Where is the giant eagle?

‘n Vyfjarige seun neem vinnig aanloop oor die grasperk, spring dan in die lug terwyl sy arms by sy ore verby woerwoer, en maak ‘n splitsekonde later hard met moeder aarde kennis. Vir ‘n hele paar oomblikke lê hy daar, terwyl die sonbesiesang al hoe meer intens in die netjies geknipte heining dreun, en die reuk van natgereënde gras in sy neusgate opslaan. Dan staan hy half bedremmeld op en sleep sy kaal voete oor die koelte van die voorstoep by die oop voordeur in.

 

-oo0oo-

 

Dis die jaar 1969, en hier in Bothashof, Rhodesië, het ons televisie. Dis hier waar ek en my driejarige sussie skemeraand kom sit om die Flintstones te kyk, al is dit in swart en wit. Dan is daar ook cowboys en crooks, bietjie later in die aand, na die nuus. Een keer het die cowboys sommer baie van die crooks doodgeskiet, dat hulle so agteroor van die fort se mure afval. My pa het so ewe vir Enita die huishulp gesê om tog seker te maak sy vee die klomp dooies weg agter die TV en sy’t dit heel plegtig gedoen die volgende dag.

 

Dis net hier waar my pogings om te vlieg ook hulle oorsprong het. Want sien, op die TV is daar manne met wit klere wat so baie stadig oor die gras hardloop, met sulke laaaaang treë, dan sweef hulle deur die lug met hulle arms wat sierlik rondom hulle koppe draai, alles asof in ‘n droom in stadige aksie. Ek het male sonder tal probeer om so deur die lug te sweef, natuurlik sonder geluk. Nou, omtrent veertig jaar later, dink ek dit moes krieket gewees het, en miskien was die tegniek van stadige aksie “kyk-weer” ‘n nuwigheid en het hulle dit oor en oor gewys.

 

Van vlieg gepraat, daar was ook natuurlik die maanlanding. Ons het almal kiertsregop voor die TV gesit. Daar was ‘n swart sitkamermat met sulke lang kartelpatrone, waarop ons karretjies mooi kon ry, en ons het gekyk hoe Armstrong en sy pelle op die maan loop, alles weer in stadige aksie. Maar ek dink hierdie keer was dit regtig stadig en hoef hulle dit nie stadiger gemaak het op die TV nie.

 

Dit bring my by die giant eagle. Ek onthou eintlik baie min van die ding. My ma sê die bure het so ‘n groot arend gehad, wat seker maar op ‘n keer weggevlieg het en nie teruggekom het nie. Dis die dat hulle rondgeloop en gevra het of iemand hom dalk gesien het. En heel getrou het die uwe agterna begin sê: “Where is the giant eagle?”

 

Bothashof was ‘n privaatskool naby Salisbury, met ‘n interessante geskiedenis. My ouers het daar gewerk in die laat sestig. Daar was heelwat maatjies wat al in die skool was, terwyl ek eers die volgende jaar met Sub-A sou begin. My een maatjie se naam was Pompie. Ek dink hy was eintlik Braam, so ek weet nie waar die Pompie vandaan kom nie. My ma sê sy ouers was sielkundiges of iets. Ek dink hulle was nogal bietjie anders, want hulle het ‘n nes gehad. Dit was eintlik ‘n baie groot ronde matras op die slaapkamervloer, waar die ma, die pa, Pompie en sy sussie almal geslaap het. Natuurlik het ons kinders almal in die bed tussen die los kussings wegkruipertjie gespeel as ons daar was.

 

Ons grasperk was lekker groot. My pa het ‘n swaai opgesit met ‘n blou ysterraam en twee swaaie. Dan was daar ook ‘n trampolien, sommer so gelyk met die grond gespan oor ‘n gat. Daar het ek ure lank gespeel. My pa was so trots op sy rose. Ek weet baie min van tuinmaak, maar ek onthou die naam van hierdie roos: Papa Meilland. ‘n Diep rooi kleur en ‘n reuk wat jou kan dronk maak. En blykbaar was die grond kleierig en ideaal vir rose. In die skemeraand het ons met blikke parafien geloop om torre te vang wat die rose wou vreet. Uit daardie selfde grond het hy ook reuse patatte gegrawe, ek onthou hy’t dit spesiaal geweeg, en party was meer as ‘n pond.

 

Daar in Bothashof het ek ook mangelontsteking en tragoom gekry. Vir die mangelontsteking moes ek in die bed bly maar ek was verveeld. Toe maar prentjies uit tydskrifte geknip en teen die muur opgeplak. Met spoeg. Sover ek weet is tragoom ‘n oogsiekte wat nog steeds algemeen in Afrika voorkom. Vir my was dit baie erg, want die taai oogsalf moes ‘n paar keer per dag ingesit word en dit was niks lekker nie.

 

Die laat sestigs was ook die tyd van Ian Smith, UDI en sanksies. Blykbaar het die Franse regering dit reggekry om die sanksies te omseil. In die ou Ford fabriek het hulle in die geheim aangehou om motors te bou, en hier teen die einde van 1969 het my pa ook ‘n Peugeot 404 bakkie gekoop. So ‘n witte, met twee vierkantige agtervensters. Hy’t sommer dadelik ‘n staalkappie op die bakkie laat sweis, en staalbankies met deksels wat in ‘n u-vorm reg rondom die kante geloop het. ‘n Hele netbalspan kon daar inpas. Dan was daar ook ‘n plank met klavierskarniere wat kon opvou. As jy hom oor die bankies neersit was hy ‘n lekker stewige bed. Op die plank kom ‘n dik matras, en daar het ons geslaap as ons die lang pad Kaap toe aandurf.

 

In Desember 1969 het my ouers Touwsrivier toe getrek. So dis nou eintlik die storie agter die giant eagle.

 

Tevrede Annemari?

Advertisements

12 thoughts on “Where is the giant eagle?

  1. Towsrivier is naby Worcester waar ek grootgeword net, met die mooiste berge ooit!Ek love daai plek.Dankie vir die skrywe, dis amazing!

  2. Ek’s soms half skrikkerig om te diep in die verlede rond te krap. Maar soms is dit lekker om bietjie saam met die arend te vlieg.

  3. Touwsrivier sub A tot halfpad deur standerd twee. Toe trek my onderwyser ouers Suidwes toe. Ek stem saam oor Touwsrivier. Was so lanklaas daar.

  4. Ek het gelees en gelees. Goed geskryf gidi, en daar is sulke flertsies onthou wat deur my kop waai. Ek wonder darem of iemand toe ooit die blessitse arend gekry het…

  5. Hallo ezile. Lekker om te weet jy skop nog. Ja so is daar vele vraagstukke waarvoor ons seker nooit ‘n antwoord gaan kry nie. Die nuutste vraag: “Where is the England goal keeper?”

  6. On his knees? Ek moet sê, ek het nog nooit in my lewe sokker gekyk nie, en nou kyk ek soveel as wat ek kan en geniet dit vreeslik. Groete van huis tot huis.

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s