Monopoly Projek (1)

So 15 maande gelede ry ons een koue Februarie-oggend verby Marylebone Station, op pad na ‘n kursus in die Russell Hotel (op sigself ‘n wonderlike ou gebou met ‘n interessante geskiedenis.) Terwyl ons wonder hoe mens dit uitspreek (baie weergawes, maar die Londonners s^e “Marley-bon”) merk iemand op dat dit een van die stasies op die Britse Monopoly bord is. Hier word die saadjie gesaai vir die Monopolie projek. Natuurlik het ander mense dit ook al gedoen, en baie beter georganiseer, maar die Gidivet-gesin het nog nooit vantevore daarvan gehoor nie.

Die kinders het ‘n kort vakansie hierdie week, en ons leen iemand se woonsel in London. En hier sit ons in die Rosy Lea Cafe naby Morden Tube Station en beplan ons die dag:

Die hoofstad beleef ‘n mini hittegolf en mense word soos sardientjies op die moltreine ingepak. In hierdie siedende stroom begewe die gidivetters hulle, op hulle nuutste kruisvaart. Trafalgar Square word die eerste stop. Hier moet ons later in die week terugkom om vir nuwe paspoorte aansoek te doen. Dis ook weer ‘n ander storie. Maar vandag kan ‘n mens hier rondloop sonder ‘n hoed of sambreel, en slaak Lord Nelson ‘n sug van verligting. Want sien, mens mag nie meer die duiwe voer nie, en hulle het ander weivelde gaan soek. So word die eerste dag ‘n heen-en-weer tussen stasies, op-en-af met die roltrappe en kruis-en-dwars oor strate en pleine heen. Trafalgar Square, Strand, Regent Street, Picadilly, dan piekniek in St James’s Park. Tussen die reuse bome is daar genoeg plek vir die honderde mense wat die meeste van die son maak. Duidelik is daar tussen die massa toeriste ook

kantoorwerkers wat hulle kosbare middagpouse hier kom verwyl. Net agter ons, oorkant die Duke of York Column, is die Royal Artillery Boer War Memorial. Die straat langs ons (The Mall) is met reuse Union vlae gedrapeer, seker iets te make met die onlangse parlementsopening. Verder af in die park blink die meer, en vir ontluikende fotograwe is dit maklik om binne sentimeters van die gewillige eende en ganse te kom. Al langs die meer af, verby die soveelste roomysstalletjie, en dan steek ons weer die Mall oor om by Marlborough Road op te gaan.

Marlborough Road lei tot by Pall Mall, waar die hitte die teer laat smelt. Dan maar liewer weer ‘n moltrein vang tot op die plek waar die hele gekke projek begin het: Marylebone Station.

Wel, hier moet ons eers halt roep.

Word vervolg…

Advertisements

15 thoughts on “Monopoly Projek (1)

  1. Wat ‘n goeie idee om so saam as gesin so ‘n projek aan te pak. Dis pret en die kinders leer iets daaruit. Mooi foto’s!

  2. Jy dink aan Mayfair en Park Lane. Ja ons het plekke gesien wat mens nie normaalweg sou besoek nie.

  3. Wat ‘n uitstekende idee!!!! Ek dink nou gaan ons dit ook een of ander tyd doen. En London se parke is vir my wonderlik in die somer!

  4. Hallo Miernes. Dit het drie dae geneem, en ons het nog ‘n paar om te doen. ‘n Mens het nogal stamina nodig hiervoor! Die projek het ons by baie interessante plekke uitgebring wat ons nooit andersins sou ontdek nie.

  5. Die oorspronklike Monopoly was Amerikaans, en daar is sedertdien baie plaaslike weergawes geproduseer.

  6. Iemand het ‘n looproete gemaak. Hulle beweer dis net 15 myl, maar daar is baie dinge wat jou verhoed om dit in ‘n enkele dag klaar te maak, veral die interessante goed wat jy op pad sien.

  7. Hi MK. Ja die Lakes kan nie kers vashou by Skotland vir visuele impak nie, maar soos elke plek het dit weer sy eie unieke bekoring. Jy moet natuurlik ‘n rukkie daar spandeer sodat dit onder jou vel kan inkruip. (Volgende vakansie?) Ek hoop hulle was dol by die werk! Ek was ‘n week af en gaan more terug om te sien hoe dit gegaan het.

  8. Die Russel Hotel. Soveel herinneringe wat daar vashaak. Die Russel Sq tube was my afklim stasie werk toe.

  9. Baie mooi area. Ek het in die British Museum se fantastiese Great Court vasgehaak, en nie juis verder gekom nie. Die argitektuur is so ongelooflik.

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s