‘n Nuwe hoofstuk

My vennoot is terug in die Vrystaat. Iewers sis ‘n steak op ‘n rooster. Iewers knak ‘n bier. Dit word my vertel. Dalk is mieliestronke daarby betrokke. Hoe sal ek nou weet. Maar terug is hy, sak en pak, en hier in my voorkamer sit ‘n leersitkamerstel wat nie in die treklorrie kon inpas nie. Twee handige oondbakke om twee jaar se vennootskap te versinnebeeld.

Dit word lente hier, maar daar is min blomme. Alles het vanjaar swaargekry weens die strawwe winter, bolle het seker doodgevries. Die paadjie hoofkantoor toe gaan deur duimhoogte jong graan, wit en blou wolke jaag hulle skaduwees al oor die landerye en op die horison wei resiesperde. ‘n Lieflike oop semi-sonskyndag. Tussen al die kontrakte wat ons teken is daar ‘n uurtjie vry en stap ek die heuwels in. In die verte woer die windopwekkers.

Voor my strek die teerpad uit, een motorwydte, met gate in waar die ys hom geknou het.

Een oorblewende praktyk, een eienaar, enkelbaanpad.

Hmmm.

31 thoughts on “‘n Nuwe hoofstuk

  1. My wêreld, daar is toe sowaar potholes in Engeland ook…Baie sterkte met die alleenpraktyk, Gidivet.

  2. Gelukkig het julle darem krag van die windturbines, maar die slaggate is deel van die klein probleempies van die lewe.Die pad is oop vorentoe.

  3. Slaggate is hier baie, op die teer paaie en metafories. Die windopwekkers is vir baie mense ‘n steen des aanstoots. “Nimby-ism” seëvier. (Not-in-my-back-yard). My kamera kan nie ‘n pad weerstaan nie. Daar is vir my iets dromerigs aan ‘n pad wat so om ‘n draai wegraak. Ek sal jou laaste punt as profeties aanvaar – dankie.

  4. therina daar kan darem nog nie ‘n hele kar wegraak in ons slaggate nie. Dankie vir die sukseswense – ek eien myself elke goeie wens toe.

  5. Haai Annemari, daar is op ‘n manier. Dit is natuurlik nog steeds ‘n “Joint Venture” en daar is mense wat seker maak my alleenpaadjie maak nie te veel kronkels nie. Die ondersteuning is belangrik. En hulle is ‘n top span.

  6. MK ek dink nie dis ‘n kwessie van “ooit ontmoet” nie, dis sterk op my agenda. Ek lag vir jou waterbuffel, ens. Sal jou ‘n PM stuur.

  7. DK – ja, mooi wêreld, nie ver van Oxford af nie – die vallei van die resiesperd, noem hulle dit.

  8. Daai foto’s lyk heeltemal te veel soos die hoëveld. Behalwe vir die rooktorings, i.p.v. die windlaaiers.

  9. Ja, nogal, veral omdat alles nog ‘n bietjie bruin is na die winter. Ek is nogal lief vir hierdie kleure, omdat my herinner aan die huis.

  10. Goeiemôre Ludwig, wat ‘n verassing. Ek was bietjie skaars die laaste tyd. Sal by jou kom opvang. Ja ek glo ek is sterk genoeg, en ek het goeie ondersteuning.

  11. Dis baie mooi daar by julle al is dit koud….Moenie dat jou vennoot se terugkom jou pootjie nie. Kom kuier liewer maar net as jy verlang….. Ek weet nie of ek dalk net ‘n bietjie swartgallig is nie, maar dinge lyk nie baie goed hier in ons land nie…. Die nuus laat dinge maar donker lyk hier by ons op die oomblik.

  12. Hallo Joanna. My familie in Pretoria is ook maar ‘n bietjie pessimisties. Hulle praat oor die toenemende korrupsie. Groete.

Leave a reply to gidivet Cancel reply