Utrecht

Op Woensdag 16 Junie het ek oorgevlieg Amsterdam toe en gedurende die middag die stad so ‘n bietjie verken. Die meeste konferensiegangers sou eers die Donderdag arriveer, maar ‘n klompie van ons moes baie vroeg die Donderdagoggend die trein haal Utrecht toe. In die spitstyd moes ons soms hard stoei om op die regte trein of bus te klim. Utrecht Universiteit is ‘n massiewe plek, en die Veeartsenykunde Fakulteit het ‘n baie goeie reputasie. Dit was sommer heel vroeg al goed warm, en die laboratorium waar hulle die wetlab vir ons aangebied het was nie lugverkoel nie. Die tema van die dag? Tandheelkunde in katte.

Ek woon baie kursusse by, maar was jare laas op ‘n universiteitskampus. Na middagete in die kafeteria sit ons luilekker op die bankies met medestudente en kuier. Snaaks hoe herrineringe aan my eie studentedae op Onderstepoort weer springlewendig in my opstaan. Gemengde gevoelens. Enersyds is ek diep dankbaar dat daar nie ‘n eksamen om die draai is nie. En andersyds mis ek die sorgvrye dae.

Laat die middag was ons terug in Amsterdam en moes spring om deur die stort te kom en aangetrek vir die aand se verwelkomingsdinee. Ek bly maar altyd in die goedkoop hotelle, want die konferensies word aangebied in vyfsterpaleise wat heeltemal bo my vuurmaakplek is. ‘n Mens spandeer in elk geval die minimum tyd in jou kamer. Hierdie jaar was dit die Grand Hotel Krasnapolsky op Dam Plein. Wat ‘n heerlikheid om na ‘n jaar weer ou vriende raak te loop van oral oor die wêreld, en dan weer ‘n paar nuwes te ontmoet. Na die ete sit ‘n groepie van ons af om Amsterdam bietjie te verken. Ons gids, Jörg, weet van ‘n lekker kafeetjie, waar selfone verbied word, en lekker mellow musiek speel. So sit een Suid-Afrikaner, 3 Duitsers en een (baie vliegvoos) Japanner om ‘n tafel die tyd en verwyl.

En dan stap ons weer deur die soel nanagluggie terug, waar musiek uit ‘n dosyn kafees sypel. By die brug draai my kamerade af en ek gaan alleen verder langs die grag af tot by my hotelletjie, op met ‘n baie steil trap, terug na ‘n tweede verdiepingkamertjie met ‘n dun matrassie en ‘n ekstra hoë plafon. Gistermiddag het ek nogal gewonder watse soeterige wierokerige reuk in die lug hang. Nou is ek 24 uur langer hier en wonder glad nie meer nie. In seker dele van die stad is daar “Coffee Shops” en dieselfde reuk hang daar rond…

Die volgende dag begin die konferensie in alle erns.

From 2010-06-17 – Utrecht
From 2010-06-17 – Utrecht
From 2010-06-17 – Utrecht
From 2010-06-17 – Utrecht
From 2010-06-17 – Utrecht
From 2010-06-17 – Utrecht
From 2010-06-17 – Utrecht
From 2010-06-17 – Utrecht
From 2010-06-17 – Utrecht
Advertisements

7 thoughts on “Utrecht

  1. Lekker om ‘Afrikaans’ te lees daar. Sjoe, daai trap!! Gelukkig het jy darem seker net ‘n ligte tassie by jou. Geniet Amsterdam, dis so mooi. Ek het eenkeer my alie af verdwaal daar rondom die Damplein. Alles lyk so dieselfde.

  2. Sal definitief teruggaan Amsterdam toe. So baie om te sien en doen waarvoor daar nie tyd was nie. Maar die volgende konferensie is in Vienna. Ek het klaar geboek.

  3. Ja ‘n mens se oor raak vinnig gewoond aan die Hollands. Hulle dink natuurlik “wat leuke taaltje” as hulle ons hoor praat en dink ons taal is argaïes. Ek dink weer hulle taal is outyds. Snaaks né.

  4. Weens verskeie redes word dit moeiliker om met al jou vriende kontak te hou, en sulke geleenthede is so kosbaar. Dan is daar altyd ‘n glasie bier om te probeer in elke nuwe stad.

  5. …en die “Coffee Shops” in Nederland is anders as in Suid-Afrika, nê?? ….. anderster koffie daar?

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s