Marazion

Cornwall is Engeland se linkergroottoon. En reg in die waai van die toon, soos ‘n sierlike soolvrat, sit Saint Michael’s Mount. Die Engelse beskou dit as die kroonjuweel van Cornwall. 

So ‘n paar weke gelede doen ons ‘n blitsbesoekie aan Cornwall. As jy hierbo op die kaart kyk, sal jy sien waar Portsmouth is. Ons bly net so ‘n entjie daarvandaan. So al met die kus af neem dit omtrent 6 ure om tot by Saint Michaels Mount te ry. Die naaste groterige dorp is Penzance, en ons gaan tuis in die Godolphin Arms, ‘n kleinerige hotel op die rotse gebou in Marazion. Vanuit die suidelike vensters kan ‘n mens uitkyk op Saint Michael’s Mount. Daar is ‘n “causeway” gebou tot by die eiland, en vir ‘n paar minute tydens die laagste stukkie van laagwater kan ‘n mens gou-gou oorstap soontoe. Maar jy moet jou stap ken.

Net ‘n paar myl verder wes lê Lands End. Tydens ons eerste besoek aan Engeland, amper 20 jaar gelede, het hierdie windverwaaide stukkie rots aan die verste punt van Engeland ons soos ‘n magneet aangetrek. Dit het nogal iets in gemeen met Kaappunt. Die wind hou byvoorbeeld amper nooit op met waai nie. 

Hier onder is ‘n lugfoto van Marazion en Saint Michael’s Mount.

Wat maak ‘n mens hierdie tyd van die jaar in Cornwall, wanneer jy omtrent nie kan regop loop in die wind nie en die reën van onder af onder jou hoed probeer inkruip? Wel, jy probeer die hoogseisoen vermy, want dan kan jy maar net sowel by die huis gebly het so krioel dit van die besoekers. By Okehampton stop al die grootpaaie, en dan is dit meestal klein enkelpaadjies wat al die derduisende voertuie moet hanteer.

Maar Cornwall is pragtig, winter of somer. En so in die laagseisoen kry ons ‘n dakkamer, met ‘n aparte kamer vir die seuns, en elke venster kyk uit op die see. Die hoofslaapkamer se venster is ‘n groot patryspoort, met ‘n ongeëwenaarde uitsig op die eiland, en op ‘n wilde stormagtige nag slaan die branders net hier onder jou teen die muur vas. Jy kan maar net sowel op ‘n skip wees.

In die foto hieronder kan jy die ronde slaapkamervenster sien.

As jy jouself lekker warm toewikkel en op die strand gaan loop lyk dit so:

As jou bandwydte dit toelaat kan jy sien hoe die branders hier onder die badkamervenster vasslaan.

Waar in die wêreld kan jy in jou hotelbadkamer staan en half seesiek begin voel?

11 thoughts on “Marazion

  1. Jong jy wikkel warm toe en dan is dit ok.En dis pragtig as die son uitkom en die wind bietjie gaan lê.O ja, en dankie vir die sterretjies.

  2. Hallo DK. Geniet jou luilekker vakansie. Dankie vir die kuier hier. Ons straat het al vir ‘n week lank ys op. Brr.

  3. Onderwyser, nee gaats! Die kinders sit my ore aan. Ja ek is nog hier, maar ons is nogal besig by die werk. Julle moet vreeslik lekker kuier.

  4. Hallo Liani MareJammer ek is so skaars. Ja dis ‘n besondere plek, en ‘n mens kan lief word daarvoor. Dis ook nogal afgesonder, en vir ons hier in Sussex voel dit of die tyd stilgestaan het in Cornwall.

  5. Absoluut wonderlik, ek kry ook amper seesiek. Jy het dit baie volledig gedoen, seker ingenieur of wetenskaplike?

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s