkom. Ek glo dit beteken vir hom iets dat jy daar is vir hom as hy jou nodig het – en nie net as ‘n veearts nie.

  2. Was gister weer vir eerste maal self by veearts met baba hond. Nadat ek so amper 2 jaar terug ons gesinsvriend moes neem op sy laaste tog, wou ek nie weer daar kom….

  3. Mense maak baie keer ‘n nuwe begin by ‘n nuwe veearts na so ‘n gebeurtenis, juis omdat dit so moeilik is om terug te gaan na daardie plek waar herinneringe nog sterk terugkom. Hoop jou nuwe asempie bring net vreugde.

  4. Dankie MK. Dit is so ‘n moeilike besluit, want dis ‘n grys area. Maar dit is een van die belangrikste dinge wat jy vir jou goeie maat kan doen as die tyd daar is.

  5. Sjoe… dit maak my nou sommer hartseer.. ek moes ook laasjaar my eerste eie maatjie groet en my hart was baie seer maar ek kon dit nie eintlik wys nie… my hart was self maar op daardie stadium diep onder sagte doeke weggesteek oor al die verliese wat ons aan dierbares gelei het…Mooi pos!x

    1. @tina10 Hallo Tina. Dis vir my baie interessant dat jy dit raakgelees het. Dis tog ‘n ou ou stukkie? Ek het dit wel gisteraand oopgemaak om te kyk of ek dit in Engels kan vertaal vir my ander blog. Ek sukkel natuurlik baie om dieselfde geselstrant in Engels te skep.

  6. O tog, hoe verskriklik seer is my hart nou – en ek dink dis meer oor die Husky-man self as oor sy liewe ou honne…

  7. Ek gaan die week my kleintjie laat uitsit…ek weet nie meer hoe om haar te hanteer nie. Sy is al blind en doen al haar toiletries in die huis, net waar en wanneer die behoefte voorkom. Ons het vir Matilda sowat 15 jaar gelede gekry, toe was sy al oud, reken ons.

    My hart is seer, maar sy kan nie meer eet nie.
    Gotta do what’s gotta be done…

    Snik..

    1. @loudavisi
      Naand Lou, ja vir alles is daar ‘n tyd. Wanneer jy in jou hart weet dis tyd sal jou kop wel volg. Is haar lewe die moeite werd om te leef? Sal sy jou bedank as sy kon?

      Dis niks lekker nie, ek weet.

      Sterkte.

  8. Hoorhier….ek het nou kom soek na ‘n inskrywing wat jy ‘n ruk terug gemaak het, maar kon dit nou nie opspoor nie. Eintlik wou ek vir jou hierdie link gee as kommentaar daarby: http://brainrants.wordpress.com/2012/02/09/the-investigation-of-my-sleep-continued/

    Vat dan gerus ook die ou se skakels na sy vroëre inskrywings daaroor, en hierdie ene van gister:
    http://brainrants.wordpress.com/2013/02/20/autotopic-the-minimum-amount-of-sleep-you-can-get-by-on/

    Ek geniet hierdie man se inskrywing altyd erg baie {-;

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s