Swart hond

Die swart hond. Dis wat Winston Churchill hom genoem het. Vreesaanjaende ding as hy in jou agterplaas in die half-maanlig rondsluip. Dit laat jou kopvel kriewel en die koue sweet in jou nek afloop. Veral as hy nog hier by die kombuisdeur kom snuffel en jy weet sy maters staan by die voordeur en wag dat jy gek raak en sommer halsoorkop uithardloop in hulle oop kake in. Hulle speel hierdie sielkundige speletjie met jou.

‘n Hele paar van my naby familielede en vriende het die swart hond se aanslag nie oorleef nie. Tragiese grepe uit my verlede, sommige studente in hulle fleur. Intelligent, talentvol. Die wat uitgestyg het. Sinneloos.

En hier sit ek weer Donderdagaand saam met ‘n pel van my en drink ‘n bier. Hý is op vrugtesap, want alkohol werk nie mooi saam met sy medikasie nie. Hy sukkel al ‘n halwe leeftyd met hierdie ongedierte. Soms is hy weke van die werk af, soms gaan dit weer goed. Sy gesin ondersteun hom, maar vir hulle is dit altyd ‘n bron van kommer. Ons praat oor hierdie nagmerrie wat hom so bloots ry, hierdie spook wat mens nie sommer net kan besweer nie. Blykbaar help oefening. Dit doen hy gereeld. Dit is ook goed om met vriende uit te gaan en jou nie toe te skulp in jou donker wêreld nie. Mens moet dit by die naam noem en daaroor praat. Dis ‘n siekte, ‘n “dis-ease”. Iets wat nie reg en gemaklik en lekker is nie. Snaaks dat ons nie maklik daaroor praat nie, maar ons deel graag ons ervaringe oor soolvratte, blindederms, selfs kanker en hartsiekte, terwyl die swart hond in die donker moet rondsluip.

Vir meeste van ons is dit maar net ‘n hond. Canis lupus familiaris. ‘n Makgemaakte en oor millenia geteelde afstammeling van die wolf. Jy kan hom maak sit in die hoek en wag vir sy kos. Jy kan hom (spreekwoordelik) met ‘n stok slaan of in die ribbes skop. Jy kan die een miljoen kerskrag soeklig op hom skyn en hom in sy spore laat vries. As jy wil kan jy hom laat voertsek, of dalk rasionaliseer soos samuhr, met sy aweregse humorsin.

Die meeste van ons sukkel soms om perspektief te behou in donker tye. Dis nou wanneer jy oorwerk, vrot van die skuld, in ‘n liefdelose verhouding, vereensaam en verworpe op die ashoop gaan sit. Jy sit daar en dink dis dalk beter dat jy nie meer aanhou lewe nie. Jy kan dalk net ry tot by Beachy Head en afspring in die see. En tog kan jy opstaan van hierdie ashoop af, jouself regruk en in die sonlig uitstap om weer voluit te lewe. Meestal. Maar ek praat nie vanaand van hierdie tydelike soort neerslagtigheid nie, maar van kliniese depressie.

Dan is daar my geliefdes wat nie kon opstaan nie, naby vriende wat in sak en as bly lewe, wat hierdie hond nie van die deur af kan wegjaag nie.

Ek dink vanaand aan julle. 

33 thoughts on “Swart hond

  1. Jis pel thanx vir hierdie great inskrywing. Ek het dit vanaand nodig gehad. Tussen al die kakgepratery hier het jy nou vir my iets beteken. Ek was/is/was/is ook deur daai brak bygekom.

  2. Dankie vir die inskrywing.Hartman se altyd as ek neig om die swarthond te voer, staan net op en was die vloer of iets!Besig bly help vir my.

  3. Dankie vir die kommentaar Ockert, en ek’s bly dit kom vir jou iets beteken. ‘n Mens voel so magteloos om jou vriende so te sien swaar kry.

  4. Gelukkig is dié van ons wat die ou dierasie kan weggejaag kry. My vriend sê die medikasie help, maar dit kom nie sonder ‘n prys nie. En dit vat so lank om te weet of dit gaan help. Dankie Ghaap.

  5. Lou, ek’s bly jy kan jouself uit die terneergedruktheid opwerk. Ek’s bly ek kan dit doen. Ek’s só dankbaar dit het ons gesin nie getref nie. Maar dit het só naby gekom. ‘n Neef (net ‘n bietjie jonger as ek, en nog op skool), en ‘n ander neef se vrou (baie ouer as ek, meer my ouers se portuur), my beste pel op universiteit se meisie.

  6. Therina, die laaste ding wat iemand met kliniese depressie wil hoor, is “ruk jou reg”. Dis so goed soos om vir ‘n man met ‘n kankergewas op sy arm te sê, “skud dit af!”. ‘n Mens moet hom aanvat op alle vlakke, met medikasie, maar ook met ondersteuning van mense wat verstaan en nie veroordeel nie, en soos jy sê, met gebed.

  7. Jy’s laat wakker. Pasop vir daardie hond die tyd van die nag. Groete en ‘n mooi week vir jou.

  8. Jy’s baie reg, min slaap maak nogal slapende swart honde wakker.Lekker week vir jou ook.

  9. Ek het so swart hond. Hy dra permanent ‘n halsband, en ek het hom geleer ‘sit’…en hy lê maar altyd by my voete…Goeie pos, Gidivet.

  10. Dankie samuhr, ek waardeer jou opinie! My kop is bietjie plat vir filosofeer, maar met ‘n bier kan mens dit dalk bybring. Maar nou moet jy ophou dreig en op ‘n vliegtuig klim!

  11. Gidi, die swart hond is ‘n vreeslike ding. Twee keer moes ek met medikasie gehelp word om hom af te skud. Dit was toe ek nog jonk was. Laat twintigs, en middel dertigs. Toe het ek iets geleer van die swart hond. As hy jou het, kom jy nie vanself los nie. Nie sommer nie. Maar jy kan uit sy kake bly deur negatiewe gedagtes te verban soos hulle opkom, en te vervang met positiewes. Dit kos oefening. Mens kan soms faal, maar as volhou, leer jy dit aan en jy lag vir hom. Simpatie met en oor jou vriende. Dis vreeslik as ‘n mens die stryd verloor! Ek het amper. En ‘n jong familielid het….Kyk op my blog – daar is ‘n mooi vertelling oor diere waarvan jy sal hou. “Anderkant die Kriebosskerm.”

  12. Dankie Joanna – ek sal gaan loer op jou blog, dis hoog tyd dat ek weer daar opvang. Ek belowe dat my volgende possie ‘n bietjie ligter sal wees.

  13. Sterkte met die swart hond G! Ken hom ook persoonlik goed maar kan vandag net dankie sê dat ek bevoorreg genoeg was om hom vroegtydig te herken en hulp te soek voordat ek op so baie vreugdes moes uitmis..Daar kom dae wat dit ‘werk’ is om hom in sy hok te hou…maar dan probeer ek iets doen waarvan ek regtig hou en moker hom eenvoudig met mening terug tot in sy hok. Ek weet – dit is beslis nie altyd maklik nie – ek val ook soms maar wonder bo wonder bemoei Hy Hom met my en ek kry weer van êrens af die krag om op te staan….Sterkte!

  14. Hallo Foxy. Ek is ook dankbaar dat ek hom meestal in sy hok kan hou. Dit help om besig te bly.

  15. Ek dink dat meer mense hierdie swart hond aanhou as wat ons dink. Waneer ek Psalms lees, wonder ek of Dawid nie ‘n bipolar was nie, en ek se dit met respek. Dit is altyd ‘n oorlog om die tussenlyn te hou. Ag, ek hoop ek se al die goed reg in Die Taal. Stuur jou baie warm groete.

Leave a reply to gidivet Cancel reply