Tegnikus

In my eerste jaar op universiteit was Chemie ‘n verpligte vak. Chemie 1B. Net so was daar Fisika, Plantkunde, Dierkunde en Anatomie, en dies meer. Anatomie was die enigste vak wat vir my as veeartsstudent sin gemaak het. Al die ander moes ons maar doen as grondlegging vir die kursus. Nou weet jy hoe ‘n student se kop werk. As jy iets moet doen, sommer net oorlat jy móét, dan wil jy nie eintlik nie. Dan doen jy net genoeg om darem deur te kom. In my geval was Chemie ‘n bietjie anders. Ons het ‘n dosent gehad wat die vak lewendig en interessant gemaak het. Hy was ook meermale bereid om meer tyd oor naweke aan ons klomp af te staan om vir die eksamens voor te berei. Hy het respek afgedwing. Maar dan het hy ons ook gereeld ‘n bietjie gespot. Ek onthou nou nog uitlatings soos: “When you lot want to have musk, you have to organise an expedition to go hunt the musk ox, but we chemists prepare it at the bench.”

Een ding sal my altyd bybly: “Syringe mechanics, that’s what you are. We chemists are the pure/real scientists.” Nou ja, mens kan nie eintlik met so iets stry nie. Ons is allesbehalwe suiwer. In ons eie pidgin Latyn het ons mekaar gereeld herinner: “Manus sempre in excreta.” Deesdae voel dit my dis nie net meer my hand diep in die uitwerpsel nie. Dis sommer ek self, pens en pootjies in die “diep doe-doe”.

My studies het my nie voorberei om ‘n besigheid te bestuur, of mense se werkgewer te wees nie. Ek ken my ambag. Kan ‘n inspuitnaald en skalpel hanteer. Kan selfs kliënte gelukkig hou. Ek praat Engels en Afrikaans vlot, en dan het ek ook ‘n redelike begrip, en ken ‘n paar woorde in Chihuahua, Siamees en Labrador, onder andere. My hele loopbaan trek ek ‘n salaris. Nou moet ek my eie potjie krap. Praat my kollegas van my as hulle baas. Weg is die gemaklike gemeensaamheid van mede-werknemer. Dis nogal ‘n aanpassing om ook jou oog op daaglikse omsette, voetvalle en nuwe registrasies te hou.

Wat maak ‘n mens as jy skielik alles moet doen wat jy vantevore gedoen het, en dan nog twee nuwe rolle moet vervul? Jy werk langer ure. Jy dink dis ‘n grap as jy 9-uur in die aand huis toe gaan en die winkelbestuurder sê: “I see you’re taking a half day today.” Uiteindelik moet iets breek. Gelukkig is daar baie ondersteuning in die organisasie waarvan ek ‘n deel geword het. Ervare bestuurders wat die pad al geloop het.

Onlangs skuif ek toe na ons nuwe tak. Hier is ‘n lekker uitdaging. Daar is wel ‘n padkaart en ‘n plan van aksie. Maar daar is nie uitgetrapte voetpaadjies nie. Nou die dag kom ek op hierdie wyse woorde af op die ZDNet Techrepublic blogs:

“Do everyone a favour and take a few days off”

Klink na ‘n plan. Ek het al bietjie vergeet wat dit is om regtig af te skakel. Maar ek is bereid om te leer.

16 thoughts on “Tegnikus

  1. Dit is nie ongewoon vir mense om aanpassingsprobleme te hê as hulle ewe skielik HR moet doen en ‘n Bestuursposisie moet beklee nie. Dit is ook oor die algemeen nie lekker nie. Meeste mense geniet die tegniese sy van hulle werk (as dit natuurlik hulle passie is), maar sodra ‘n mens opgaan in die hierargie en al die admin bykom raak dit meestal ‘n rompslomp! (Iemand het Vrydag vir my ‘n powerpoint aanbieding gestuur oor ‘n mier wat so fluks was, en hoe die rompslomp hom op die ou einde sy werk gekos het).Ek wens my dogter se chemie dossent wil dit vir hulle ‘n bietjie interessant maak – sy geniet al haar vakke, behalwe chemie!

  2. LOL! “ken ‘n paar woorde in Chihuahua, Siamees en Labrador, onder andere” vreeslik oulik! Vat daai dae Gidivet… dit laat ‘n mens se hart en siel en lyf mekaar weer ontmoet 🙂

  3. ‘We chemists are the real/pure scientists’.Die hele fauna en flora van die kosmos bestaan uit chemiese verbindings, die Wonder Chemiese Molekule–DNS.

  4. Ja-nee, dis duidelik, jy brand nou die kers aan albei kante….en ja, mens kan dit doen, MITS jy GEREELD ‘n bietjie tyd afvat en iets doen wat jou heeltemal laat afskakel. En gereeld is EEN NAWEEK ‘n maand en ‘n WEEK weg elke drie maande. Dan sal jou konsentrasie hou en jy sal jou oog op die bal kan hou. Sterkte, hoor!En dankie vir jou kommentaar op my blog….Groot insig, jy….jy kyk reg in my siel in.

  5. Wou graag vir jou “voorspoed met die afskakel” in Chihuahua sê, maar nou ken jy net ‘n paar woorde. 😉

  6. PinkPolkaDot – Baie dankie, jy beskryf dit so raak. Wat die chemie en enige dergelike vak betref: Die ware begrip en passie ontstaan in die toepassing. As jy nou kon reël dat jou dogter in ‘n regte chemie lab gaan werk in haar vakansie?

  7. DK soos altyd in die kol. Ek werk daaraan, maar om ‘n betroubare locum te kry is ‘n uitdaging. Oeps, hier begin die verskonings al weer. Jammer.

  8. Daar het jy dit. Jy’t gemaak dat ek gou daar by jou gaan lees het. Maar jy’t gewoeker met die bloggery. Baie interessant.

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s